Buffelsfontein skenk geld vir Landbank-ondersoek

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai ontvang ‘n tjek van R10 000 van Meyer Le Roux, eienaar van Buffelsfontein Brandewyn. (Foto: Verskaf)

Saai, die netwerk vir familieboere, het die afgelope paar weke wye belangstelling gewek met sy aksie teen die Landbank. Dié veldtog is vandeesweek op ʼn spits gedryf met die stigting van ʼn ondersoekfonds, en die eerste bydraer was Meyer le Roux, eienaar van die Buffelsfontein-handelsmerk. Hy het in ʼn redelike kort tydperk bekendheid verwerf met sy baardolieprodukte, restaurante en brandewyn.

Tydens sy verteenwoordigersdag in Pretoria het Saai, in die teenwoordigheid van invloedryke boere van regoor Suid-Afrika, dié fonds gestig om die oorsprong van die bewerings oor ongerymdhede wat die Landbank impliseer bloot te lê, asook die impak daarvan op die boere wat slagoffers daarvan was.

Om die fonds op die been te bring het Le Roux as deel van sy #diebuffelsgeeterug-veldtog die eerste R10 000-tjek aan Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, oorhandig.

Le Roux het aan Maroela Media gesê feitlik sy hele familie is familieboere, “en dit breek my hart om te sien hoe ʼn familieboer van sy plaas af gesit word. Ek hoop my bydrae sal ten minste een boer op sy plaas kan hou.”

Buffelsfontein Beesboerdery, Le Roux se restaurant wat in die ooste van Pretoria geleë is, koop ook sy vleis regstreeks by ʼn boer aan en hy sê baie van sy kliënte is familieboere.

Buffelsfontein was ook betrokke by ander aksies soos droogtehulp aan boere in Van Wyksvlei en bystand aan volstruisboere in Oudtshoorn. Hy was ook ʼn borg van die Lamb Champs-dag vroeër vanjaar om skaapboere te help om skaapvleis te bevorder.

Le Roux het Die Koöperasie, ʼn restaurant in Potchefstroom, gekry om R10 000 te skenk, asook die eienaar van Rooibaard-souse en -speserye om R5 000 tot die Landbank-ondersoekfonds by te dra.

Rossouw sê hy hoop dat landbou-ondernemings en banke ook ʼn bydrae tot die fonds sal maak en sekere boere het reeds skenkings belowe.

Saai het ʼn beroep op die Landbank en landbou-ondernemings gedoen om hul samewerking in die ondersoek te gee. “Die Landbank behoort dit te verwelkom dat so ʼn onafhanklike ondersoek moontlike skade aan sy reputasie kan beperk as dit sy verklaring is dat so ʼn ondersoek geen ongerymdhede of misbruik sal uitwys nie,” sê Rossouw.

Bewerings van ongerymdhede is die gevolg van die Landbank se versuim om te voldoen aan die vereistes van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) nadat die Landbank geweier het om op vrae van Saai te reageer. Saai het navraag gedoen oor die Landbank se mandate en prosedures om honderde boere te likwideer vir skuld ter waarde van net ʼn fraksie van die waarde van hulle bates.

Saai bevraagteken ook die optrede en gedrag van die Landbank se agente op plase en die samewerking tussen amptenare, prokureurs, likwidateurs, afslaers en kaders.

Rossouw sê sedert Saai twee weke gelede beswaar gemaak het teen die omvang, prosedures en brutaliteit van die Landbank se likwidasie van boere (wat nie insolvent is nie), het die Landbank konsekwent ontken dat daar enige ongerymdhede of buitengewone optrede van sy kant is. “Die Landbank het egter nie sy aggressiewe likwidasie van boere gestaak nie, en honderde boere getuig dat hulle slagoffers van dié veldtog is of was.

“Saai daag die Landbank uit om self ook ʼn bydrae tot die fonds te maak om die bank se verbintenis tot skoon administrasie en etiese norme in sy sake met boere te bevestig,” voeg Rossouw by.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Dis tyd dat almal wat ons boere ondersteun, oorstaan op ‘n Buffelsfontein!

Jaco ·

Wanneer gaan wit boere wakker word? Bly GEHEEL EN AL weg van staats “hulp”, staatslenings, landbanenings s ens. Dié hulp is NET ‘n rookskerm om die boere wat aansoek doen en wat selfs die “hulp” kry, te lys vir EERSTE die slagoffers wees van onteiening sonder vergoeding. Ek boer nie, maar juis om daardie selfde rede het ek ook nie aan die onlangse sensus deelgeneem nie.

Gaitsigubib ·

Met wat se geld moet n mens jou oes plant? Seker die pak note in jou gatsak? Jy is uiters onrealisties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.