Buitelander met R75 miljoen se dwelms betrap

(Foto: Verskaf)

ʼn 49-jarige buitelander is in Mpumalanga in hegtenis geneem nadat hy met R75 miljoen se dwelms betrap is.

Die Valke se narkotikaburo (Saneb) het inligting oor ʼn vragmotor wat moontlik dwelms vervoer van die polisie op Witrivier se honde-eenheid ontvang en opgevolg, sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke.

“Die Valke se Saneb-eenheid op Secunda het met behulp van Elukwatini se plaaslike kriminele rekordsentrum, die Elukwatini-brandweer en die Badplaas-polisie die geïdentifiseerde vragmotor voorgekeer en na die polisiestasie begelei.”

(Foto: Verskaf)

Die brandweer het gehelp om ʼn versteekte kompartement in die vragmotor oop te maak, waarna 250 sakke met 1 kg-heroïen elk ontdek is. Dit het ʼn geraamde straatwaarde van R75 miljoen, sê Mogale.

Die dwelms, wat vir die internasionale mark bestem was, kom van Mosambiek.

Die vastrek van ʼn vermeende dwelmsmous is te danke aan die samewerking van ʼn span wat Suid-Afrika se polisie en hul eweknieë in Mosambiek en Tanzanië op die been gebring het om heroïen-handel deur die streek te bekamp, sê lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke.

Die verdagte sal na verwagting Woensdag in die Carolina-landdroshof op aanklag van die besit van onwettige dwelms met die doel om dit te versprei, verskyn.

Mogale sê ’n ondersoek is ook van stapel gestuur om vas te stel hoe die vragmotor Suid-Afrika kon binnekom sonder om deeglik by die grens nagegaan te word.

“Die Valke se span vir ernstige georganiseerde misdaad bly daartoe verbind om die verspreiding van onwettige dwelms te ontwrig en te verseker dat diegene wat daarby betrokke is, voor stok gekry word.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Kon nog nooit verstaan hoekom mense die goed in hulle liggaame wil sit? Ek is net te bly om nog elke more wakker te word, daai blou lig te sien en diep asem in te haal. Nou moet ek ‘n naald vat en gemors my liggaam in jaag!

Roek ·

Gelukkig was daar inligting, ek sidder om te dink hoeveel van die goed en wat alles nog in ons land in kom met ons hopelose grens beheer !

Eden ·

Die smokkel van heroïne van Mosambiek is niks nuuts nie. Ek glo die smokkelaar het net nie die “regte” hande geghries nie, gevolglik is hy gevang. Die dwelms gaan heel moontlik uit aanhouding “bevry” word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.