Bumbo sit voet neer oor babastoeltjies

Skermgreep van advertensies verskaf.

Die Advertensiebeheerraad (ARB) waarsku Suid-Afrikaanse verbruikers teen die advertering van die bekende Bumbo-babastoeltjies nadat die handelsmerk hom genader het oor stoeltjies wat op ʼn druppel na sy produk lyk, maar nie onder sy handelsmerk geadverteer word nie.

Die stoeltjies word boonop duurder aanlyn geadverteer.

Bumbo beskuldig onder meer vir Takealot daarvan dat hy misleidend is met sy advertensies. Takealot ontken egter enige skuld aangesien hy – hoewel in sekere opsigte ʼn handelsmerk op sy eie – ʼn platform is waarop derdepartyverkopers hul eie produkinligting kan oplaai.

Takealot meen die skuld moet voor dié verkopers se deur gelê word.

Die klagte

Die ARB sê Bumbo se klagte hou nie verband met een enkele advertensie nie, maar met verskeie advertensies van babastoeltjies soortgelyk aan dié van Bumbo wat op die takealot.com-platform verskyn.

In die advertensies word babastoeltjies in presies dieselfde vorm as dié van Bumbo se stoeltjies geadverteer. Die stoeltjies lyk nes dié van Bumbo, maar alle herkenbare handelsmerke is digitaal verwyder.

Skermgreep van advertensies verskaf.

Volgens die ARB word daar in die advertensies waarteen Bumbo beswaar maak babastoeltjies aangebied wat soos Bumbo-stoeltjies lyk, maar nie oor die amptelike handelsmerk beskik nie. Egte Bumbo-stoeltjies is egter in die meeste gevalle wel afgelewer.

Daar was egter uitsonderings.

In een geval was die produk wat gelewer is, ʼn “anbébé”-stoeltjie wat nie deur die klaer vervaardig is nie. Die produk het ook geen veiligheidsharnas bevat nie, al is dit só geadverteer. Die strepieskode het boonop gelees: Bumbo floor seat mimosa.

Bumbo sê die feit dat een bestelling ʼn “anbébé”-stoeltjie gelewer het, dui daarop dat verbruikers moontlik ʼn heeltemal ander produk ontvang as wat hulle bestel het.

Skermgreep van advertensies verskaf.

Bumbo sê dit is misleidend en die ARB stem in hierdie geval saam.

Bumbo het Takealot genader in die hoop dat die advertensies verwyder word. Takealot het egter aangedui dat die derdepartyverkopers in werklikheid die korrekte adverteerders is wat aanspreeklik behoort gehou te word.

Die ARB het Takealot self ook genader en dié het aangevoer dat hy hom nie aan die ARB se jurisdiksie onderwerp nie. Die platform het ook enige aanspreeklikheid ontken en aangevoer dat Bumbo se besware onder die derdepartyverkopers se aandag gebring moet word.

Die ARB gee toe dat Takealot nie ʼn lid van die direktoraat is nie en hom daarom nie aan sy jurisdiksie hoef te onderwerp nie.

Pryskwessie

Die ARB sê die stoeltjies (sonder die handelsmerk) word bemark met die belofte van afslag. In een voorbeeld wat Bumbo aan die ARB verskaf het, is die geadverteerde prys van ʼn stoeltjie R599, met ʼn nota wat lui dat die stoeltjie aanvanklik R2 000 gekos het.

Ander voorbeelde bied weer bloot die stoeltjies aan teen verskillende pryse wat wissel van R599 tot R1 299.

Bumbo sê dié pryse is “oordrewe, bedrieglik en vals” aangesien die prys van ʼn egte Bumbo-stoeltjie R649 beloop.

Die ARB kon egter geen bevinding maak wat die prys van die produkte betref nie aangesien hy geen jurisdiksie het om Takealot se pryse voor te skryf nie.

“Hipoteties gesproke, staan dit adverteerders vry om hierdie stoele te verkoop teen enige prys wat hulle wil, mits hulle nie verbruikers bedrieg oor die werklike produk wat aangebied word, of oor ʼn afslag op ʼn heersende prys wat blyk nie te bestaan nie. Die vraag of hulle wetlik geregtig is om Bumbo se produkte te verkoop, strek buite die direktoraat se magte,” sê die ARB.

Die ARB gebruik wel die geval om leiding aan sy lede te gee rakende die advertering van sekere handelsmerke se produkte. Hy maan sy lede om versigtig te wees wanneer hulle ander handelsmerke as hul eie adverteer en nie van die standaardprys af te wyk nie.

  • Die ARB sê ook ʼn onlangse soektog van Takealot se webwerf het getoon dat al die Bumbo-sitplekke wat op Takelot geadverteer word in werklikheid deur Bumbo verskaf is. Dit kom dus voor asof Takealot sekere stappe in verband met hierdie kwessie gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

die ARB is ook tandeloos, alle maatskappye moet hulle net onttrek en hul eie ding doen die ARB is elke geval baie keer voorbeoordeeld met vindings.

Retha ·

Goeiste, dis die hoeveelste klagte waar Takealot net die klaer bloot verwys na sy supplier. Vat geen verantwoordelikheid nie. Ek kan nie wag vir Amazon om sy Afrika fasiliteit oop te maak nie. Dan gaan Takealot begin omgee vir sy beeld. Net jammer integriteit sal steeds nul wees.

Janine ·

Hul advertensies wys duidelik wanneer dit van ‘n derde party af kom. Lees maar die hele advertensie in die vervolg.

Frank ·

BAIE van Takealot se advertensies verskaf bloot false of verdraaide inligting terwyl dit al 3 keer gebeur het dat ek iets bestel maar in plek daarvan iets totaal anders en minderwaardig kry. Rapporteer altyd aan Takealot maar lyk nie of hulle juis veel worry nie

Janine ·

Ek koop letterlik elke maand by Takealot, en enige iets wat nie aanvaarbaar is nie, word teruggestuur. Hulle laai dit selfs op.

Karoo ·

Takealot is die middleman en hoef nie “” “due diligence” te doen oor produkte wat hulle tekoop aanbied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.