Bure probeer baba red uit huis

Bure het die kind in die huis hoor huil. (Argieffoto: Unsplash)

Die polisie in Limpopo het die publiek gemaan om nie reg in eie hande te neem nie, nadat inwoners van ʼn nedersetting vergeefs probeer het om ʼn 11 maande oue baba te red wat glo deur sy ma aangerand is.

Brig. Motlafela Mojepelo, polisiewoordvoerder, sê die 42-jarige vrou het haar en haar babaseuntjie glo Sondag in hul huis in die Halambani Tswinganani-nedersetting, in die Tshaulu-polisiëringsgebied, toegesluit en die kind begin slaan.

“Inwoners het die angstige geskreeu van die baba gehoor en hulle na die huis gehaas. Nadat hulle besef het die deur is gesluit, het hulle dit oopgebreek en die ernstig beseerde baba van sy ma gered,” sê Mojapelo.

Die kind is inderhaas na die Lambani-kliniek geneem, maar is by sy aankoms daar dood verklaar.

Volgens Mojapelo is die vrou reeds op aanklag van moord in hegtenis geneem, maar die motief vir die voorval is in hierdie stadium nog onduidelik. Volgens hom vorm moontlike gesinsgeweld deel van die ondersoek.

“Ons rig ʼn skerp waarskuwing aan inwoners van daardie gebied om nie reg in eie hande te neem nie, omdat dit hulle strafregtelik aanspreeklik kan maak. Gee die polisie eerder die ruimte om dié verskriklike voorval op ʼn wettige manier te hanteer,” sê lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pietertjie ·

Ek reken die polisie erken dat hulle eie trae optrede tot boendoe-geweld sal lei, wat nie deur die ma oorleef mag word nie.

Stofdonkie ·

As hulle eers die polisie moes bel sou die baba net vroeër dood gewees het. Ons almal weet hoe lank vat die polisie om te reageer

Tania ·

Mense lees mooi, dit was reg dat almal kind probeer red het! Artikel gaan oor dat mense nie nou die reg in eie hande moet neem om die ma te “straf” nie. Wat ek kan verstaan! Daardie bure moet woedend wees en die ma self wil straf…..

Sêmanet ·

Ek dink nie dis reg in eie hande neem nie. Dis wat enige normale regdenkende mens sou doen. Ek sou daai ma nie eers kans gee om gearresteer te word nie, ek sal haar opfoeter sodat sy wens sy was eerder dood. Jammer maar hulle kon mos nie wag tot die ou dingetjie klaar dood is nie. Of moes hulle ook eerder ‘n selfoonvideo gemaak het.?

Louise ·

Gee die polisie kans om dit op n wettige manier te hanteer, julle maak seker n GRAPPIE!
Dis omdat die kriminele teveel reg in die land het dat dit gaan soos wat dit gaan.
Welgedaan aan hierdie inwoners wat sonder twyfel ingetree het. Julle kort elk n madalje vir julle daad. So jammer die babatjie kon nie gered geword het nie. Mense MOENIE stop intree as julle so iets van bewus is nie. Daai vinnage besluit kan n lewe red!

N ·

Verstaan ek reg? So as jou buurvrou besig is om haar kind dood te slaan en jy kom dit agter moet jy maar net die polisie bel en wag (vir so uur of meer) tot dat hulle die situasie hanteer. As jy kan help om n baba se lewe te spaar moet jy maar weg kyk? Banana Republic.

Madz ·

Dis instink … nie reg in eie hande neem nie! Ag julle SAP maak my SIEK!!! En net in ‘n vorige artikel word “bespiegel” oor die interne VROT van een van die SAP se grootkoppe! Maar natuurlik – vrot kan nie verrot raaksien nie en andersom! “Only in SA…”

Surfer ·

Hoeveel dae ruimte wil die polisie nou he????? Of weke dalk of dalk glad nie??

Cindy ·

dis juis omdat die polisie NIE hul werk doen nie, dat mense die gereg in hul eie hande neem… Kan mens hulle blameer?

Ronel ·

So met ander woorde….. Mens moet polisie bel en wag totdat hulle opdaag. En wag en hoor hoe ‘n huilende baba op een of ander manier ver om sy lewe…… Liewe genade,

Misky ·

Ek het trane in my oë….. ‘n 11 maande oue babatjie….. Sy kan bly wees ek is nie haar buurvrou nie en hulle sou haar lykshuis toe vat en nie selle toe nie

Elize ·

Ek dink hulle was bang hulle slaan die ma dood = reg in eie hande neem.

Sandra ·

Hulle moenie die reg in eie hande neem nie. Dis nou ‘n grap. Dis net ‘n jammerte dat hulle nie betyds die deur oopgebreek het om die baba te red nie. Daaroor is hulle seker verskriklik spyt. As mens altyd moet wag om op te tree as jy so iets hoor, of sien, sal niks goed van dit kom nie. En, as hulle soos ek, ondervinding het van om te probeer om deur te kom na die polisie, dan het hulle in my opinie die regte ding gedoen. Die ma is nou ‘n ander storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.