Burgermonument in Carolina tot volle glorie herstel

Die Burgermonument in Carolina word verskuif na ’n nuwe tuiste na byna drie jaar.

In slegs ’n paar weke het die Carolina-gemeenskap in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) herbou wat jare lank verniel en in stukke was.

Nou, fier en trots op sy nuwe platform voor die NG Kerk Carolina, is hierdie monument ten volle herstel en sal dit op 31 Mei vanjaar onthul word.

Toe die Zuma-optogte in 2021 reg oor die land gewoed het, is hierdie monument verniel en beskadig en is die kop van die standbeeld afgekap. Hierdie monument is opgerig ter herinnering aan die Slag van Spioenkop tydens die Anglo-Boereoorlog, waartydens die Boere swaar verliese gely het.

Charles Rademeyer en Leon Dormel help met die herbou van die monument.

“Uiteindelik, na amper drie jaar, is die beeld tot sy vorige glorie herstel. Die FAK is so dankbaar vir hierdie gemeenskap in Carolina wat so gretig saamgespan het om hierdie projek ’n werklikheid te maak. Weereens sien ons die wonderwerke wat deur die krag van die gemeenskap verrig kan word,” sê Barry Müller, die FAK se hoof van nasionale projekte.

“Op 28 Julie 2021 is die kop op die erf van ’n gastehuis in Carolina ontdek. Sedertdien is die FAK deurlopend besig om te werk aan die permitte en toestemming wat nodig is om die monument te skuif en herstel.”

Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noordelike streke, help met die herstel van die monument.

Müller vertel dat die skade aan die beeld nie net die kop was wat afgekap is nie, maar ook dat die mauser (geweer) en die verkyker wat die figuur vashou, vantevore ook beskadig is.

Die kop en skade aan die standbeeld is herstel deur beeldhouer Jaco van Niekerk, wat met sy kundigheid en talent die skade aan die kop self herstel het en toe die beeld in sy geheel herstel het.

Leonie Marais, die FAK se erfenishulpbronspesialis, het hierdie proses noukeurig gefasiliteer.

Die afbreekproses moes volgens spesifikasies geskied, net soos met die herbou.

Jaco van Niekerk wat die beeld restoureer.

“Dit was nogal uitdagend, want die oorspronklike materiaal is graniet en marmer – dit is baie swaar en vereis dat spesiale masjinerie gebruik word. Dit was egter ’n wonderlike ervaring. Ons was afhanklik van die gemeenskap en die beskikbaarheid van hulpbronne deur die gemeenskap om die projek af te handel, maar dit is juis die ingryping van die gemeenskap en hul bereidwilligheid wat die projek ’n sukses gemaak het,” sê Marais.

Lede uit die Carolina-gemeenskap, soos Leon Dormel, het hulpbronne, tyd en hande beskikbaar gestel vir die skuif en herbou van die monument.

Dormel, die plaaslike kontrakteur in Carolina, woon al byna 25 jaar in die dorp.

Leonie Marais merk die stene om weer op die regte plek herbou te kan word.

“Ek het ’n sagte plekkie vir geskiedenis en veral vir die Boere-oorloë. Toe die geleentheid opduik [om te help], was ek daar. In my lewe het ek nog nooit so iets aangepak nie. Ek is geërd om betrokke te kon wees,” sê Dormel.

EARTH-MACH se vragmotorhyskraan en BuildIt se baksteen-vragmotorhyskraan, wat lede in die gemeenskap vir die projek beskikbaar gestel het, het gesorg dat hierdie projek afgehandel kon word.

Dormel vertel dat die inwoners van die dorp met groot opgewondenheid verneem het van die restourasieproses.

Die FAK bedank die gemeenskap in Carolina en salueer die inwoners wat met soveel bereidwilligheid en diensbaarheid hul erfenis bewaar.

“Weereens bewys die Carolina-gemeenskap dat waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Hierdie gemeenskap het nie toegelaat dat hul erfenis verder geplunder en verwoes word nie, en het die saak in eie hande geneem. Dít is hoe ons Afrikanererfenis in Suid-Afrika gaan red,” sê Müller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk ·

‘n Volk wat sy erfenis skatte verwaarloos gaan self verdwyn.
Welgedaan met die suksesvolle restorasie!!

Papsak ·

Baie dankie maar tyd geword ons beelde moet almal terug gesit word !!!!!

Psyggie ·

Ons kan trots wees op ons ou volkie.
Wat SELF dinge inisieer en doen EN gedoen kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.