Buthelezi vergestalt ‘Zoeloe-Afrikaner-versoening’

Prins Mangosuthu Buthelezi. (Foto: MARCO LONGARI / AFP)

Verskeie Afrikaners het die afgelope week die Voortrekkermonument se besluit om ʼn gedenkdiens vir prins Mangosuthu Buthelezi in die Kruger-galery te hou bevraagteken. Die diens sou oorspronklik in die Senotaafsaal plaasvind.

Kenners wys egter daarop dat die afgestorwe voormalige IVP-leier en tradisionele premier van die Zoeloe-koninkryk ʼn mooi verhouding met Afrikaners gehad het en as versoeningsfiguur dien vir Afrikaners se komplekse geskiedenis met die Zoeloes.

Nadat Buthelezi die afgelope naweek in die ouderdom van 95 oorlede is, het die Voortrekkermonument aangekondig hy sal vir die prins ʼn gedenkdiens hou op dieselfde dag wat sy staatsbegrafnis in Ulundi, KwaZulu-Natal, plaasvind.

Danie Langner, hoof van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), wat die Voortrekkermonument bestuur, het verduidelik dié besluit is eenparig deur die direksie geneem “teen die bepaalde geskiedkundige agtergrond van Afrikaner-en-Zoeloe-verweefdheid”.

Daar is geen bybedoelings nie, verduidelik Langner.

“Die besluit is ook geneem in die gees van die Gelofte, om lig en getuienis te wees.”

Ná die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkerleier Andries Pretorius vrede gemaak met die Zoeloes, wat ook in ʼn friespaneel in die monument uitgebeeld word.

“Sedertdien was daar nog nooit weer ʼn oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie.”

Prins Buthelezi het ook verlede jaar met die onthulling van Shawu, die olifantbeeld deur beeldhouer Danie de Jager in die Trektuinroete, ʼn boodskap aan die Voortrekkermonument gestuur waarin hy klem gelê het op geloof, identiteit en die verhouding met Afrikaners.

“Hy is die enigste Zoeloe wat oor die jare verskoning gevra het vir die moorde op [Piet] Retief en [die moorde gepleeg] by Bloukrans.”

Volgens Langner is die Zoeloes een van die min volke wat hul taal, tradisies en geskiedenis met trots in beskerming neem, wat hulle “belangrike raakvlakke met Afrikaners gee”.

Nog altyd na aan Afrikaners

Dr. Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier en kabinetsminister, meen ook Buthelezi se sienings oor sy eie Zoeloe-kultuur het hom nog altyd naby aan Afrikaners geplaas.

“Buthelezi het homself gesien as gelykertyd ʼn Christen, Zoeloe, Suid-Afrikaner en wêreldburger.”

Mulder beskryf hom ook as ʼn “Victoriaanse jintelman”. “Die ouskool-waardes van hoflikheid en respek was vir hom baie belangrik.”

Omdat kultuur ook vir Buthelezi so belangrik was, het die prins regdeur sy politieke loopbaan federalisme beskou as oplossing vir Suid-Afrika se staatkundige probleme.

Hiervoor is hy oor die jare heen skerp vanuit ANC-geledere gekritiseer en daarvan beskuldig dat hy etnisiteit lewend wil hou, sê Mulder.

“Identiteit is die worsteling wat die ANC nog nooit kon oplos nie.”

In ʼn 2006-Sunday Times-artikel het Buthelezi die belang van sy Zoeloe-kultuur tydens apartheid én post-1994 verdedig:

“Ons etnisiteit is nie deur apartheid uitgevind nie, net daardeur gebruik. Ek het nie Zoeloe-wees geskep nie. Zoeloe-wees het my geskep en dit sal lank voortleef nadat ek weg is.”

Dit is iets waarmee Afrikaners nou ook kan vereenselwig in ʼn bedeling waar ons kultuur gereeld as kapstok teen ons gebruik word, meen Mulder.

Mulder sê hierdie aanvaarding van veelvuldige identiteite het Buthelezi in staat gestel om Suid-Afrika se uitdagings rondom kultuur te help oorkom.

“Hy kon een dag sy tradisionele Zoeloe-klere by die koning se rietdans dra en die volgende dag ʼn pak klere in die parlement. Vir hom was dit nie vreemd om beide te wees nie.”

Volgens Mulder het Buthelezi beslis sy oupa, koning Dinuzulu, se voorbeeld probeer navolg as versoeningsfiguur tussen Afrikaners en Zoeloes.

Koning Dinuzulu het ʼn goeie verhouding met Louis Botha, leier van die ZAR, gehad. Nadat die Engelse Dinuzulu in 1906 in die tronk gegooi het, het Botha hom vrygelaat die oomblik toe hy eersteminister van die Unie van Suid-Afrika in 1910 geword het.

“Buthelezi het deurlopend die Afrikanergeskiedenis erken – die goeie en die slegte.”

Hy het destyds uit eie beweging by die Waarheid-en-versoeningskommissie verskoning gevra vir wat Dingaan aan Piet Retief gedoen het, sê Mulder.

“Hy het dit by verskeie geleenthede daarna spontaan herhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

annie ·

Moenie die geskiedenis verdraai nie? Nogal in die Voortrekker-monument. Wat van ‘n jol waar Mandela as die vader van die Afrikaners vereer word? Malema kan ons lei in gebed.

Danie ·

Ou Annie daardie Voortrekker Monument is eintlik maar n Vrye messelaars monument

houopkruip ·

Stem Annie – ons ou naiewe volkie se geheue is verstommend kort.
WIL nie die geskiedenis onthou nie.
Kruip, kruip, kruip.

Grassie ·

Buthelezi was nie ‘n sleg ou nie. Ek het hom as Gatsha leer ken maar hy het sy naam verander. Hy het net een dag iets gesê wat totaal verkeerd was. Hy het die ANC regering gewaarsku dat as hulle ooit die Afrikaners probeer onderdruk, die Afrikaners in opstand sal kom en die ANC verwoes. Hy het duidelik ons vermoëns oorskat want na alles wat dieANC al aan ons gedoen het kruip ons maar net in ons dop.

Eugene ·

Dit was PikBotha wat hom Gatsha genoem het. Pik het n swart hond gehad met die naam. Mangosuthu het altyd kapsie gemaak daarteen tot groot vermaak van Pik en kie.

Harry ·

I don’t see a problem with this, people who complain are ignorant and probably people who burn books they don’t agree with.

Pieter9 ·

Geluk met die besluit; ‘Salig is die vredemakers hulle sal kinders van God genoem word’…as iemand dink dat die Afrikaners was altyd hierdie foutlose uitverkorenes moet jy bietjie navorsing gaan doen. Daar wag vir jou ‘n groot ontnugtering. Buthelezii het homself as Christen in die openbaar geïdentifiseer en ook deurlopend vrede met die afrikaner gepredik/ aangemoedig en hierdie gedenkdiens gee o.a erkenning aan ‘n medegelowige.

Danie ·

Was n merkwaardige ( Oom ) gewees. Daar in die tagtige jare het hy ronddawel huisie gehad tussen die bosse naby die see by Fairbreeze net so entjie van Gingindlovu af en ek het altyd daar gaan visvang by die Amatikulu mond en hom daar ontmoet. Daar het hy nog opdrag gegee aan van die destydse Zulu polisie om by my te sit op die strand terwyl ek vinger alleen was het daai polisieman gesit en my opgepas en gesorg dat ek veilig was.

Kosie ·

Waaroor wil hulle nou ook nog n gedenkdiens hou, een is mos genoeg, hy het absoluut niks vir die boere beteken nie, julle vra al ewig vir geld om die Monument te onderhou dan mors julle dit op gemors.

Toergids ·

Prins Buthelezi se voorgeslagte Prins Mpande kaSenzangakhona was deur Andries Pretorius gesalf as koning van die AmaZulu. Sien Paneel 24 in die helde saal vir ‘n visuele uitbeelding hiervan

Stephen ·

Ek bespeur n tikkie verkrampheid in sommige van die kommentaar. Baie respek vir hom gehad, en hy het respek vir die Afrikaner gehad.

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie van ons is bloot sinies. Respek help niks. Het hy openlik vir Afrikaners baklei? Wat het hy vir Afrikaners nagelaat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.