Buurtwag help om tikgebruikers, dwelmhandelaar vas te trek

Die buurtwag wys die polisie wat die hommetuig sien (Foto verskaf)

Die AfriForum-buurtwag in Stellenbosch het ’n deurslaggewende rol gespeel in die inhegtenisneming van twee tikgebruikers en ’n dwelmhandelaar nadat dié buurtwag se hommeltuig die verdagtes bespeur het.

Hierdie inhegtenisnemings het op 6 Februarie tussen 22:00 en 04:00 in die Franschhoek- en Simondium-gemeenskappe tydens ’n operasie in samewerking met die Franschhoek- en Groot-Drakenstein-polisiekantore plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se doelwit met hierdie operasie was om misdadigers vas te trek in gebiede waar dwelmhandel en kabeldiefstal hoogty vier.

“Die Stellenbosch-buurtwag se hommeltuigspan, bestaande uit vier lede in dié buurtwag se lugvleuel, het sowat 300 m vanaf elke teikenarea stelling ingeneem en die hommeltuig opgestuur vir ’n verkenningsvlug,” sê Theo Turner, projekte-portefeulje: Stellenbosch-tak. “Nadat die area rondom die teikenarea met die hommeltuig se nagsigkamera verken is, het die SAPD inbeweeg. Tydens die SAPD se patrollie het die hommeltuig in die lug gebly om enige verdagtes te volg en die polisie op hulle spoor te hou. Die oordrag van inligting tussen die hommeltuigspan en die SAPD was baie effektief as gevolg van die nuwe boks wat onlangs vir die hommeltuig aangeskaf is.”

Turner verduidelik hierdie boks, wat lyk soos ’n koffer, is spesiaal gebou om die hommeltuigspan se operasionele doeltreffendheid en uithouvermoë te verbeter. Die boks is deur AfriForum se Stellenbosch-tak gefinansier en deur lede van die buurtwag ontwerp en gebou.

Die buurtwag beman die hommeltuig in die lug (Foto verskaf)

“Die boks beskik oor al die nodige toerusting om die hommeltuig vir ten minste agt ure in die lug te hou. Die boks het voldoende interne ruimte om die hommeltuig, batterye, radio’s, nagsigteleskoop en ander toerusting te stoor. Die boks het ook ’n groot litiumbattery met laaipoorte om die hommeltuig en radio’s se batterye te laai. ’n Groot platskermtelevisie is aan een kant binne die boks gemonteer waarop die hommeltuig se perspektief direk uitgebeeld word. Dit was voorheen moeilik om die taktiese situasie vir die polisie te wys, maar nou kan hulle maklik sien wat die hommeltuig sien.”

Volgens hom was die Stellenbosch-buurtwag baie tevrede met die eerste operasionele ontplooiing van hierdie hommeltuig-boks.

“Die boks het dit moontlik gemaak om die hommeltuig langer in die lug te hou en dus die misdadigers se bewegings te beperk. Die platskermtelevisie het ook kommunikasie en samewerking met die SAPD verbeter. Ontplooiing en demobilisasie van die hommeltuig by elke teikenarea is ook versnel te danke aan die boks. Buiten die inhegtenisnemings wat gemaak is, is die SAPD en die buurtwag se teenwoordigheid in areas wat geteister word deur kabeldiefstal, ook versterk.”

AfriForum se Stellenbosch-buurtwag beskou sy verhouding met die SAPD en ander wetstoepassers in die gemeenskap as prioriteit.

“Daar is ’n groeiende behoefte vir lugverkenning wanneer die SAPD operasies in die gemeenskap uitvoer. Stellenbosch-buurtwag se ondersteuning met die hommeltuig verskerp die SAPD se doeltreffendheid. Die buurtwag se professionele optrede het ook verseker dat hy genader word om betrokke te raak by toekomstige plaaslike SAPD-operasies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie ·

Baie dankie aan die buurt wag maar hoekom het ons polisie nie hierdie moderne hulpmiddels nie. Ek weet daar word gesê daar is nie geld nie maar waarom nie. Swak regering.

Emal ·

Hoogtyd! Gewonder waar is die bekwame mense se inisiatief!
Wat van die BRANDE hier in die Boland?

Cassie Carstens ·

Net in die Weskaap waar sulke samewerking en bystand is. Wat ‘n voorbeeld vir ons powere regering van die dag.

Karoo ·

Baie dankie vir die goeie werk. As dit nie vir die buurtwag was nie… sou dit moontlik nooit gebeur het nie.

Andre ·

…klink alles goed, maar op die einde van die dag wys dit op ‘n SAPD wat nie meer bevoeg is om alleen te werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.