Byna R4,5 miljoen vir Solidariteit Beweging se krisisfonds ingesamel

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit (Foto: Solidariteit/Facebook)

Skenkings aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds, wat gestig is om onder meer kinders en bejaardes met noodvoeding te help, beloop tans al byna R4,5 miljoen.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Maandag aan Maroela Media gesê die organisasie is oorweldig deur mense se bydraes en baie dankbaar dat meer as R4,4 miljoen reeds ingesamel is.

“Dit wys vir ons die harte van gewone mense in hierdie krisistyd en die mooi karakter wat hulle openbaar,” het hy gesê.

Volgens Hermann was die eerste mylpaal vir die krisisfonds R2 miljoen, gebaseer op die R1 miljoen wat Virseker geskenk het. “Ons het dit egter sommer binne die eerste dag gehaal. Ons het toe die mylpaal R3 miljoen gemaak, in die lig dat almal tans swaar kry, maar ons het dit voor die Paasnaweek reeds gehaal. Dit is regtig ʼn stuk genade.”

Hy het gesê dit gebeur binne die konteks van die Paasnaweek wat ʼn tyd van genade en dankbaarheid is.

“Dit het ook gebeur in die tyd wat die afsonderingstydperk verleng is en ons besef dat Covid-19 nog langer met ons gaan wees, selfs al is dit net ʼn gedeeltelike inperking. Die nood word egter groter en duideliker,” het hy bygevoeg. “Soos wat die fonds groei, word die nood ook groter; en soos wat die nood groter word, moet ons ook die mylpaal verskuif. Ons volgende mylpaal is R5 miljoen.”

Die krisisfonds se fokus is om mense by te staan wat in maatskaplike nood verkeer en om kinders met hul skoolwerk in die krisistyd te help. “Weens die verlenging van die afsonderingsperiode het die kennisnood ook radikaal groter geword omdat die skole steeds gesluit is.

“Ons sal ons Wolkskool moet uitbrei en die Wiskunde-klasse ook moet uitbrei – nie net vir matrieks nie, maar ook ander grade. Dit gaan ontwikkelingswerk verg,” het hy verduidelik. Die krisisfonds sal dus ook gebruik word om dié nood aan te spreek.

“Ons helpmekaardag was nie net ʼn enkele dag nie, dit was net die begin. Ons wil graag die klem lê op die krag van bietjies. Dit is klein bedrae wat uiteindelik ʼn groot bedrag beteken.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jaco ·

Voordat almal nou te bly raak oor hierdie fonds van Solidariteit, kyk asseblief net eers na die volgende scenario:
-‘n Klein relatief wit besigheid word na die lockdown hulp deur die staat geweier, omdat BEE en regstellende aksie nie reg daar toegepas word nie
-die besigheid doen aansoek by solidariteit se fonds en kom met daardie geld weer op sy voete
-direk na lockdown moes die besigheid egter van sy swart werkers afdank omdat daar te min werk was
-So nou gaan kla daardie werkers by die CCMA en die CCMA beboet daardie besigheid en dwing hulle om daardie werkers weer in diens te neem. Boetes oor verkeerde regstellende aksie en te min BEE word ook gegee
-Uiteindelik vou die besigheid nog steeds…

Sarel ·

BEE kan menige besighede laat sink, maar Jaco beteken dit nou ons moet hulp & bydraes staak?
Pasop in kommentare op vorige berigte het mense hierdie fonds verwar met Regering se ” Solidarity fund”

Alet ·

Ons besigheid is besig om te vou want niemand will ons help nie…..Een man besigheid om sy familie aan die lewe te hou.

Fedup ·

Ja. Nee. Ek sien die comment section is bietjie kriewelrig. So ek gaan dit nou maar tog sê. Hoeveel armoedige suid afrikaners gaan regtig gehelp word? Tantrums werk nie by my nie.

Willem ·

Kan solidariteit nie ń fonds stig om die jong wit kleinsake manne te help nie

Maria M S ·

Baie dankie Solidariteit, altyd tot hulp vir ons mense.
My beskeie mening : die regering noem met opset ook sy fonds Solidariteit/Solidarity om mense te verwar en uit onkunde te skenk, menende dis Solidariteit se fonds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.