Carike Keuzenkamp: ‘Ek is geseënd’

Carike keuzenkamp en haar man, Olaus van Zyl op hul troudag. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse sangeres Carike Keuzenkamp het besluit om nie meer enige musiek te maak nie. Dié 72-jarige sangeres het die hoogtepunte van haar loopbaan en lewe met Maroela Media gedeel.

Haar roemryke loopbaan het gedurende haar studentejare aan die Universiteit van Pretoria (UP) begin waar sy onderwys en tale gestudeer het. In 1967 is sy as joolkoningin van die UP aangewys.

“Ek was oral in die kollig, dit was moeilik vir my om op daardie ouderdom die faam te hanteer,” sê die “Byeboerwa”-sangeres.

Nie lank daarna nie en sy word ʼn rol aangebied in die rolprent Die professor en die prikkelpop. In die rolprent sing sy die liedjie “Timothy”, wat haar sangloopbaan ʼn hupstoot gee. Dit is in dié tyd wat sy haar aanstaande man, Olaus van Zyl, ontmoet.

“Ons het ontmoet gedurende ʼn uitstappie waarop ons as huiskomiteelede eerstejaarstudente moes vergesel. Ons het nie veel met mekaar gesels daardie dag nie, maar hy het my wel ʼn dag of wat later geskakel. In daardie dae was daar nie selfone nie, net die tiekieboks in die koshuisgang en die eerstejaars het telefoondiens gedoen,” vertel sy.

Met ʼn skaam glimlag onthou sy hoe sy ná klas ʼn nota op haar kamerdeur gevind het wat sê dat ʼn man haar geskakel het. “Daar was geen naam of besonderhede nie,” vertel die “Hoeka Toeka”‑ sangeres. So vind ʼn hele paar notas hulle weg na haar deur, van die onbekende man wat weer en weer gebel het. “Uiteindelik is ek eendag in die koshuis toe hy bel. In my opgewondenheid blaker ek uit: Is jy die ou wat so chronies bel?” Die herinnering laat haar effens bloos.

Sy het hom toe een Saterdag as haar metgesel na ʼn vriendin se troue genooi, waar sy moes sing. Die twee het glo onmiddellik gekliek en binne twee maande pryk daar ʼn verloofring aan haar vinger. Op 13 Julie 1968, skaars ses maande later, stap die stralende jong bruid die paadjie af kansel toe. Hulle is later geseën met drie pragtige kinders, ʼn seun en twee dogters.

Carike keuzenkamp en haar man, Olaus van Zyl. Foto: Adéle Changuion

Vandag bly Werner in Pretoria, Carla in Amerika en Maryke in Kaapstad. Sy is nou ook ʼn trotse ouma van agt.

Vir nege jaar bied Keuzenkamp die gewilde SAUK‑televisieprogram Kraaines aan en kruip só in duisende kleuters se harte.  Sy reik ook ʼn verskeidenheid kinderalbums uit, wat liedjies soos die gewilde “Heidi” insluit. Keuzenkamp is suksesvol en reik letterlik jaarliks ʼn nuwe album uit.  “Daardie tyd nog langspeelplate,” lag sy.

In 1996 verskyn ʼn donker wolk op die horison toe sy met borskanker gediagnoseer word. In die 16 jaar wat volg, verloor sy albei borste. Vandag is sy egter steeds in remissie. “Dit was moeilik, baie moeilik, maar ek is daardeur.”

Sy is dankbaar vir al die ondersteuning wat sy in die moeilike tye van haar familie, vriende en aanhangers ontvang het.

Ná haar laaste album in 2015 besluit Keuzenkamp “genoeg is genoeg” en besluit om “af te tree en te rus”. Sy het wel nog enkele optredes behartig en die Ghoempie-CD en -DVD vrygestel.

Keuzenkamp sê sy het nooit nodig gehad om “regtig te werk nie, want my man was nog altyd die broodwinner”. “Ek was geseënd om al die jare te kon doen waarvan ek hou.” Die “Oukraalliedjie”-sangeres sê sy het nog nooit regtig van optredes gehou nie. “Ek is mos maar nog altyd ʼn studio-meisie.”

Ná 45 jaar verhuis Keuzenkamp en Van Zyl na ʼn nuwe huis, nie te ver van die ou een in Randburg nie. Hulle skrop nou al drie jaar saam aan die nuwe Kraaines.

Baie mense is onbewus van die feit dat Van Zyl, ʼn ingenieur, die meesterbrein was agter Suid-Afrika se eie Gautrein. “Hy het aande om gewerk om vir my te kan sorg. Hy kyk baie mooi na my,” sê Keuzenkamp oor Van Zyl wat ʼn jaar gelede ook afgetree het.

Ná meer as vyf dekades in die kollig, het Keuzenkamp besluit dit is finaal tyd om die wêreld vol te kerjakker saam met haar lang, maer blonde man. “Ons pak net ons tasse en gaan waar ook al ons wil. Ons verdien dit, my man veral,” sê sy beskeie.

Omrede Keuzenkamp nie meer albums gaan uitreik nie, spog sy nou ook met ʼn amptelike YouTube-kanaal. Al haar musiek word hier opgelaai. Die kanaal is glo deur die platemaatskappy Sony op die been gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

simone venter ·

Sterkte vorentoe Carike en Olaus. Dankie dat jy jou musiek met ons gedeel het. Geniet julle gesamentlike aftrede!

Thomas ·

Sy is Afrikana vir my (nie-polities gesproke). Statig, geen skandes, pragtige stem en las daarby – beeldskoon! Haar man kort ook erkenning. It takes two to tango. Hollywood kan lesse neem!

Nico ·

Carika jou man moet vir jou n William Webb Ellis trofee gee vir uitnemendheid.

Oom Frans ·

Ek was 1e jaar toe jy joolkoningin was.Jy word net mooier deur die jare (innerlik en uiterlik) en is ‘n S.A. ikoon.

Pierre ·

Baie dankie vir Tannie se mooi musiek, en geniet tannie se aftrede. En dankie ook toe Tannie ons as troepe ondersteun het.

Elvira ·

Dit was n voorreg om na jou musiek te luister. Mooi loop vorentoe.

Ook daardeur ·

Carika – ek weet waardeur jy is met jou borskanker. Ek is ook daardeur en net gesê dit sal my nie onderkry nie. Is baie positief en alle dank aan ons Hemelse Vader wat my geloof versterk het.

Sterkte aan al die dames wat dieselfde paadjie loop.

Moenie gaan sit en ophou lewe nie. Daar is hoop.

Margaret Schoeman ·

Carika, jy is ‘n legende en ék is oneindig trots op jou. Mx ????

Elize ·

Vir my die mooiste, elegantste, vroulikste vrou ooit. Min dames lyk op 50 soos sy op 72. Dankie vir jare se vermaak en ek bid hul het sëen toe.

Cherokee ·

Brandon Nel, jy oordryf hopeloos wanneer jy vertel van ‘ ‘n skaam glimlag’ en later weer van ‘ ‘n effense blos’ want daai vroumens het geen rede om skaam te wees of om te bloos nie. Sy is selfs pragtiger as haar melodiese stem wat my vir vele jare bekoor.

Lollie ·

Pragtige mens! Geniet julle lewe vorentoe. Dankie vir alles wat julle vir die publiek gegee het.
Altyd stylvol en altyd ń glimlag selfs toe sy deur moeilike tye gegaan het. Niks kry haar onder nie en ons kan iets by haar leer.

Elvira ·

Dit was n voorreg om na jou musiek te luister. Mooi loop vorentoe.

Suid-Afrikaner ·

Dankie vir jou bydrae aan die Afrikaanse samelewing. Jy is mooi van binne en dit straal uit na buite. Jy is een van daardie min dames wat net mooier word met ouderdom. Stekte vir julle toekoms

Amy ·

Geniet die aftrede Carike. xx
Jy was en sal altyd my sangheldin wees.
MM; net gou ‘n korreksie: Carike het agt kleinkinders en nie ses nie.

George ·

Ons almal kan maar van haar leer. Baie dankie en voorspoed verder

AJ ·

Dankie Carike, en lekker kuier tussen die kinders en seen met julle beplande reise. Dankie Olaf vir jou bydra aan Gauteng en hier by Randburg vir ons gebou en bestuur het saam jou span. Groete

Corine Metcalf ·

Baie dankie Carike vir jou bydrae tot ons Afrikaanse musiek. Ek is al lank ‘n groot bewonderaar van jou. Ek wens jou mooi lewensjare toe gevul met liefde, geluk, voorspoed en mooi gesondheid toe. ????????????

Louw ·

My vrou het haar eendag verskriklik geskaam vir my ma se opmerking. Hulle was in Cresta winkelsentrum en Carike het langs haar gestaan om te betaal. Toe pomp my ma vir vroulief in die ribbes en se kyk net hoe maar is sy. Sy kan doen met ‘n bietjie gewig.

Lynette ·

Carike, ons gaan jou mis. Jy is wonderlike persoon, binne en buite, n Hart van Goud . My een kleindogter kyk graag jou liedjies op YouTube, as sy jou sien sing dan sê sy “Ouma” Heidi.

Heksie ·

Dankie Tannie Carike vir soveel jare wat jy ons jou beste gegee het in sang en musiek.
Geniet die aftrede!

LK ·

Tannie Carike, jy sal altyd vir my die mooiste sangeres bly. Ek onthou toe ek eendag by die musiek studio in Delarey was om vir jou ‘n briefie te gee. ‘n Ruk later het ek een terug ontvang, ek kon dit nie glo nie. Ek het nog steeds my kraaines langspeelplaat. Mag dit altyd met jou goed gaan.

Anoniem ·

Nog al die jare was sy en Rina Hugo vir my die 2 pragtigste vroue.

Jacqueline ·

Geniet julle aftrede en dankie vir die liedjie Joli Jacqueline – ek is vernoem na daai liedtjie – gebore 1977.
Ek ek onthou nog Bennie Boekwurm :-)
xxxxx

Anne-Marie ·

Die beste sangeres ooit…Stylvol en waardig en dankie vir die mooi voorbeeld wat jy en jou man oor jare heen gestel het…Timothy was my uitverkorene toe ek maar ‘n st sessie in die Hoërskool was en het ek dit nogsteeds in in ‘n 7-single”…en al jou langspeelplate …ek is klein bietjie jonger as jy maar jy staan uit bo baie Geniet jou aftrede saam jou geliefdes en mag jy nog lank gespaar bly met goeie gesondheid Carika

VanAfrika ·

Baie dankie Carika, jy het verouder soos n goeie bottle wyn. Jou optredes en jou sang sal legendaries bly. Simôn sal altyd my gunsteling liedtjie bly, dit was jou beste liedtjie ooit.
Geniet julle aftrede en ons gaan jou baie mis. Gooi maar n paar fotos diekant toe van al julle toekomstige “travelings deur die wêreld.

Isabel ·

Sjoe ek is 48 jaar oud en sit nou met trane in my oe. Carika jy was so n groot deel van my grootword jare. Baie dankie vir fantastiese herinerings. Geniet julle aftrede.

Jo-anne ·

Geniet die aftrede. Jy verdien dit! Pragtige mens – binne en buite!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.