Carrol Boyes sterf

Carrol Boyes. (Foto: Verskaf)

Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar en ontwerper, Carrol Boyes, het Woensdagaand gesterf.

Michelé Stuurman, ʼn woordvoerder van die Carrol Boyes-maatskappy, het die nuus aan Maroela Media bevestig. Volgens Stuurman het Boyes (65) gisteraand gesterf ná ʼn kort siekte. Meer inligting oor die aard van haar siekte is nie bekendgemaak nie.

Boyes was ʼn ikoniese Suid-Afrikaanse ontwerper veral bekend vir haar luukse huis- en leefstylprodukte. Sy het haar maatskappy in 1991 op die been gebring en vinnig naam gemaak vir haar ongewone en pragtige funksionele kunswerk. Haar ontwerpe is oor die hele Suid-Afrika verkoop, maar ook in 30 ander lande versprei.

ʼn Kenmerkende Carrol Boyes-produk. (Foto: carrolboyes.com)

Stuurman sê almal by die Carrol Boyes-maatskappy is platgeslaan deur die nuus oor haar dood. “Carrol het lewens op soveel maniere verryk. Sy het ʼn onkonvensionele benadering tot die sakewêreld gehad en haar boodskap aan haar personeel was: ‘Ek het soveel pret saam met julle gehad en julle het my lewe ongelooflik verryk. Onthou asseblief dat ons dinge anders doen hier. Moet nooit gewoon wees nie – wees buitengewoon en gooi elke nou en dan so ʼn bietjie stoutgeit by om aan die lag te bly. Moet nooit jul sin vir humor verloor nie.’”

Stuurman sê Boyes sal onthou word vir haar lewensverhaal, haar liefde en haar prettige kreatiwiteit. “Sy verlaat ons met ʼn nalatenskap van uitnemendheid, eenheid, bemagtiging en baanbrekende funksionele kuns. Sy sal baie gemis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Francois ·

Hartseer nuus. Sy was ‘n ware ikoniese kunstenares wat produkte van wêreldgehalte ontwerp en vervaardig het. Sy was n briljante mens wat styl en goeie smaak tot die volgende vlak gevat het. Rus in Vrede.

Sy het ons almal net vooruitgegaan. Die lewe is kortstondig. Sterkte aan die geliefdes en die wat agterbly.

Lizzie Robinson ·

Baie jammer oor Carrol se heengaan. Sterkte aan haar familie en almal by die fabriek. Ek dink met ‘n seer hart aan julle. Was bevoorreg om haar te ken. Lizzie????

Jammer ·

Sjoe, daar was nou onlangs ‘n artikel oor haar in Huisgenoot maar toe geen sprake van enige siekte. Dit laat mens weer besef hoe vinnig jy kan gaan.

Lee ·

Rus in Vrede Carrol Boyes. Ikoniese vrou. Het darem so paar van haar skeppings. Sterkte aan die familie en vriende xx

Blackie ·

Ek het gereeld koffie gedrink uit een van haar bekers. Rus in Vrede Carrol. Jy was ‘n absolute inspirasie. Baie sterkte aan familie, vriende en kollegas.

Lizzie Robinson ·

Baie jammer oor Carrol se heengaan. Sterkte aan haar familie en almal by die fabriek. Ek dink met ‘n seer hart aan julle. Was bevoorreg om haar te ken. Lizzie

Marlene ·

My dogters en ek is groot bewonderaars van haar pragtige talent, werk en produkte. Sy laat ‘n pragtige nagedagtenis na wat ander se lewe verryk het. Ons opregte innige simpatie aan haar familie en vriende.

Steven ·

Groot ikoon in ons kuns wêreld. Haar werk was van internasionale waarde. RIP

Agie ·

Jinne Nienie maar jys nuuskierig. Sê eerder iets soos. RIV en sterkte aan haar familie.

Inamarie van Schalkwyk ·

Ek kon nog nooit haar goed bekostig nie. sterkte aan haar gesin

Iggie ·

Baie skokkende nuus, ek het van haar koffiebekers en lepels, sy was in n anner klas!!

Bleek Willem ·

Ek drink Lion bier sommer so uit daai 750ml “quart” bottels uit. Hulle maak hom nog nie in liters nie..

As ek my bier neersit om my wors te wissel kom my lah-di-dah Carrol Boyes bottelstopper met mooi kaalbas vrou bo-op sodat ‘n vlieg nie per abuis inval nie.

Dankie vir wat jy gedoen het Carrol.

Carrol Boyes, ‘n Spesiale Mens ·

Carrol Boyes was ‘n baie talentvolle en spesiale mens. Haar styl en elegansie wat sy vergestalt het in haar produkte van hoogstaande kwaliteit het, en sal nog vir baie jare plesier verskaf aan baie mense.

Bleek Willem ek sê ook soos jy dankie aan die besondere kreatiewe mens Carrol Boyes.

Rus in Vrede.

Susna ·

Baie hartseer nuus. Ek en my dogters het graag vele van haar kreatiewe ontwerpe versamel. Ek kan nog so goed onthou toe sy besluit het om al haar aandag voltyds aan dit wat sy geniet het te skenk. Dinamies en Talentvol sal sy onthou word. RIV Carrol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.