Cele: ‘Ek sal waai as…’

Minister Bheki Cele. (Foto: Siya Duda)

Bheki Cele, minister van polisie, meen hy doen goeie werk en dat hy geen planne het om te bedank nie tensy hy gevra word om dit te doen.

“Ek glo dat as iemand dit beter kan doen, moet hulle dit kom doen … Die president hoef my nie eers te vra om te bedank nie, hy kan net vir my sê om te gaan en ek sal gaan … met ’n glimlag,” het Cele in ’n onderhoud met JJ Tabane op die eNCA-program Power to Truth gesê.

Cele meen hy het die nodige ondervinding om in die pos te wees aangesien hy ook vroeër nasionale polisiekommissaris was.

Opposisiepartye het vroeër versoek dat Cele volgende in die pad gesteek moet word nadat genl. Khehla Sitole se dienskontrak as nasionale polisiekommissaris vroeër beëindig is.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, het gesê sy party voer al lank aan dat daar eenvoudig geen regverdige rede is om Cele in die kabinet te hou nie. “Die SAPD, onder die toesig van Cele as minister, is besig om die oorlog teen geweldsmisdaad te verloor.”

Cele en Sitole se openbare twis wys ook op Cele se swak leierskapsvermoë en ondermyn doeltreffende polisiëring, meen Whitfield.

Dit is egter Cele se hantering van verlede jaar se geweldpleging en onluste in KwaZulu-Natal wat hom opnuut in die spervuur laat beland het.

“Die paneel kundiges se verslag oor die Julie-onrus het bevind dat die veiligheidsgroepering, waarvan die polisie ’n sleutelkomponent is, nie betyds op die onrus gereageer het nie. In plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar vir die versuim om lewens en eiendom wat tydens die onrus verlore gegaan het te beskerm, het Cele verkies om die blaamspeletjie te speel en het die skuld op alles en almal behalwe homself gepak vir hierdie skreiende mislukking.”

Die EFF en VF Plus het ook versoek dat Cele gepos moet word. “Die rede hiervoor is dat Cele die rol van kommissaris wil speel, hoewel hy ’n politikus en geensins ’n ervare en kundige polisieman is nie,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Whitfield meen daar is ook verskeie ander redes hoekom Cele uit sy pos verwyder moet word, onder meer die ontwapening van burgers, die DNS-agterstand, versuim om ’n doeltreffende landelike veiligheidsplan in werking te stel en die chaos binne misdaadintelligensiestrukture.

“Cele kan klaarblyklik nie as die leier in Suid-Afrika se stryd teen misdaad beskou word nie; hy is eerder ’n produk van die ANC se kaderontplooiing en politieke perdehandel. Hy moet waai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Cele meen hy doen goeie werk? Hy weet duidelik nie van beter nie. Hierdie man is baie snaaks.

Marina ·

Ag asb, wat doen hy goed … meer sleg as goed as jy my vra en die probleem is net dat as hy loop hy nog sy volle salaris sal kry.

SjN ·

Geen vorige polisie ondervinding, kader aanstelling, trek slegs reuse salaris.

Jannie van Niekerk ·

Geagte meneer Cele: Ek glo weer daar is 100 miljard mense wat die werk beter as u kan doen maar dan moet hulle NIE aan die ANC, EFF, SAKP, COSATU , GOOD of een van daardie organisasies behoort nie. Een persoon wat die werk BESLIS een miljoen keer beter as u kan doen, is u grootste vyand, Genl Ockert Teblanche van die DA. Hy het destyds geweier om korrup te wees toe u as Kommissaris hom onwettige huuropdragte gegee het.

Genis ·

Moet asb nie dat die groetery jou ophou nie…hamba baba…

Porseleintjie ·

Jy is reg cele, jy doen goeie werk. Afbrekende werk. Niemand kan dit beter doen as jy nie. Kyk net die misdaad verval in Suid Afrika met jou aan die stuur van sake. Al die syfers pragtig in die rooi. Jy is ‘n meester man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.