Centurion kry dalk krag voor Kersfees

Herstelwerk word nog by die Kloofsig-substasie gedoen. (Foto: City of Tshwane/Facebook)

Inwoners van Lyttelton en Kloofsig in Centurion sal dalk nog krag kan hê voordat Kersvader die geskenke onder die Kersboom neersit.

Die Stad Tshwane het Vrydag bevestig dat hy op koers is om teen vanmiddag kragtoevoer na verbruikers te herstel.

Altesaam 2 400 gesinne is sedert Woensdag sonder krag gelaat nadat die Kloofsig-substasie aan die brand geraak het. Die oorsaak van hierdie brand is steeds nie bekend nie.

ʼn Groot aantal van die inwoners se kragtoevoer is reeds vroegvanoggend herstel.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die tegniese spanne het in rekordtyd gewerk om nuwe toerusting te bekom, asook die kabels by die Kloofsig- én die Barnardpark-substasie uit te grawe, te identifiseer en die werk af te handel.

“Die span is van die Barnard-substasie af gestuur om toetse uit te voer op die kabels wat foute tussen Fonteine en Unitas gehad het,” sê hy.

“Sodra hierdie kabels geïsoleer is, sal die skakelspan begin om geleidelik krag na die geraakte gebiede te herstel. Hierdie proses sal na verwagting voor vanaand afgehandel word.”

Bokaba sê ondanks die aantal uitdagings wat Tshwane se elektrisiteitsinfrastruktuur die afgelope tyd ondervind het, is dit te danke aan die toewyding en professionaliteit van almal betrokke dat gebruikers nie dié Kersfees in die donkerte gaan deurbring nie.

“Ons wil graag weer die inwoners van Centurion om verskoning vra vir die ongerief wat veroorsaak is.”

Egpaar sit hand by

Die egpaar van Lyttelton. (Foto: City of Tshwane/Facebook)

ʼn Egpaar van Lyttelton, wat ook deur hierdie kragonderbreking geraak is, het intussen hul harte en hande oopgemaak vir die werkers by die Kloofsig-substasie.

Volgens die Stad Tshwane het Johan Bauer en sy vrou Donderdag middagete by die substasie aan werkers voorsien.

Bokaba sê van die werkers het op daardie tydstip vir langer as 48 uur gewerk om kragtoevoer na al die verbruikers te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.