Chaos op talle paaie weens opstande in vragvervoerbedryf

Groot verkeersopeenhopings is veroorsaak. (Foto: Rob Beezy/Twitter)

Minstens 20 mense is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem in verband met betogings in die vragmotorbedryf.

“Polisie-operasies op alle groot roetes en bekende brandpunte in die provinsie is verskerp en ons is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag vir diegene wat beweer hulle betoog, maar dan misdaad pleeg,” het lt.genl. Khombinkosi Jula, polisiehoof in KwaZulu-Natal, gesê.

Verskeie voorvalle van geweld in die vragmotorbedryf is die naweek aangemeld. Daar was ook dreigemente dat daar vandag wéér betogings oor probleme in die bedryf gaan wees.

In een van die voorvalle is ʼn vragmotor Sondagaand buite Paarl in die Wes-Kaap aan die brand gesteek. Luidens berigte is klippe op die R301 gepak, wat die bestuurder gedwing het om stil te hou. Die vragmotor is daarna glo aan die brand gesteek.

Die Wes-Kaapse polisie het by navraag gesê hulle is bewus van die voorval, maar dat ʼn klagte nie daaroor aangemeld is nie.

In KwaZulu-Natal het 11 vragmotorbestuurders Sondagmiddag paaie na die Richardsbaai-hawe versper. Die polisie het die vragmotorbestuurders opgespoor en in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en die belemmering van verkeer, het brig. Jay Naicker, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, gesê.

Van die items waarop beslag gelê is. (Foto: SA Polisie)

Sondagaand is nóg vier mense naby Malvern in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en 15 koeëls. Hulle het ook drie bottels met petrol, sewe selfone en ʼn paar handskoene by hulle gehad, het Naicker gesê. Die polisie het beslag gelê op die voertuig waarin hulle gereis het en die ondersoek na hulle moontlike betrokkenheid by ander misdaad word ondersoek.

Die polisie het Maandag in die vroeë oggendure ook vyf mense naby Estcourt in die provinsie in hegtenis geneem, nadat die voertuig waarin hulle gereis het, glo verbind is met ʼn vorige voorval waar ʼn vragmotor aan die brand gesteek is. Die vyf het houers met petrol by hulle gehad. “Hulle word by die Estcourt-polisiestasie aangehou op aanklag van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging,” het Naicker gesê.

Vanoggend is verkeer naby Stellenbosch hewig ontwrig toe ʼn vragmotor klaarblyklik verlate op die R300 gelos is. Dit het die pad versper en daar was geen teken van die bestuurder nie, het die Wes-Kaapse verkeerspolisie gesê.

Die vragmotor is laatoggend weggesleep en word geskut, het Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeerspolisiehoof, gesê. Verkeer op die N2 was egter steeds bitter stadig.

Die M9 was egter tussen Baden Powellrylaan en die N2 gesluit, nadat vragmotorbestuurders sand op die pad uitgegooi het, het Africa gesê.

Die Du Toitskloof-tonnel is ook gesluit nadat ʼn vragmotor klaarblyklik tussen die tolhek en die tonnel aan die brand gesteek is.

Die ministers van indiensneming en arbeid, polisie, vervoer, asook binnelandse sake het gisteraand intussen inderhaas vergader om terugvoer te kry oor die situasie in die bedryf, asook om moontlike langtermynoplossings te bespreek.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat Suid-Afrika nie ʼn xenofobiese land is nie en dat wie ook al die wet oortree, daarvoor sal boet,” het die ministers in die verklaring gesê.

Die verenigings vir vragmotorbestuurders in die vrag- en logistieke sektor het hulself die naweek van die beplande staking gedistansieer.

Dít nadat inligting en kennisgewings op sosiale media versprei is waarin beweer word dat buitelandse vragmotorbestuurders vandag aangeval gaan word as hulle op Suid-Afrika se paaie ry. Sommige van die boodskappe beweer ook dat ʼn voedsel- en steenkooltekort in Suid-Afrika sal ontstaan omdat vragmotors verhoed gaan word om die land binne te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Michael P ·

Shoe.!!!Die regering moet baie trots voel op hierdie dag.

Kolskoot ·

Die belasting betaler word onder druk gesit om die land op te bou maar ander breek dit weer af hierdie staking sal nie die laaste wees nie .

marous ·

En so begin dit , met geen einde in sig nie . Dis die waarheid.

sweis ·

Die minister sê sa is nie n xenofobiese land nie nou hoe verklaar hy dat sy regering wetgewing het om van sy burgers ,die wit minderheid te beperk en teen te diskrimineer net gebaseer op hulle velkleur.

DG ·

Die Polisie beskik nie meer oor behoorlike misdaadintelligensie wat pro-aktiewe optrede teen enige misdaad in die land beduidend moontlik maak nie. Die hele regstelsel is nie meer gerat om voorkomend op te tree nie. Hierdie geweld en plundery op die vragmotorvervoer bedryf is nou al so lank aan die gang dat dit ‘n alledaagse geword het. Die skade wat dit aan die ekonomie aanrig is alreeds byna onmeetbaar. Die vakbonde se hand in die geweldpleging ooral in die land word gerieflikheidshalwe oor die hoof gesien. Die “panick mechanics” het ‘n fees van ‘n tyd in die sosiale media en help ook nie juis om enige lig in die tonnel raak te sien nie. O aarde tog, die donkerte!

Asmain ·

More is almal uit of borg van R100 en daarna hoor ons nooit weer van die saak nie….nog minder van n skuldigbevinding + vonnis.

Karolis ·

“The people shall govern” …. pleks laat hulle dit eerder oor aan die mense wat dit voorheen goed gedoen het.

Right said Fred ·

“Suid-Afrika is nie ‘n Xenofobiese land nie” – grap van die week.

HEKSIE ·

10/10 anc! Julle het julself oor en oor bewys die afgelope 25 jaar, hoop julle voel baie trots op wat julle bereik het! Ons mooie land is in sy maai!

Gert van Wierdapark ·

Alles danksy die top Kakistokrasie in die Heelal!

Pottie ·

Dit is die probleem lou hulle is in die meerderheid jy weet mos hoe dink hulle die anc deel net weer kos pakkies uit dan stem die klomp weer vir hulle dit is hoekom die anc die klomp van zimbabwe hier hou want hulle stem mos ook vir die anc ons sit met n groot probleem en praat gaan ons niks help nie

Nel ·

Ek kry nie my kop om die feit hoe ‘n land se leier oorsese konferensies kan bywoon en dit nogal konferensies wat om wêreldekonomie, politiek en veiligheidskwessies gaan terwyl sy eie land besig is om te brand nie… wat vertel/lieg die man vir die beraadgangers – belê en julle beleggings sal ”sky high” dividende oplewer???

Carel Pienaar ·

Ek dog dis net onware gerugte oor die betogings wat vandag wel plaasgevind het. Waar is ons misdaad intelligensie mense wat die dinge moet optel voor dit gebeur?

Louw ·

Dis mos die wonderlike Nuwe Souff Effrika. Het iemand dan iets beters verwag?

KrokodilBotha ·

Mense raak gewoond aan die ware Afrika. Met jou volgende vakansie gaan kuier oor die grens noord. Dis ons voorland. Wet en orde was laas in omtrent 1994. Toe kon jou vrou of kind nog dinge doen soos gaan fliek,veilig by die skool wees, uitbly, rondloop ensv. Dis lankal verby. As jy vandag nog staat maak op drome ,of die staat en dink hulle is gepla oor onluste. Maak vir jou n koffie en sit en dink.

hercu ·

as ek kyk na die definisies vir terrorisme en anargie het die ANC regering die afgelope 25 jaar in beide 100% geslaag!

hulle is seker baie trots op hulself!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.