Charlize Theron gekap oor Afrikaans-uitlatings

Charlize Theron (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto)

Die aktrise Charlize Theron het haar skerp kritiek op die hals gehaal nadat sy tydens ʼn podsendingonderhoud uitlatings oor Afrikaans gemaak het.

Theron het tydens ʼn onderhoud met die podsendingkanaal SmartLess onder meer gesê daar is net sowat 44 mense wat nog Afrikaans in Suid-Afrika praat, dat die taal aan die uitsterf is en dat dit “nie ʼn baie nuttige taal is nie”.

Tydens die onderhoud sê Theron dat Afrikaans sy herkoms het van verskeie tale, waaronder “Nederlands en Duits”, maar dat Suid-Afrikaners die taal verbaster het.

Volgens Theron het sy nie regtig Engels gepraat voor sy op 19-jarige ouderdom na Los Angeles gevlieg het om ʼn akteur te word nie en moes sy die taal van voor af aanleer toe sy in Hollywood begin werk het.

Theron se uitlatings is hoofsaaklik met woede op sosiale media begroet. Sommige gebruikers het Theron probeer reghelp rakende die ware stand van Afrikaans en hoeveel mense dit praat, terwyl ander in plein Afrikaans vir Theron gesê het wat hulle van haar en haar uitlatings dink.

Die rolprentvervaardiger Tim Theron was een van diegene wat op Theron se uitlatings reageer het.

“As Suid-Afrikaners is ons baie trots op Charlize en alles wat sy bereik het … maar ons is ook baie trots op ons diversiteit en ons wonderlike en pragtige amptelike tale, waarvan Afrikaans een is,” het Tim op die podsendingkanaal se Instagram-profiel geskryf.

“Dit is nie ʼn taal wat aan die uitsterf is nie, en dit word nie net deur 44 mense gepraat nie. Dit word deur miljoene mense gepraat, daar word elke dag nuwe liedjies en gedigte geskryf, flieks gemaak, en so meer. Dit is ʼn taal met sy wortels in verskeie tale en kulture, waaronder Nederlands, Maleis, Indonesies en ons inheemse San-tale. Net ter kennisname.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.