Chembe skuldig bevind in aanrandingsaak

Zander Oosthuizen (Foto: AfriForum privaatvervolgingseenheid)

Oupa Chembe (52) het Maandag in die Krugersdorp-landdroshof skuld beken op ’n klag van aanranding op Zander Oosthuizen (19).

Oosthuizen was ten tyde van die voorval in September 2021 in sy skoolklere en is klein gebou teenoor Chembe, ’n groot man van byna twee meter lank.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het by die saak betrokke geraak nadat dit geblyk het dat daar tekens van onbehoorlike inmenging by die ondersoek was.

Die beweerde inmenging sluit laataandoproepe aan die klaer in, wat behels dat hy na die polisiestasie moes gaan om die saak te bespreek en selfs “afsprake” met die aanklaer om die saak te “skik”.

“Die saak is ook verskeie kere in die hof uitgestel wat tot verdere frustrasie van regspleging gelei het. Die saak is egter in Julie vanjaar aan adv. Jenna Downs, ’n aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), toegewys wat die saak goed hanteer en vandag uitstekende argumente ter strafverswaring aangevoer het,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Chembe het skuld beken kragtens artikel 112(1)(a) van die Strafproseswet en is ’n boete van R3 000 of gevangenisstraf van drie maande opgelê. Hy sal ook voortaan ’n kriminele rekord hê.

“Ons is verheug dat die saak uiteindelik, ná ’n jaar van frustrasie, op ’n sinvolle wyse afgesluit kon word,” voeg Leask by. “Die feit dat ons kon verseker dat die reg sy gang gaan en kon toesien dat daar gevolge is vir kriminele gedrag, is nie net ’n oorwinning vir die klaer nie, maar ook vir geregtigheid.”

Die ongevraagde aanval het in die parkeerarea van die Key West-winkelsentrum in Krugersdorp plaasgevind en die privaatvervolgingseenheid kon beeldmateriaal van die voorval bekom om die saak teen Chembe te versterk.

Landdros Vivian Hawkins het in haar uitspraak daarop gewys dat die samelewing van mense verwag om hul humeur intoom te hou en dat dit die hof se taak is om die gemeenskap se vertroue in die howe te herstel. Sy het ook gesê dat die hof moet aanvaar dat die voorval trauma vir die klaer veroorsaak het.

“Ek is baie verlig dat die saak uiteindelik verby is,” het Oosthuizen ná die uitspraak gesê. “Dit was vir my belangrik om hierdie saak enduit deur te sien om te verseker dat geregtigheid geskied. Die feit dat die beskuldigde na afloop van die verrigtinge kom om verskoning vra het, het my gehelp om verdere afsluiting te kry. Ek is dankbaar vir die privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid by hierdie saak, omdat hulle seker gemaak het dat dit nie net verdwyn nie.”

Leask voeg by hierdie is ’n sprekende voorbeeld waar ’n klaer en sy familie met ’n verantwoordelikheidsbesef en deursettingsvermoë toegesien het dat geregtigheid geskied. “Daar is vir geen oomblik geskroom om die nodige stappe te doen om die saak te laat voortgaan nie, insluitend die bereidwilligheid om in die hof te getuig.”

V.l.n.r.: Louis Ludick (AfriForum), Thalitha de Jongh (AfriForum), Annge Oosthuizen (ma van klaer), Zander Oosthuizen (klaer), Charl Oosthuizen (pa van klaer) en Andrew Leask (AfriForum).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KhoiKhoi ·

Moet sê dat daar maar verskriklik min media publisiteit oor die saak was.
Wys asb ‘n foto van die veroordeelde.
Boonop maar ‘n ligte straf

Danie ·

Hy was baie gelukkig om afriforum aan sy sy te he.Weereens n bewys dat die regstelsel in SA nie vertrou kan word nie.

Veronika ·

Hy het gedink hy gaan deur te intimideer daarmee wegkom! Goed so! Weereens dankie Afriforum!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.