Cholera in SA opgemerk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Insung Yoon / Unsplash)

Die nasionale departement van gesondheid het Sondag versoek dat Suid-Afrikaners op hul hoede moet wees ná twee gevalle van cholera in die land opgemerk is. Die twee pasiënte is susters wat in Januarie per bus na Malawi gereis het om ʼn begrafnis by te woon. Hulle het op 20 Januarie teruggekeer na hul woning in Johannesburg, waarna hulle simptome begin toon het.

“Een van die pasiënte het kort daarna by ʼn plaaslike kliniek aangemeld en is in die hospitaal opgeneem. Haar suster het by navraag gesê dat sy ook diarree ontwikkel het op pad terug van Malawi, maar sedertdien herstel het,” het die departement gesê.

ʼn Familielid van die susters wat in dieselfde huis woon, het boonop op 4 Februarie mediese hulp gesoek weens diarree en ontwatering en is ook intussen in die hospitaal opgeneem. “Die moontlikheid bestaan dat hierdie persoon ook cholera onder lede het, maar die toetsuitslag is nog uitstaande.”

Volgens die departement is cholera ʼn akute bakteriële infeksie en ʼn uitbreking kom gewoonlik voor in gebiede met onvoldoende sanitasie of toegang tot skoon drinkwater. Dit veroorsaak gewoonlik erge diarree en kan persone van alle ouderdomme raak.

Die bakterie word hoofsaaklik versprei deur besmette water en mense kan direk aansteek deur die water te drink, of indirek deur besmette kos te eet. Pasiënte ervaar gewoonlik ligte simptome, maar in sommige gevalle kan dit ernstig en lewensbedreigend wees.

“Die inkubasietydperk wissel van ʼn paar uur tot vyf dae, gewoonlik twee tot drie dae,” luidens die departement.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om hul hande deeglik te was nadat hulle die badkamer of toilet gebruik het en ook voordat hulle kos voorberei. Skoon water moet ook gebruik word om kos in te kook.

“Die departement monitor die situasie en werk nou saam met die betrokke provinsie, die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Enigiemand wat simptome van diarree en dehidrasie toon, selfs al het hulle nie na ʼn cholera‑gebied gereis nie, word aangemoedig om by hul naaste gesondheidsorgfasiliteit aan te meld.”

Cholera is nie endemies in Suid-Afrika nie en die laaste uitbreking was in 2008-’09, toe omtrent 12 000 mense siek geword het. Die siekte het destyds van Zimbabwe na Limpopo en later ook Mpumalanga versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Mense kom daagliks onwettig uit die noorde SA binne. Riool stroom daagliks in ons riviere en in die see. Indien cholera toeneem gaan ons dit kwalik kan keer. SA verval. Egte biljoene sal ook nie meer regte toeriste hierheen lok nie. Geld vloei ook eerder met slinkse planne uit die land as in.

Miskruier ·

Ek wil eerder n skoon land hê soos 30jaar gelede. N spuit vir elke hoes en kug is nie die oplossing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.