Cholera: Tientalle gevalle met polisiekollege verbind

Dr. Joe Phaala, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

ʼn Polisiebeampte van Musina in Limpopo wat vroeër vandeesmaand na Hammanskraal in Gauteng gereis het om ʼn kort kursus by te woon, was die eerste pasiënt om positief te toets vir cholera wat die uitbreking in Hammanskraal betref.

Die bron van dié uitbreking is egter steeds onbekend.

Monsters van water wat in Hammanskraal geneem is, het tot dusver nie op die teenwoordigheid van cholera gedui nie. Die moontlikheid word nou ondersoek dat die 56-jarige polisiebeampte in aanraking gekom het met reisigers wat deur die Beitbrug-grenspos naby Musina beweeg het, voordat hy op 7 Mei na Hammanskraal gereis het.

Dr. Joe Phaala, minister van gesondheid, sê die polisiebeampte het hom op 8 Mei by die polisiekollege in Hammanskraal aangemeld. Op 12 Mei het die polisiebeampte simptome van diarree, maagkrampe en braking begin toon en is hy na die Muelmed-hospitaal vir behandeling geneem.

Cholera is op 15 Mei by hom gediagnoseer.

Die polisiebeampte word ná meer as twee weke steeds in die hospitaal behandel. Hy is in ʼn stabiele toestand.

Phaahla sê 33 studente aan die polisiekollege in Hammanskraal het kort ná dié polisiebeampte se opname by hospitale met gastroïntestinale simptome begin aanklop.

Agt van dié studente is in die hospitaal opgeneem. Almal is in ʼn bestendige toestand.

Die veldhospitaal bestaan uit ses tente in Hammanskraal. (Foto: Gauteng departement van gesondheid nuusbrief)

Die Jubilee-hospitaal in Hammanskraal het op 19 Mei ʼn skerp toename van pasiënte met gastroïntestinale simptome ondervind. Niks minder nie as 52 pasiënte met simptome van diaree en braking het in daardie stadium mediese sorg hiervoor by dié hospitaal ontvang.

Die dodetal het toe reeds op ses gestaan.

Altesame 163 pasiënte is van 17 tot 23 Mei by die Jubilee-hospitaal vir diaree en braking behandel – ʼn gemiddeld van 23 pasiënte per dag.

Altesame 17 pasiënte met cholera het in dié week gesterf.

Nóg twee pasiënte het die afgelope week (24 tot 30 Mei) weens cholera gesterf.

Phaahla sê die aantal bevestigde gevalle van cholera het egter begin afneem aangesien slegs 30 pasiënte – ʼn gemiddeld van vier pasiënte per dag – die afgelope week vir simptome van cholera by die Jubilee-hospitaal behandel is.

Altesame 99 bevestigde gevalle is tot dusver in die Tshwane-distrik aangemeld, waarvan sewe in die afgelope 24 uur aangemeld is. Dié pasiënte het onderskeidelik by die Jubilee-hospitaal (3), 1 Militêre hospitaal (1), Eugène Marais Life-hospitaal (1), Netcare Montana-hospitaal (1) en Odi-hospitaal (1) aangemeld vir behandeling.

Die minister sê sy departement bespeur ʼn aansienlike afname in gevalle van cholera in Tshwane en is vol vertroue dat die uitbreking in bedwang gebring sal kan word.

Die episentrum is steeds in Kanana, Hammanskraal, en die veldhospitaal wat verlede week daar opgerig is bly operasioneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

miche ·

Dit klink vir my asof ons Regering binnekort gaan regstaan met nog ‘n inenting wat afgedwing gaan word…
En nog een. En nog een.

Goldy ·

Ons sal nie dat hulle ons weer ket wapens steek voor ons weet wat aangaan nie.

Stofdonkie ·

Nou verstaan mens nie hulle stories nie, die polisiebeampte het in aanraking met persone gekom van Beitbrug, maar cholera is nie aansteeklik nie. Is die minister nou deurmekaar tussen covid en cholera? Kan iemand die minister net verduidelik hoe mens cholera opdoen asb?

Goldy ·

Onthou die enigste rede hoekom Hammanskraal se uitbrake in nuus is is om die DA skade te doen. Erger rioolverwante sterftes in ANC areas word onder mat gevee. Politieke vuilspel.

Papsak ·

Nee dankie hou verby want dit is al wat regering kan doen om geld te maak is maskers en inentings hou verby

Barney ·

Ja nee, daar hol die afrikaner al weer weg met ‘n ding. Waar het iemand iets gesê van ‘n inenting? En alles in die lewe gaan nie oor politiek nie. Of oor die vernietiging van die afrikaner nie. Mense is dood – dis nuus. Punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.