Veldhospitaal opgerig vir ‘nóg meer’ pasiënte met diarree, cholera

Die veldhospitaal bestaan uit ses tente in Hammanskraal. (Foto: Gauteng departement van gesondheid nuusbrief)

ʼn Veldhospitaal is in Kanana, Hammanskraal, opgerig nadat nóg meer mense met simptome van diarree, maagkrampe en braking by hospitale aangemeld het.

Die Gautengse departement van gesondheid sê ses tydelike tente is opgeslaan sodat daar dadelik aandag aan pasiënte met simptome van dehidrasie gegee kan word.

In die tydelike hospitaal het pasiënte óf orale hidrasie óf intraveneuse hidrasie ontvang, terwyl die mees kritieke pasiënte dadelik na hospitale in Tshwane vervoer word vir verdere behandeling.

Ablusiegeriewe is ook by die veldhospitaal ingerig met duidelike aanduidings vir pasiënte met ernstige simptome en dié daarsonder.

“Dit is gedoen om te verseker dat die diarree nie verder versprei nie.”

Die departement sê die jongste gevalle is Vrydag om 18:00 aangeteken. Sedert 19 Mei het 215 pasiënte met simptome van diarree by die Jubilee-distrikshospitaal aangemeld. Dit sluit in 23 pasiënte wat na die Dr. George Mukhari Akademiese Hospitaal oorgeplaas is.

Die getal laboratoriumbevestigde gevalle van cholera by Jubilee staan ​​tans op 48.

Altesame 75 pasiënte is by die veldhospitaal opgeneem vir diarree, waarvan 15 bevestigde cholera-gevalle is. Altesame 27 pasiënte het reeds herstel en is ontslaan.

Tot op hede het 23 mense al aan cholera gesterf.

“Dit is wel opmerklik dat daar die afgelope tyd minder pasiënte is wat erge simptome van diarree het,” sê die departement in sy weeklikse nuusbrief.

Dr. Joe Phaala, minister van gesondheid, het Vrydag saam met die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die LUR van gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Jubilee-hospitaal besoek om die stand van sake te ondersoek en te sien wat die hospitaal se kapasiteit is om die uitbreking te bestuur.

Die Gautengse mediese nooddienste (EMS) én rampbestuurpersoneel van die Gautengse departement van korporatiewe regering en tradisionele sake is intussen by die veldhospitaal geplaas om aandag te gee aan pasiënte met simptome van cholera.

Gauteng se EMS-bus en ʼn ambulans is ook in die gebied om kritieke pasiënte na die hospitaal te vervoer.

“Lede van die publiek word aangeraai om hul naaste gesondheidsfasiliteite te besoek wanneer hulle simptome van diarree, naarheid, braking, maagkrampe en dehidrasie het,” sê die departement.

“Ons herhaal ook die oproep vir mense om kos en water wat moontlik met cholera besmet is, te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.