Chris Barnard: Van ‘klassieke Mahala’ tot meesleurende TV-reekse

Chris Barnard. Foto: Litnet

Chris Barnard. Foto: Litnet

Saam met Jan Rabie, Etienne Leroux, Dolf van Niekerk en André P. Brink het Chris Barnard vir hom ʼn plek oopgeskryf as Sestiger. Dit het hy gedoen as romanskrywer, dramaturg en as skrywer van hoorspele en draaiboeke. Hoewel hy in 1961 met gedigte in Tydskrif vir Letterkunde sy naam gevestig het, was dit met genoemde skryfwerk waarmee hy die vernuwing van Sestig bewerkstellig het.

Vir sy novellebundel Bekende onrus is hy in 1961 met die eerste C.N.A.-prys vereer en vir sy roman Mahala het hy literêre erkenning gekry in die vorm van die Hertzogprys (1973) én die W.A. Hofmeyr-prys (1974), terwyl ʼn TV-reeks soos Phoenix en Kie. (1979) hom ʼn plek verseker het in die voorkamer van menige kyker wat vasgenael sit en kyk het na die doen en late van die voormalige boksheld Poen Botha en sy afrigter, die voormalige baldanskampioen Boela van der Merwe. En meer onlangs was daar die reeks Amalia.

As draaiboekskrywer van Dalene Matthee se Fiela se kind en daarna met draaiboeke vir flieks soos Paljas, Die storie van Klara Viljee en Die wonderwerker het hy boonop ʼn plek ingeneem op die trefferlys van Afrikaanse rolprente.

Maar dit is dalk Barnard se besondere aanvoeling vir die dramatiese – soos vergestalt in tekste vir hoorspele en die verhoog – wat ʼn onuitwisbare indruk gemaak het. Onder dié tekste tel Pa, maak vir my ‘n vlieër, Pa, ʼn Stasie in die niet, Die rebellie van Lafras Verwey en Iemand om voor nag te sê.

In 1991 het die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys ʼn tweede keer aan hom toegeken – hierdie keer vir sy volledige drama-oeuvre.

Op 28 Desember is Barnard dood in die ouderdom van 76.

Christiaan Johan Barnard is op 15 Julie 1939 in die Nelspruit-omgewing gebore. Nadat hy in Nelspruit sy matriek behaal het, het hy aan die Universiteit van Pretoria sy BA-graad behaal en as joernalis by Die Vaderland gaan werk, eers in Pretoria en later in Johannesburg.

Soos ander Sestigers het hy tyd in Parys deurgebring voordat hy as uitgewer by die Afrikaanse Pers-Boekhandel en later by Die Huisgenoot gaan werk het.

In 1978 is hy met die aktrise Katinka Heyns getroud en het hy voltyds as vryskutskrywer begin werk.

In sy taksering van Barnard se werk onderskei die letterkundige JC Kannemeyer “vier fases”. Van 1958 tot 1963 het Barnard hom toegelê op novelles waarin hy aansluit by bekende motiewe uit die Afrikaanse realistiese tradisie; gevolg deur die jare 1964 tot 1967 waarin die mens as gevangene met ʼn eksistensie-vrees (in pas met Steinbeck, Beckett en Ionesco) op die voorgrond tree.

Volgens Kannemeyer vergestalt die jare 1968 tot 1971 ʼn hoogtepunt in Barnard se werk, veral ten opsigte van die kortverhaal- en romankuns. Van 1971 het Barnard hom toegelê op die drama en rubrieke in tydskrifte.

Mahala word, as hoogtepunt in die sogenaamde derde fase, gereken as ʼn klassieke werk in Afrikaans. Dis die verhaal van ene Delport wat alleen met sy vrees in die Afrika-bos woon. Nege jaar lank al wag hy dat sy verlede hom inhaal, ʼn verlede in die gedaante van Ritter. Maar dan daag Malia Domingo ook op.

Dis ʼn roman waarin Delport “soveel duisend kriekende nagte onthou; tussen skemeraand en skemerdag soveel muskiete se gesing, en tromme wat byna onhoorbaar ver in die donker pols, en ʼn groen liggie wat flikker oor vreemde tale en fado’s uit ʼn onbekende land”.

Maar Afrika is ook in die mond van Rodrigue Pereira, kaptein van die rivierboot Mahala, “…ʼn wagkamer vol vreemdelinge op ʼn vreemde stasie. En almal wag en almal verlang huis toe en die bleddie trein bly weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Leon Coetzee ·

Dit is hartseer om so ‘n bekroonde skrywer te verloor. Ons innige simpatie met die familie. Sterkte vir Katinka en kinders

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.