Christen-vroue teiken van geslagsgebaseerde vervolging

ʼn Christen-vrou met Covid-19-noodleniging in Mianmar. (Foto: Geopende Deure)

Die Taliban-oorname in Afghanistan, dwelmverwante godsdienstige vervolging en die Covid-19-impak is sommige van die belangrikste faktore wat ʼn vinnig groeiende, dikwels “onsigbare” pandemie van geslagsgebaseerde geweld, ontvoering en mensehandel aanvuur, wat op Christen-vroue en -meisies regoor die wêreld gemik is.

Dit is een van die bevindings in ʼn nuwe verslag deur die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal, wat Christene wêreldwyd ondersteun en versterk.

Die verslag, “Invisible: The Gender Report 2022”, is op Internasionale Vrouedag bekendgestel. Met die viering van Internasionale Vrouedag op 8 Maart het die kollig weer eens geval op die lot van vroue en meisies – veral op die Afrika-vasteland.

Christen-vroue wat slagoffers is van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging in gebiede soos Afrika suid van die Sahara, die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Asië, Latyns-Amerika en Afghanistan, leef in vrees vir seksuele geweld, gedwonge huwelike, gedwonge egskeidings en om van die samelewing versteek te word.

Sigbaar versus versteek

Die dinamiek van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging wat mans gewoonlik raak, is gefokus en sigbaar. Daarenteen ervaar vroue patrone en vorms van vervolging wat kompleks en versteek is. Hoewel albei deur geweld gekenmerk word, ervaar Christen-mans meer ernstige en selfs dodelike geweld, terwyl die verraderlike geweld wat deur vroue ervaar word geneig is om onsigbaar en langdurig te wees.

Die verslag onthul dat die Covid-19-pandemie Christen-vroue en -meisies selfs nog meer kwesbaar as tevore gelaat het. Tydens die inperkings het hulle vervolging en teenkanting deur hul eie families en gemeenskappe ervaar – wat vyandig teenoor hul geloof is.

Die verslag ontleed die aard en omvang van geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging teenoor vroue en mans oor 12 maande, en dek die tydperk van Oktober 2020 tot September 2021. Die fokus is grootliks op die 50 lande op Geopende Deure se jaarlikse Wêreldwaarnemingslys, waar Christene die ergste vervolging en onderdrukking ervaar.

Belangrikste drukpunte

Volgens die verslag verskil die drukpunte wat mans en vroue ervaar dikwels, maar die doelwitte is dieselfde.

Die tien topdrukpunte wat Christen-vroue en -meisies beïnvloed, is: Seksuele geweld, gedwonge huwelike, fisieke geweld, sielkundige geweld, opsluiting deur familie (huisarres), ontvoering, gedwonge egskeidings, verbale geweld, die weiering van toegang tot sosiale gemeenskappe/netwerke en die weiering van toesig oor kinders.

Die vyf topdrukpunte wat Christen-mans en -seuns beïnvloed, is: Fisieke geweld, sielkundige geweld, ekonomiese teistering, gevangenisstraf en gedwonge militêre/burgermagdiens.

Esther, ʼn Christen-vrou van Nigerië, was ʼn slagoffer van vervolging weens haar geloof. Hier is sy saam met haar twee kinders. (Foto: Geopende Deure)

Soek geregtigheid vir vroue en meisies

“Die wêreldwye kerk moet die omvang en erns van geweld teen Christen-vroue en -meisies openlik erken, veral in gemeenskappe wat weens hul geloof onder druk is. Ons moet bid vir vroue en meisies wat dubbel kwesbaar is weens hul geslag en geloof, en voorspraak doen vir vroue en meisies wat hierdie dubbele kwesbaarheid ervaar,” sê Helene Fisher, mede-outeur van die verslag.

“Ons moet geregtigheid soek vir vroue en meisies wat deur enige vorm van diskriminasie, vervolging of geweld in die gesig gestaar word, deur ʼn Bybelse begrip van God se hart vir geregtigheid en die waardigheid van alle mense te propageer. Vroue en meisies moet bemagtig word om toegang tot geregtigheid te kry sodat oortreders tot verantwoording geroep kan word.”

Volgens dr. Lydia Meshoe, senior lid van die African Christian Democratic Party (ACDP) se nasionale uitvoerende komitee en president van die bemagtigingsorganisasie Women of Destiny, is vroue regoor die wêreld die belangrikste sektor van elke samelewing en moet hulle met waardigheid, liefde en sorg behandel word.

“Ons doen ʼn beroep op die kerk om vroue te beskerm en namens hulle te praat. Ons doen ʼn beroep op regerings om die vervolging en doodmaak van vroue te beëindig. Genoeg is genoeg! Hulle moet toegelaat word om hul geloof sonder inmenging te beoefen.”

Leigh Beukes, president van Trinity Metodistekerk Vrouebediening, voeg by: “Ons bid en dink aan die lot van vroue in Suid-Afrika en regoor die wêreld. Die moorde, vervolging en mishandeling – ons gebede gaan uit na hierdie onbesonge helde, van wie baie voortydig stilgemaak is.”

Meer oor die verslag

Die verslag oor geslagsgebaseerde godsdienstige vervolging word sedert 2018 jaarliks uitgereik. Die 2022-verslag bevat data wat deur Open Doors World Watch Research verkry is vir die 2022 Wêreldwaarnemingslys. Streeksgebaseerde kundiges het die primêre data vanaf wêreldwye versorgers, kerkleiers, fokusgroepe en streekskundiges versamel. Geopende Deure se geslagspan het die data geanaliseer om te bepaal hoe Christen-mans en -vroue in hierdie lande verskeie vorms van druk ervaar, om die algehele vervolgingstendense volgens geslag uit te lig.

Besoek www.opendoors.org.za om na die volledige 2022 Wêreldwaarnemingslys, die 50 toplande se profiele en vervolgingstatistieke te kyk.

  • Lesers kan vandag ook ʼn verskil maak in die lewens van ons vervolgde familie deur ʼn gebedsvennoot van Geopende Deure te word. SMS net “MAROELA en jou NAAM” na 43699 om ʼn gebedsvennoot te word. Standaard SMS-tariewe geld.
  • Geopende Deure speel ʼn belangrike rol om die kerk in Suidoos-Asië te ondersteun waar Christen-vroue van die ergste vervolging weens hulle geloof ervaar. Vicky Kente, woordvoerder van dié organisasie het, ʼn getuienis van ʼn vrou uit die streek gegee. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danny ·

Tragies, Christenskap was nog altyd vervolg, bid vir Christenskap en ons lande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.