City Power-werkers vas wat kabels, transformator steel

City Power. (Foto: Google)

Werkers en kontrakteurs van die Johannesburgse kragverskaffer City Power is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle glo kabels en ander kragverwante toerusting gesteel en beskadig het.

Altesaam ses mense is in verskeie dele van die stad in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes word deur City Power gekontrakteer en nog ʼn verdagte is tans by die kragverskaffer werksaam.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê die eerste voorval het Donderdagaand in Hillbrow plaasgevind.

“City Power se sekuriteitsrisikobestuurspan het ʼn anonieme wenk ontvang dat vyf verdagtes probeer het om ʼn transformator te steel,” sê hy.

“Die verdagtes is op heterdaad betrap, in hegtenis geneem en na die Hillbrow-polisiestasie gevat.”

Dit het later aan die lig gekom dat twee van die verdagtes onderskeidelik ʼn kontrakteur van City Power is en die ander een by die kragverskaffer werksaam is.

Die polisie het beslag gelê op twee vragmotors en ʼn bakkie wat City Power se logo op het.

Nog ʼn City Power-kontrakteur is Vrydag op kringtelevisie vasgevang waar hy 20 m se koperkabel in Hambergweg in Witpoortjie verwyder en dit met ABC-kabels vervang. Hy is in hegtenis geneem en word tans by die Honeydew-polisiestasie aangehou.

Die Roodepoort‑diensleweringsentrum se transformator in Matholesville is ook intussen gesteel, maar niemand is al in verband hiermee in hegtenis geneem nie.

“Dit is nie duidelik of enige van die huidige verdagtes met dié diefstal verbind kan word nie, maar die polisie ondersoek die saak verder.”

Mangena het ʼn beroep op die publiek gedoen om hulle naaste polisiestasie te kontak indien hulle gevalle teëkom waar infrastruktuur gesteel of beskadig word.

Stad jaarliks miljarde rand kwyt

Die Johannesburgse middestad. (Foto: Tebogo Iosaba/Unsplash)

Volgens Mangena word kragkabels en ander infrastruktuur ter waarde van sowat R4 miljard jaarliks gesteel.

“Hierdie soort diefstal en vandalisme vertraag City Power se bedrywighede en reaksietye op diensleweringskwessies,” sê hy.

“Dit is duidelik dat Johannesburg ʼn probleem het wanneer dit kom by kabel- en ander kraginfrastruktuurdiefstal en City Power was daarop bedag dat van sy kontrakteurs en werknemers hierby betrokke kan wees.”

Sedert Maandag is 26 gevalle van kabeldiefstal en vandalisme in Johannesbrug aangeteken. Agt verdagtes is ook vir van hierdie misdade in hegtenis geneem.

“Dit is uiters teleurstellend vir ons dat die mense wat toevertrou is om die ligte aan te hou, eerder tot die probleem bydra.”

Die werknemer van City Power wat onlangs in hegtenis geneem is, sal binnekort ook intern dissiplinêr verhoor word.

Die kontrakteurs sal afgedank word en hul kontrakte met City Power sal beëindig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.