Cleo Diko-moordenaar hoor dalk Woensdag sy lot

Cleo Diko (Foto verskaf deur Action Society)

Sandile Jegwa, die man wat self erken het dat hy Cleo Diko (34) vermoor en haar liggaam versteek het, sal na verwagting Woensdag in die Mitchells Plain-landdroshof gevonnis word.

Jegwa sou verlede week sy lot gehoor het, maar die saak is tot Woensdag uitgestel – iets waaroor die drukgroep Action Society baie ontevrede is.

Kaylynn Palm, hoof van Action Society se provinsiale aksiesentrum, sê egter dat lede van dié groep nietemin vandeesweek weer saam met Diko se geliefdes in die hof sal wees met die hoop dat daar uiteindelik afsluiting sal wees.

Diko, ʼn ma van drie jong kinders, het in Oktober 2022 verdwyn. Haar ontbinde liggaam is op 27 Januarie 2023 onder ʼn bed in ʼn huis in Mandalay in Kaapstad gevind.

ʼn Tou was om haar nek gedraai en sy was met beton en teëls bedek. Diko se identiteit moes met DNS-toetse bevestig word.

Jegwa is in hegtenis geneem toe die polisie ʼn oproep ontvang het oor bloedbevlekte komberse en kussings in die huis waar hy gewoon het. Hy het in die landdroshof erken hy is die moordenaar en het in fyn besonderhede verduidelik wat op die noodlottige dag met Diko gebeur het.

Jegwa is ʼn gewoontemisdadiger en het reeds skuldigbevindings van roof en diefstal.

Die staatsaanklaer in die saak het die hof vroeër versoek om Jegwa die maksimum vonnis van 25 of meer jaar op te lê, en nie die minimum van 15 jaar nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Lewenslank. Van roof na moord. Dit gaan nie die laaste keer wees as die knaap losgelaat word nie

Cherokee ·

Miskien behoort tronkstraf vir ‘n moordenaar, in verhouding wees met die verwagte lewensduur van die slagoffer, as die slagoffer sou voortleef. Sy was 34 en sou oor 25 jaar ‘n blote 59 gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.