Cloete Murray: ‘’n Man van beginsel’

Cloete Murray. (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

“’n Man van beginsel wat in reg en geregtigheid geglo het.”

Só word die Bosasa-likwidateur Cloete Murray onthou nadat hy en sy seun, Thomas, die naweek ná ’n koeëlreën op die N1 in Midrand gesterf het.

Forensics for Justice het sedertdien ’n R1 miljoen-beloning uitgereik vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming én skuldigbevinding van die moordenaars.

Die Murrays is Saterdagmiddag in hul motor op die N1 in Midrand geskiet. Thomas is op die toneel dood voordat sy pa Sondag in die vroeë oggendure in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton aan sy wonde beswyk het.

Cloete was ’n hofaangestelde likwidateur vir Bosasa. Thomas was ten tyde van sy dood ’n regsadviseur by sy pa se praktyk, Sechaba Trust, in Pretoria.

Talle meen pa en seun se name kan nou gevoeg word by die lang lys van mense wat óf met hul lewe geboet het vir hul betrokkenheid by die stryd teen korrupsie in Suid-Afrika óf gelukkig was om ’n aanslag op hul lewe weens dié stryd te oorleef.

Thomas Murray, Cloete se seun. (Foto: LinkedIn)

Daar is egter nog geen amptelike bevestiging van die polisie dat die moorde met een van die Murrays se hoëprofielsake verbind word nie.

Die DA vrees egter dat pa en seun se moord moontlik ander kurators en likwidateurs betrokke by die stryd teen korrupsie gaan afskrik, sê Solly Malatsi, nasionale woordvoerder van die DA.

Malatsi het Maandag in reaksie op die moorde gesê die ANC se onvermoë om korrupsie en misdaad binne sy eie geledere te takel, maak van Suid-Afrika ’n mafiastaat.

Die opposisieparty wys op die moord op Babita Deokaran in 2021 nadat sy korrupsie by die Tembisa-hospitaal oopgevlek het én die aanslag op prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap, se lewe.

Buhlungu se veiligheidswag, Mboneli Vesele, het eindelik met sy lewe geboet vir beweerde geïnstitusionaliseerde korrupsie by dié universiteit.

André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom, het ook enkele maande gelede in die hospitaal gaan draai nadat daar sianied in sy koffie beland het.

“Dit word ál duideliker dat hoëvlakpolitici, wat dikwels die hoogste ampte in die land beklee, moontlik aan verraderlike misdadige netwerke gekoppel kan word,” sê Malatsi.

“Tensy die staat moorde op fluitjieblasers en korrupsievegters doeltreffend hanteer, sal ál minder Suid-Afrikaners bereid wees om hul lewe te waag om aan die stryd teen korrupsie deel te neem.”

Medelye stroom sedertdien in.

’n Vriendin van Cloete wat die likwidateur jare lank in ’n professionale hoedanigheid geken het, skryf: “Rus in vrede, Cloete Murray. Jy gaan gemis word deur so baie mense wie se lewe jy met jou droë humor en aangename persoonlikheid beïnvloed het.”

Sy verwys dan na ’n onlangse verskyning van Cloete op die ondersoekende TV-program Carte Blanche waartydens hy aangedui het dat hy doodsdreigemente ontvang.

“Rus in vrede, Cloete Murray. Jy was ’n man van beginsel wat in reg en geregtigheid geglo het. Dit kos toe jou en jou seun, Tommy, se lewe. Mag jul dood nie sinneloos wees nie, mag geregtigheid geskied en die korruptes die straf kry wat hulle toekom,” lui nog ’n boodskap op sosiale media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.