Comair se likwidasie toegestaan

(Foto: Comair)

Comair se aansoek tot voorlopige likwidasie is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg toegestaan.

Luidens hofdokumente het Comair, wat British Airways en Kulula.com bedryf, gesê hy het nie meer toegang tot kapitaal om sy bedryfskoste te finansier nie. Die maatskappy is reeds sedert 2020 in sakeredding.

Sakereddingspraktisyns het ook gesê dat die maatskappy nie meer sy verpligtinge teenoor sy finansierders en handelskrediteure kan nakom nie.

Luidens hofdokumente is die likwidasie nodig vir Comair om sy vloot vliegtuie, ter waarde van sowat R3,5 miljard, tot voordeel van krediteure te bewaar.

Alle geaffekteerde partye het tot 26 Julie om die hof van redes te voorsien waarom die voorlopige likwidasiebevel nie ʼn finale bevel gemaak moet word nie.

Comair het Donderdag ʼn hofaansoek ingedien om sakereddingsverrigtinge eerder na likwidasieverrigtinge te verander omdat dié lugredery “kommersieel insolvent” is. Die redery het in Mei 2020 besluit om in sakeredding te gaan.

In die dringende hofaansoek het Richard Ferguson, aangestel as een van die maatskappy se sakereddingspraktisyns, gesê dat “daar nie meer ʼn regverdige of matige moontlikheid is om die maatskappy se goedgekeurde sakereddingsplan te implementeer nie”.

Comair het vroeër vandeesmaand sy bedrywighede opgeskort en gesê dat hy nie ná Mei 2022 meer salarisse of lone kan betaal nie.

Die lugredery het ook gesê dat dit nie meer in staat is om vliegtuigberging, onderhoud en versekeringskoste te betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Hierdie is ba onregverdig. Hierdie redery moes met SAL wat deur ons belastingbetalers gesubsidieer was meeding en is SAL nog met R700 miljoen in die skuld by Comair. Weereens ‘n meesterstuk met komplimente van Gordhan. ANC voel vere vir die mense wat hulle werk agv hulle toedoen verloor.

Johan ·

Wat kan ons verwag gaan gebeur as ons toelaat dat die ekonomie vir GEEN werklike rede tot n stilstand geruk word, en dan weier om die sake onsekerheid wat die regulasies bring weer op te hef. Was die koste wat ons betaal, die effek wat ons gekry het wêrd, natuurlik nie, want die ekonomie beteken ook lewe.

Voilet ·

Ag hul sê maar net– dit het nie saak gemaak nie. Hul voel vere , solank hul net nog in die geld rol, kan alles anders maar vergaan

Dana ·

Wat van Mango? Bestaan hul nog? Wie bly oor? Lift sal maar hul vlugte moet uitbrei en nie net tussen Jhb en Kaapstad vlieg nie. Gelukkig het ek nog nie my vliegkaartjie vir later vanjaar bespreek nie!!!

Vernon ·

SAL en Mango sal bly bestaan alhoewel teen n verlies,want ANC betaal hul skuld.

Korrelkop ·

Nog ‘n slegte nagevolg van die simpel Covid reëls wat deur die sogenaamde geleerdes ingestel is. Ek het self Covid gehad, inentings en al, maar die prys wat die wêreld betaal het teenoor die weglaatbare persentasie mense wat wêreldwyd aan Covid gesterf het (teenoor wêreld populasie getal), was net eenvoudig té hoog. So dis ‘n NEE van my af…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.