Comair-uitspraak ‘oorwinning vir werkers’

(Foto: pixabay)

Die arbeidshof in Johannesburg het Numsa se hofaansoek teen Solidariteit en Comair Maandag van die hand gewys.

Dit beteken dat ʼn gesamentlike ooreenkoms tussen Comair, Solidariteit en sy lede nou gehandhaaf sal word. Solidariteit sê die uitspraak bied meer sekerheid en vertroue aan werknemers, werkgewers en die lugredery se beleggers.

“Dit was van sleutelbelang dat hierdie ooreenkoms geldig bly om die voortbestaan van die lugredery te verseker en om dit vir hom moontlik te maak om op 1 Desember 2020 weer te begin vlieg. Honderde werknemers se werk word danksy hierdie ooreenkoms beskerm en die lugredery se volhoubaarheid word op lang termyn bevorder,” sê Derek Mans, organiseerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit, in reaksie op die uitspraak.

Maroela Media het vroeër berig Numsa het daarop aangedring dat die ooreenkoms tussen Comair en Solidariteit geskrap moet word. Dit sou meebring dat Comair sy sakereddingsfinansiering kwyt sou wees.

Mans sê die uitspraak verteenwoordig ʼn toenemende neiging in arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika. Hy sê dit sal en moet meer algemeen word dat vakbonde en werkgewers mekaar om die onderhandelingstafel as vennote, eerder as opponente, benader.

“Ons ooreenkoms en hierdie uitspraak bevestig dat ons in ʼn nuwe wêreld van arbeidsverhoudinge leef. In ʼn post-Covid-19-wêreld sal partye tot arbeidsverhoudinge toenemend op grond van gemene belange en gemene gewin moet beding in plaas van die tradisionele benadering van opponerende belange.

“In die algemeen moet hierdie verwikkeling verwelkom word en in besonder met betrekking tot lugvaart waar die ganse bedryf steeds probeer herstel ná ʼn ongelooflik uitdagende jaar.”

Comair het intussen vandag sy besprekings vir binnelandse vlugte op British Airways geopen. Die lugdiens beplan om alle binnelandse British Airways-roetes wat hy voorheen bedryf het, vanaf 9 Desember weer in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harry ·

Hierdie is beslis van die mees positiefste nuus vir 2020. Uiteindelik iets oor samewerking en nie konflik nie. Dis baie verantwoordelik van albei partye.

piet-van-die-namib ·

Comair sal seker ook nou vir my ‘n koepon gee vir die geld wat hulle aan my verskuldig is nadat ek in Meimaand dit nie kon gebruik het nie. Ek is ook bly vir die positiewe uitkoms tussen Solidariteit, die werkgewers en werknemers. Ons land moet die inperking heeltemal opskort en ons mense sal net moet leer om verantwoordelik saam met die virus te leef om ons land se ekonomie weer op dreef te kry.

Stefan ·

Dus werkers wat blykbaar oorbodig was nie mag nou nie afgedank word nie, EN DIT VERSEKER DIE VOORTBESTAAN VAN DIE LUGDIENS???

Stefan ·

Dit sal natuurlik ander maatskappyë ook baie gretig maak om uit te brei en mense aan te stel.
Hoekom is ons werkloosheid so op rekord hoogte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.