Cope: ‘Ons sal ons mense oplei, bewapen’

Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People (Cope), tydens die bekendstelling van dié party se 2024-verkiesingsmanifes. (Foto: Cope)

Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People (Cope), het Saterdag tydens die bekendstelling van dié party se 2024-verkiesingsmanifes in Hammanskraal veral klem gelê op Suid-Afrikaners se reg om hulself met geweld te verdedig teen misdadigers wat hul lewe bedreig.

Sou die party in die komende verkiesing aan bewind kom, sal hy weer ʼn soort diensplig instel om jong mense “op te lei en te bewapen”. Anders as voorheen sal dit egter vrywillig wees.

“Ons sal ons kinders oplei en bewapen. Nie om julle, Suid-Afrikaners, dood te maak nie, maar mense wat na ons land toe kom en ons mans, vroue en kinders vermoor,” het Lekota in sy toespraak gesê.

Hy meen misdaad is buite beheer en sê die jeug moet opgelei word om die land te verdedig, veral teen bedreigings van “buite”.

Lekota het daarop gesinspeel dat die meeste misdaad in die land aan onwettige immigrante toegeskryf kan word en sê dit is internasionaal erkende wetgewing dat enige land hom teen eksterne bedreigings mag verdedig.

Hy meen besoekers aan Suid-Afrika sal altyd verwelkom word, maar dat enigiemand wat na dié land kom om te moor, met geweld teengestaan sal word. Dít geld ook vir landsburgers wat ander burgers leed aandoen en vermoor.

“As jy ʼn misdadiger is, is jy ʼn vyand van die mense van Suid-Afrika. En ons, die mense van Suid-Afrika, is daarop geregtig om onsself te verdedig.”

Volgens Lekota het misdadigers egter die vryheid om amok in die land te maak omdat die meeste burgers nie toegerus is om hulself te verdedig nie.

Lekota het ook gesê dat Suid-Afrika weer oor die doodstraf vir moordenaars moet besin.

Dit is volgens hom verregaande dat belastingbetalers moet opdok om misdadigers in “tronke wat soos hotelle is” te voed en onderhou.

Lekota sê voorts wat militêre opleiding betref, sal jong mense nie net fisieke en skietvaardighede in die weermag leer nie, maar ook ʼn “ding of twee oor patriotisme”.

Indien jy patrioties is, aldus Lekota, sal jy nie jou eie landsmense wil vermoor nie omdat jy jou land en burgers liefhet. Opleiding sal al op skoolvlak deur middel van verkenningsprogramme begin en dan sal die jeug ná skool opgeroep word om in die weermag te dien.

Militêre opleiding baan ook die weg vir ander beroepe, soos medici, sê hy.

‘Bemagtig SA’ners’

Cope beloof voorts om op onderrig vir alle Suid-Afrikaners te fokus, sodat elkeen goed geleerd kan wees en goeie werk kan kry. Die party sal onder meer ook op dienslewering, die herstel van kern-infrastruktuur en ekonomiese groei toegespits wees.

“Cope het ontstaan ​​uit ʼn begeerte vir verandering, hoop, ʼn visie vir ʼn verantwoordbare en onkreukbare regering, en ʼn verbintenis tot die bemagtiging van elke burger.

“Ons rekord spreek van veerkragtigheid en toewyding aan nierassigheid, nieseksisme, geregtigheid, gelykheid en versoening, asook respek vir die Grondwet en oppergesag van die reg. Dit is die waardes van die Suid-Afrikaanse mense,” het Lekota gesê.

Hy meen die komende verkiesing gaan ook nie net oor ʼn geleentheid vir burgers om hul stemme uit te bring nie, maar is ʼn kans om saam met mans en vroue, wit en swart, te staan wat die land met integriteit wil lei. En dit is presies wat dié party beloof om te doen.

Luidens Cope se manifes kan Suid-Afrikaners dié party met die volgende vertrou:

  1. Voorsiening van skoon water
  2. Bekostigbare en beskikbare elektrisiteit
  3. Ekonomiese groei
  4. Dorps- en landelike ontwikkeling
  5. Maatskaplike geregtigheid en herverdeling
  6. Verbetering van lewensgehalte vir gesinne
  7. Indiensneming van die jeug en vaardigheidsontwikkeling
  8. Vermindering van staatskuld
  9. Verkiesingshervorming
  10. Hervorming van munisipale regerings
  11. Verantwoordbare regering
  12. Bestryding van misdaad en korrupsie

Die party beskryf dié ondernemings as sy “12 kernpilare”.

“Saam kan ons ’n Suid-Afrika bou wat op die welvaart van al sy mense floreer, ʼn nasie waar elke stem gehoor word en elke droom geldig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George ·

Ek dink nie enige iemand in die land moet wapens net kan kry nie. Sort die werkloosheids syfer eers uit, tot dan, gaan ons met die crime sukkel, eenvoudig.

JohanR ·

Kan ons nie van alle politici ontslae raak en die mense op grondvlak self die provinsies en land bedryf. Dink net hoeveel sal gespaar word want mens moet nie moegies betaal nie?

Marous ·

Die grootste vyand is die regeerders van die land en hul kaders. Dis die waarheid.

Papsak ·

Julle het almal net sulke lang lyste van hoe julle die land wil regeer en reg ruk kry liewers eerste ons krag en water reg en paaie ens dan praat julle weer ek glo nie julle gaan in n maand of jaar SA kan reg ruk nie dit kos iemand met verstand nie julle nie by verre nie

koos10 ·

Marous, jy is so reg. Die top van die regering het misdaad help pleeg en toegelaat. Nou is dit buite beheer en hulle was hul hande in onskuld.
Nog iets, ALLE politieke partye se handveste is bykans woordeliks dieselfde, die probleem is hoe dit uitgevoer moet word. Ek kon tot dusver net lees hoe die EFF dit beplan, hoe adsurd ookal. Dis tyd dat politieke partye hulle (werkbare) planne ook bekend maak. Om te sê ons gaan 20000 polisie lede aanstel om misdaad te bekamp, is nie ‘n werkbare plan nie, want jaarliks verlaat 15000 die SAPS. Om die werklose toelaag na R980 te verhoog deur korupsie te stop is nie werkbaar nie. Hoe gaan die korupsie gestop word? Ons staan in 2024 voor een van die belangrikste verkiesings, maar politieke partye staan nog by 1994 se beloftes, wat nooit nagekom was nie.

LOUIS ·

koos10 en Marous, julle praat 100% die waarheid. Hulle hakkel en sukkel nog by 1994. Dit is die land veraaiers wat die pad wil stap.

skurweberg ·

Realistiese manifes. Hulle sal beslis verdere werkloosheid aanspreek met ‘n dinspligstelsel. Solank dit net vir vir alle swart en wit jeug is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.