Covid-19: Dís wat die herstelsyfer wys 

Miljoene mense wêreldwyd het reeds Covid-19 opgedoen. (Foto: ANI)

Volgens die departement van gesondheid het amper die helfte van Suid-Afrikaners wat tot dusver met die nuwe koronavirus gediagnoseer is, reeds daarvan herstel.

Uit die meer 13 000 bevestigde gevalle is 6083 mense dus nie meer siek nie. Dit laat die vraag ontstaan of Suid-Afrikaners optimisties kan raak oor dié syfer en of dit moontlik kan lei tot die vervroegde verligting van die afsonderingsregulasies.

Kenners sê egter hoewel dit ʼn aanduiding gee van die vermoëns en omvang van ons gesondheidstelsel, is dit nog te vroeg om ons te beroep op sukses met betrekking tot die herstelkoers.

“Dit is nie so eenvoudig nie,” verduidelik Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), aan Maroela Media.

Volgens Coetzee moet Suid-Afrikaners in gedagte hou dat nie alle pasiënte gelyktydig die virus opgedoen het nie en dus ook nie gelyktydig herstel nie. Sommige pasiënte het ook moontlik reeds herstel, hoewel hulle steeds positief vir Covid-19 toets.

Ander het moontlik negatief vir Covid-19 getoets, maar hul gesondheid is steeds nie wat dit was voordat hulle die nuwe koronavirus opgedoen het nie, verduidelik Dewald Steyn, ’n kenner op die gebied van aansteeklike siektes aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

SA se herstelkoers. (Grafika: Elsabe Brits)

Hy verduidelik dat daar dus verskillende definisies van herstel is. Sommige instansies, soos die departement van gesondheid, beskou ʼn pasiënt as herstel wanneer hy of sy nie meer positief toets vir Covid-19 nie. Ander beskou ʼn pasiënt as herstel wanneer sy of haar gesondheidstoestand terugkeer na wat dit was vóór die virus opgedoen is.

Dit kan egter maande duur vir pasiënte wat baie siek was aan Covid-19 om van dié koronavirus te herstel, selfs nadat hulle negatief daarvoor getoets het. “Die herstel van enige siekte moet nie verwar word met die oorlewing van ʼn spesifieke siekte nie. Ons leer nog elke dag oor sterftes en morbiditeit rakende Covid-19,” verduidelik Steyn.

Hy gee die voorbeeld dat ʼn pasiënt met ʼn onderliggende longkwaal Covid-19 kan oorleef, maar daarna moontlik aan verminderde longfunksie of ʼn beroerte kan ly wat ʼn permanente rol in sy of haar toekomstige lewensgehalte kan speel. ʼn Voorheen gesonde persoon kan van Covid-19 herstel, maar daarna aan ʼn nuut gediagnoseerde depressie of angsversteuring ly.

“Die publiek moet baie versigtig wees om bloot na die syfers te kyk soos dit op sosiale media en elders verskyn. Die geheelbeeld en al die onderliggende feite is steeds nie duidelik nie en syfers moet eers deur deeglike wetenskaplike navorsing geïnterpreteer word,” benadruk Steyn.

(Foto: Brian Inganga/AP)

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van die afdeling Infeksiesiektes by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), waarsku ook daarteen om enige afleidings oor die aantal herstelde Covid-19-pasiënte te maak.

“Dit is moeilik om iets in die aantal pasiënte wat herstel het, te lees. In wese neem dit een tot twee weke om te herstel of agteruit te gaan. Ons kan wel ʼn ingeligte afleiding maak dat 98% of meer van alle Covid-19-pasiënte sal herstel en 1-2% van die pasiënte sal sterf,” verduidelik Taljaard.

Wat beïnvloed die herstelkoers?

Die kenners verduidelik daar is ʼn rits faktore wat die koers bepaal waarteen pasiënte van die virus herstel. Sommige van dié faktore is moontlik nog nie eens aan kenners duidelik nie.

“Wat ons wel weet, is dat ouer mense en mense met chroniese siektes sieker word en dus langer sal neem om te herstel,” verduidelik Steyn.

Volgens Taljaard sal diegene wat in die waakeenheid van ʼn hospitaal gaan draai het en moontlik aan ʼn ventilator gekoppel was, natuurlik langer neem om te herstel. Dié herstelproses kan maande duur.

Bou Covid-19-pasiënte ʼn weerstand teen die virus op?

Suster Nomusa Mthethwa ondersoek inwoners vir Covid-19 in Umlazi, suid van Durban. (Foto: Zanele Zulu/ANA)

Volgens Steyn is daar steeds geen duidelikheid rakende pasiënte se weerstand teen die virus nadat hulle van Covid-19 herstel het nie. “Baie navorsing moet nog hieroor gedoen word. Ons het wel uit baie studies geleer dat pasiënte wat van Covid-19 herstel, teenliggame ontwikkel. Wetenskaplikes weet egter nog nie hoe lank hierdie teenliggame ʼn pasiënt teen die virus beskerm nie.

“Die goeie nuus is egter dat ons geen rede het om te glo dat hierdie virus baie anders sal optree as die ander bekende menslike koronavirusse nie.”

Volgens Steyn is wetenskaplikes se hoofprioriteit in dié stadium om ʼn entstof te ontwikkel. Dit kan egter enigiets van een tot twee jaar neem. “Intussen kyk navorsers ook na die veiligheid en doeltreffendheid van plasma-oortappings, wat gemaak is uit bloed van mense wat herstel het van Covid-19. Dit word passiewe immunisering genoem.”

Taljaard verduidelik daar word aanvaar dat mense ʼn immuniteit teen Covid-19 sal ontwikkel, hetsy tydelik of lewenslank. “Die aanname is egter nog nie bewys nie,” sê hy.

Wat hou die herstelsyfer vir die gesondheidstelsel in?

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, verduidelik dat die land se herstelsyfer wel aandui dat die land se gesondheidstelsel die vermoë het om pasiënte te behandel wanneer die algehele landwye afsondering eindelik opgehef word.

“Die enigste pad nou, is deur. Daar is nog nie ʼn entstof nie en ons kan nie in afsondering bly totdat daar ʼn entstof is nie. Die virus moet deur die bevolking gaan en danksy pasiënte wat herstel, het ons hospitale plek vir nog pasiënte wanneer die afsondering opgehef word.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sean ·

Puik werk Tania Die mense met jy onderhoude gevoer het is profesioneel en weet waarvan hulle praat Dis nie copy en paste onbevoegde persone in hoë poste nie So word nuus versprei!

Jaco ·

Cilliers, Steyn, Mulder: alles wit Afrikaanse name. NIEMAND in ons anti-wit regering gaan na hulle heel logiese voorstelle luister nie. Dit gaan afhemaak word as “rassisties” en “n terug hunkering na apartheid”.

Maanprinses ·

Mooi uiteengesit. Ek verstaan nou baie meer. Die Afrikaners is baie gesonder as die wêreld. Meer mense herstel.
Dit voel of ons veg teen die onvermydelike. Dit is moontlik dat ons almal dit sal moet kry om dit onder beheer te kry.

Cherokee ·

Jy maak my nou verlang na die maan… met ‘n prinses aan my sy

Elsa ·

Het van die begin gesê in perking is onnodig. Mense moet vir hulself begin dink
Rond die syfers af:
200 sterfgevalle uit n bevolking (wetting of onwettig) van 58miljoen in RSA. THE Dis 0.0003%

GOOD MORNING SOUTH AFRICA AND GOVERNMENT.

Kobus ·

Dink vir jouself, jy het die eerste 100 meter van die 5000 wedloop voltooi. Jou tyd word eers aan die einde van die wedloop bepaal.

KB ·

Afleiding:
Niemand weet verseker nie.
Wat ons WEL weet, is dat die ekonomie ssm op die been moet kom, dat ons weer met ons lewens wil aangaan, maar dat ons versigtig moet wees.
Wat onnodig is:
Drakoniese reëls, sluikhandel, mishandeling/roof/ens, kleredrag voorskrifte, vrese/spanning/pandemonium.
Die tyd om op te staan is NOU.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.