Covid-19: Kommer oor talle positiewe toetse by Beitbrug-grenspos

(Foto: ANA)

Altesaam 104 mense het die afgelope vier dae by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe positief getoets vir die koronavirus.

Daar word nou gevrees dat die opeenhoping by dié grenspos vinnig besig is om ’n superverspreidingspunt van die virus te word, het Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, Donderdag gesê.

Die departement doen ’n beroep op diegene wat die Beitbrug-grenspos na Suid-Afrika oorsteek om te selfisoleer voordat hulle met ander by hul bestemming in aanraking kom.

“Ons wil met in ag neming van die virus se inkubasietydperk diegene wat Beitbrug oorsteek, versoek om die regte ding te doen en te selfisoleer aangesien hulle blootgestel is aan ’n potensiële superverspreider,” het Ramathuba gesê.

Chaos heers sedert verlede maand by die grenspos met vragmotors en voertuie wat in toue van tot 20 km lank wag om deur die grenspos te gaan. Die opeenhoping word beskryf as die ergste opeenhoping in die geskiedenis van dié grenspos met minstens een vragmotorbestuurder wat in die tou omgekom het.

Die Padvragvereniging (RFA) het gesê die situasie ontaard in ’n humanitêre krisis met geen fasiliteite of geriewe vir die duisende mense wat in die tou wag nie.

Duisende motoriste wag onder soortgelyke omstandighede by die Lebombo-grenspos tussen Mosambiek en Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.