Covid-19: Nóg gevangenes toets positief

Argieffoto

Die departement van korrektiewe dienste het Woensdagmiddag bevestig dat altesaam 85 gevangenes en korrektiewe beamptes oor die hele land tans Covid-19 onder lede het. Dit sluit in die gevalle by die korrektiewe sentrum in Oos-Londen, die departement van korrektiewe dienste se hoofkantoor in Pretoria en by die St. Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth.

Dié getal het teen Dinsdagmiddag op 78 gestaan.

Nóg drie gevangenes en een korrektiewe beampte by die korrektiewe sentrum in Oos-Londen het positief getoets vir die nuwe koronavirus.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder vir die departement, het gesê al die gevangenes in die vroue-afdeling is intussen getoets. Twee van dié gevalle is nog nie bevestig nie en sal weer getoets word. Altesaam 211 gevangenes het negatief getoets. Die beamptes se toetse duur nog voort.

Nxumalo sê by die St. Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth is altesaam 83 beamptes getoets en hul resultate het negatief teruggekom. Die departement wag nog op die uitslag van die gevangenes.

Soos vroeër berig het Nxumalo gesê die departement het ook reeds ’n lys van hospitale saamgestel waarheen gevangenes geneem kan word, sou hul toestand dit vereis om in ’n hospitaal opgeneem te word. Hulle sal deur beamptes na die hospitaal vergesel word.

Gevangenes sal voortaan ook om die beurt kos ontvang om te verhoed dat baie gevangenes saam in ’n oop ruimte saamdrom. Net ’n sekere aantal gevangenes sal op ’n slag toegelaat word om iets by die snoepie te koop.

Geen besoekers word steeds in dié tyd by korrektiewe sentrums toegelaat nie.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Hoe nou?? Hierdie mense isxdan reeds in afsondering of veronderstel om te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.