Die Vergoedingskommissaris het Vrydag ʼn kennisgewing uitgereik wat dit nou vir bepaalde beroepe makliker maak om vergoeding te eis indien hulle die nuwe koronavirus (wat die siekte Covid-19 veroorsaak) by die werk opgedoen het. Dié beroepe sluit in dokters, verpleegkundiges, ambulanspersoneel en werkers in lykshuise.
Die kennisgewing van die kommissaris deel die betrokke beroepe in vier kategorieë in volgens die werkers se waarskynlikheid om aan die virus blootgestel te word, naamlik baie hoog, hoog, matig en laag.
Volgens dié kennisgewing word gesondheidsorgwerkers wat Covid-19-pasiënte moet diagnoseer en behandel of monsters moet hanteer om te toets vir die virus, asook werkers wat nadoodse ondersoeke op dié pasiënte moet behartig, in die eerste kategorie gegroepeer. Dit is omdat aanvaar word dat hierdie groep ʼn uiters hoë potensiaal het om aan die virus blootgestel te word in die loop en uitvoering van hul werkspligte.
Mediese personeel wat bloot in aanraking kom met Covid-19-pasiënte, personeel wat pasiënte vervoer soos ambulanspersoneel en werkers wat die lyke van pasiënte hanteer wat moontlik of definitief Covid-19 onder lede gehad het, het ʼn hoë risiko om aan die virus blootgestel te word.
Werkers met ʼn matige risiko om aan die virus blootgestel te word, is dié wat in aanraking kom met mense wat die virus onder lede het of in kontak is met reisigers wat onlangs teruggekeer het van internasionale bestemmings waar Covid-19 vinnig versprei. Dit sluit ook in werkers wat in aanraking is met die algemene publiek in gebiede waar die virus reeds plaaslik oorgedra word, soos in skole of sakeondernemings waar baie mense teenwoordig is.
Laerisikoberoepe is daardie mense wat nié in direkte aanraking met vermeende of bewese gevalle van Covid-19 kom nie en min kontak in die werkplek met die publiek en kollegas het.
Indien werkers in bogenoemde poste die virus opdoen en nie in staat is om te werk nie, is hulle geregtig op betaling vir tydelike arbeidsongeskiktheid vir so lank as wat die virus voortduur, maar nie langer as 30 dae vandat die diagnose gemaak is nie. Werkgewers kan dus tot 30 dae van dié betrokke personeel se salaris vanaf die vergoedingskommissaris terugeis.
Hoewel daar voorsiening gemaak word vir ʼn verlenging van hierdie tydperk, is Hanlie van Vuuren, Solidariteit se hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid, nie oortuig dít is genoeg tyd nie, veral indien die pasiënt ernstig siek is en langer behandeling benodig.
Selfs al het die betrokke werknemer nog nie positief getoets vir Covid-19 nie, maar is deur ʼn dokter aanbeveel om in kwarantyn te gaan, is die werknemer in bogenoemde beroepe geregtig op betaling vir die tydperk wat hulle in kwarantyn is en dus nie kan werk nie.
Die vergoedingskommissaris is verantwoordelike vir die mediese koste vir behandeling, nie langer as 30 dae vandat die diagnose gemaak is nie. Sou die personeellid sterf aan Covid-19, is die vergoedingsfonds verantwoordelik vir voordele soos begrafniskoste en pensioene aan die afhanklike gade en kinders onder 18 jaar. Vergoeding soos waarna die kennisgewing verwys, is onafhanklik van voordele wat by werkers se dienskontrak ingesluit is.
Van Vuuren sê hoewel Solidariteit dit verwelkom dat die kennisgewing meer duidelikheid oor die saak gee, is daar ook teenstrydighede in die bepaalde kennisgewing vervat. “Die kennisgewing bepaal byvoorbeeld dat blywende arbeidsongeskiktheid drie maande ná die datum van die diagnose en nadat die maksimum mediese verbetering ingetree het, bepaal sal word. Dit bepaal egter ook dat die kommissaris slegs vir 30 dae lange mediese behandeling en vergoeding vir tydelike arbeidsongeskiktheid sal betaal. Dié tydperke is aansienlik korter as dít waarvoor die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes voorsiening maak en dus teenstrydig met die bepalings van die wet,” sê Van Vuuren.
Sy sê indien Solidariteit se lede negatief geraak word deur hierdie beperkings, sal hulle beslis die hof nader aangaande die vertolking van die vergoedingswet.
Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.
Wat van touvoertuig bestuurders, en mense wat met voertuie werk wat in ongelukke betrokke was. As die virus vir ure op oppervlaktes kan bly leef en daar is dalk bloed en liggaams vloeistowwe waarmee hierdie mense in aanraking kom?
Die vergoedingskommissaris het dan nie eens geld om gewone DAD te hanteer nie. Hie wil hulle hierdie doen?
Bedoel gewone BAD. (Besering aan.diens). Dr en ander mediese plekke wil jou nie help nie. Jy moet medies hê.
En mense wat in myne werk
..en dans instrukteurs, stoeiers, rugbyspelers en mense agter toonbanke wat met geld werk. Die lys kan gerêêêk word.
En die mense wat gedurende die “lockdown” werk?
Hulle kan nie eers huidige sake (10 jaar) afhandel nie. GEEN dr wil jou sien as dit BAD is nie want die Vergoedingskommissaris betaal hul nie. So eintlik wil hulle net relevant klink.