Covid-19: ‘Nuwe beperkings nog nie nodig’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: GCIS)

Hoewel ʼn nuwe Covid-19-subvariant, bekend as XBB.1.5 in Desember vir die eerste keer in Suid-Afrika bevestig is, is daar nog geen aanduiding dat dit tot ernstiger infeksies, siektes, hospitaalopnames of sterftes lei nie. Die Suid-Afrikaanse regering oorweeg ook nie in dié stadium om enige beperkingsmaatreëls in te stel nie.

Die departement van gesondheid het Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie in samewerking met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) gesê XBB.1.5 is ʼn subvariant van Omikron – wat nog steeds die dominante Covid-19-variant wêreldwyd is. Dit is egter nie “verbasend” dat ʼn nuwe variant in die land bespeur is nie, aangesien Omikron meer as 100 subvariante het en toenemend muteer.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het bevestig dat nog net een geval van die nuwe variant in die land bevestig is en dat dit ʼn lukrake toetsmonster was. Dit is by die Universiteit van Stellenbosch getoets. Dit is egter nie te sê die pasiënt is van die Wes-Kaap nie. Dit is ook nie moontlik om die persoon op te spoor nie.

Dr. Michelle Groome, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê hoewel daar bewyse is dat dié subvariant meer oordraagbaar is, is daar nog nie genoeg bewyse dat dit tot ernstiger siektes, meer hospitaalopnames of sterftes lei nie. Dit is ook nie te sê dit sal mettertyd die dominante variant in die land word nie, selfs al word nog gevalle in Suid-Afrika bevestig.

Die jongste variant kom hoofsaaklik in die VSA voor, waar dit in byna 40% van nuwe Covid-19-gevalle bespeur is.

“Elke land is anders. Ons [Suid-Afrika] het hoë vlakke van bevolkingsimmuniteit en ons is al aan verskeie variante blootgestel.

“Hoewel daar data is dat die nuwe variant meer oordraagbaar is, is die data nog redelik swak. Maar selfs al is dit die geval, bied inenting en natuurlike immuniteit beskerming,” het Groome gesê.

Hiér neem gevalle toe

Phaahla het Dinsdag gesê dat statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in Desember verlede jaar ʼn algehele toename van 25% in infeksies wêreldwyd bevestig het, vergeleke met November 2022.

Dit is hoofsaaklik in China, Japan, die VSA en Brasilië. In meeste lande was daar weer ʼn afname in die laaste week van Desember, behalwe in China, waar gevalle voortdurend toeneem. Hier is ʼn toename van 45% in nuwe infeksies tydens die laaste week van Desember aangemeld.

Phaahla sê dit is hoofsaaklik omdat China min natuurlike immuniteit het en omdat entstowwe nie oral genoegsaam beskikbaar is nie – veral in die landelike gebiede. Mense het ook die afgelope paar weke meer vryheid om in en uit China te beweeg – wat tot die skielike verhoging in gevalle en sterftes bydra.

Phaahla sê die departement en sy vennote hou die verwikkelinge van Covid-19 deurlopend dop en dat daar geen rede is om in dié stadium enige nuwe beperkings of maatreëls in te stel nie – ongeag stygende gevalle in China en die nuwe variant wat hoofsaaklik in die VSA voorkom. Dit stem ooreen met die besluite wat in verskeie lande soos Australië, Nieu-Seeland, die VSA en die Verenigde Koninkryk geneem is.

Daar is tans ook nie reisbeperkings tussen Suid-Afrika en China nie. Marokko is die enigste land wat ʼn algehele reisverbod teen China ingestel het.

Phaahla sê hoewel Suid-Afrika op aanbeveling van kenners geen nuwe reisbeperkings sal instel nie, sal die land steeds daarop fokus om meer mense aan te moedig om teen Covid-19 ingeënt te word.

Lande met ʼn hoë aantal infeksies sal ook nou gemonitor en afvalwater sal gereeld getoets word. Tot dusver is die aantal Covid-19-vlakke wat in getoetse afvalwater aanwesig is, baie laag.

Phaahla sê inenting bly die beste wapen om Covid-19 te beveg.

Dr. Lesley Bamford, verbonde aan die departement van gesondheid, sê hulle beoog om teen die einde van die maand bykomende opvolgdosisse vir ouderdomsgroepe ouer as 18 en 50 beskikbaar te stel. Mense ouer as 18 kwalifiseer tans vir drie opvolgdosisse van die entstof, terwyl mense ouer as 50 vir vier opvolgdosisse kwalifiseer. Dit sal onderskeidelik dan na vier en vyf opvolgdosisse verhoog word.

Kinders tussen 12 en 17 kan tans twee dosisse van die Pfizer-entstof ontvang. Bamford sê daar word nie nou beplan om nog opvolgdosisse vir dié ouderdomsgroep beskikbaar te stel nie en dat dit ook nie aanbeveel word nie. Dit is hoofsaaklik omdat die twee dosisse Pfizer genoegsame beskerming bied en omdat hierdie ouderdomsgroepe as lae risiko vir ernstige siektes weens Covid-19 bestempel word.

Intussen is ʼn dringende hofaansoek teen die bevordering en toedien van die Covid-19-entstof Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Project Vaeca (Vaccine Adverse Effects Class Action) het die dringende hofaansoek ingedien en voer aan diegene wat die entstof ontvang het, doen ernstige gesondheidsprobleme op. Die organisasie sê die dringendheid van die saak word verhoog weens die regering se “roekelose besluit om kinders tussen vyf en 11 jaar oud met eksperimentele en onnodige” Covid-19-entstof in te ent.

Meer inligting hieroor sal geplaas word sodra dit bekend is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

vuurvliegie ·

Inperkings is een van die hoof redes waarom besighede se deur toegemaak het.
In hierdie tyd van inperking het Eskom ook vinnig agteruit gegaan wat grootskaalse loadshedding tot gevolg het. .

Hennie Biebouw ·

Teen hierdie tyd is daar meer as genoeg wêreldwye data beskikbaar wat die argument staaf dat inperkings en maskers weining bygedra het tot die vertraging van die virus se verspreiding en die vermindering van sterftes. Om die waarheid sê die jurie is nog uit op die effektiwiteit van entstowwe.
Hierdie gesprek dus is onnodig.

Miskruier ·

Of jy nie die spuit gehad het, of nie, ons almal is belieg. Die vaksien het nie die verspreiding gestop nie. Sommige is dood aan covid en ander aan die vaksien.

Truman Burbank ·

Elke liewe persoon wat ek van weet wat dood is aan covid, het geen simptome gehad, maar na die toets dodelik siek geword.

Nefie ·

Hoekom is hierdie nuus, lyk my daar is eintlik niks aan die nie. Iemand soek nou weer iets waar daar niks is nie, krap waar dit nie jeuk nie.

Astrain ·

Inperkings??? Daar is geen manier op die aarde dat ek my weer sal onderwerp aan daardie waansin nie!!!

Nie Verbaas ·

Ek stem. Ons regering beskik nie oor die vermoë om nagevolge in ag te neem nie.

domheks ·

wat se kopdoek? geen drank geen sigarette geen klere wat hulle nie goedkeur nie!

Papsak ·

MOENIE KRAP WAAR DkIT NIE JEUK nie EK STEER M Y AAN NIKS MEER NIE

Frank John ·

Elkeen moet na sy eie beperkings omsien, as jy nie ander se kieme wil in-asem nie dra masker, al dan nie, jou eie gevolge, as jy nie aan ander se kieme wil raak nie -sanitize.

Yolandie ·

Ek stem saam met jou Hennie, geen lockdowns of masker weer vir my nie hulle kan gaan doppies blaas.

George ·

Vinnig om nou terug te kyk en te oordeel. Toe dit oorspronklik uitgebreuk het, onthou hoe dit in Italie, Spanje ens gegaan het, self in SA hoeveel mense is dood.

Nici ·

Beperkings/inperkings was nog nooit nodig nie. Punt. Klaar. Tensy mens tevrede is om die middelklas en armes verder te verarm totdat hul doodgaan van honger.

Amelia ·

Is die media verplig om slegs regeringsbronne te raadpleeg vir artikels? Kan ons nie ten minste ‘n paar onafhanklike kenners se opinie oor die inentings kry as teenwig nie want die regering is klaarblyklik nie op hoogte van die nuutste feite nie en myns insiens versprei hulle misinformasie.

Ilze ·

China is tot onlangs so erg ingeperk dat daar geen “herd immunity” opgebou kon word nie. Nou dat hulle meer kan rondbeweeg neem gevalle toe. So wat sê dit vir jou. Inperking beteken niks. En wat se inperkings dink die regering gaan ons duld? Niks, geen. Het die vorige sotlike inperkings wat hulle op ons afgedwing het gehelp? Behalwe om mense PTSD te gee, lewens en besighede te verwoes.

Yolandie ·

Waar wat jy hier sê ilze, ons moet ons net nie steur meer aan wat die regering rakende Covid weer aan ons wil afdwing nie. Dit is nie ‘n polisie staat nie, ons het regte!

Truman Burbank ·

Ek twyfel of hul sal weer inperk. Hul het geslaag in hulle doel

Francois ·

Waar daar n rokie is moet daar n vuurtjie wees. ANC kaders soek weer geld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.