Covid-19-samevatting: Klagtes ure voor afsondering

Ebrahim Patel Donderdag by die mediakonferensie in Pretoria. (Foto: Twitter)

Die webwerf waarop maatskappye moet registreer wat noodsaaklike dienste gedurende die algehele landwye afsondering moet lewer, het teen Donderdagmiddag steeds nie gewerk nie. Dít etlike ure voordat die afsondering om middernag ingestel word en die sperdatum daarvoor verstryk.

Die departement van handel en nywerheid het Woensdagaand in ’n verklaring verseker dat die webwerf vanoggend teen die begin van algemene werksure in ’n werkende toestand sal wees.

“Dit is niks anders as onbevoegdheid aan die departement se kant om behoorlik hiervoor te beplan nie. Nou skarrel ondernemings in ’n poging om te probeer verstaan hoe hulle sertifikate gaan bekom,” het Dean Macpherson, die DA se skaduminister van handel en nywerheid, in reaksie op die sukkelende webwerf gesê.

“Dit wil voorkom asof almal in Suid-Afrika geweet het dat hierdie sertifikate nodig sal wees, afgesien van die mense wat by die departement werk, aangesien hulle nie vroeër hiervan werk gemaak het nie.”

Macpherson doen nou ’n beroep op Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, om die probleem op te los.

Verstryking van lisensies

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Woensdag gesê motoriste sal ’n grasietydperk geniet, sou  motorlisensies gedurende die afsonderingstydperk verval en dus nie hernu kan word nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum is egter bekommerd oor hernuwingsaansoeke vir vuurwapenlisensies gedurende die tyd van afsondering.

(Argieffoto)

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê in ’n verklaring die organisasie het sy regspan opdrag gegee om ’n brief aan Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, te rig waarin AfriForum  sy kommer uitspreek dat vuurwapeneienaars se vermoë om hul vuurwapenlisensies betyds te hernu, nou negatief beïnvloed sal word.

Volgens Cameron is AfriForum bekommerd dat die huidige toedrag van sake daarop dui dat die hernuwing van vuurwapenlisensies nie as noodsaaklike rede geag word om die huis te verlaat nie of dat polisiestasies in die lig van die ramptoestand sal weier om aansoeke te aanvaar.

AfriForum het ook in die brief navraag gedoen oor die moontlikheid dat vuurwapeneienaars uitstel sal kan kry indien hul lisensies gedurende dié tydperk verval.

“Die ramptoestand moet egter só bestuur word dat daar aan alle aspekte aandag gegee word, waaronder regmatige vuurwapenbesit. Die nagmerrie wat mense moet deurgaan indien hulle nie hul lisensies binne die voorgeskrewe tydperk hernu nie, is uitmergelend en hou baie risiko’s vir dié eienaars in,” het Cameron gesê.

Toiletpapier en die landwye afsondering

Suid-Afrikaners hoef hulle egter nie oor toiletpapier gedurende die landwye afsondering te bekommer nie. Twinsaver het verseker dat daar genoeg voorraad is om in Suid-Afrikaners se behoefte aan toiletpapier gedurende die volgende 21 dae te voorsien. Chevonne Wilkins, bemarkingsdirekteur van Twinsaver, het in ’n verklaring gesê vervaardigers van toiletpapier het aanvanklik onder groot druk verkeer nadat pres. Cyril Ramaphosa streng maatreëls weens die verspreiding van Covid-19 afgekondig het.

“Ons het egter in reaksie hierop ons produksie en verspreiding opgeskerp. Voorraad word nou daagliks na kleinhandelaars oor die hele land versprei,” het Wilkins gesê.

Covid-19

Meer as 490 000 bevestigde gevalle van Covid-19 is oor die wêreld aangemeld met meer as 22 000 mense wat weens die virus omgekom het. Meer as 118 000 het egter reeds van die virus herstel.

Mense luister na pres. Wladimir Poetin terwyl hy die nasie toespreek oor Covid-19. (Foto: Alexander Zemlianichenko/AP Photo)

Talle lande het reeds ’n algehele afsondering ingestel.

Hoewel Italië onlangs nóg 638 sterftes en 5 210 Covid-19-gevalle aangemeld het, het die aanvanklike skerp styging in gevalle danksy afsondering begin afneem. Altesaam 74 386 mense in dié land het Covid-19 onder lede.

Die Tsjeggiese Republiek het nog streng maatreëls ingestel in ’n poging om die verspreiding van die virus hok te slaan. Meer as twee mense mag nie meer saam in die openbaar verskyn nie.

Rusland het nou sy eerste twee sterftes aangemeld. Dié pasiënte was bejaard met onderliggende mediese toestande. Meer as 600 gevalle is hiér aangemeld.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phil ·

Lekker vet gemors. Kom ons kyk of julle regering ‘n groter gemors kan aanvang as ons s’n hier in Australie. Die manier waarop hulle die hele ding hanteer sover is ‘n grap wat ongelukkig nie baie snaaks is nie.

Wiehan ·

En my besigheid is in Telekommunikasie en ons moet ook internet dienste lewer, maar dis ;n helse probleem om jou tegnikuste te registreer. Lyk my jy kan net een mens registreer, en dan moet mens die sertifikaat aflaai maar daar is geen plek om dit te doen nie. Belaglik. Van ons subscribers sit sonder diens en dis nou mense wat van die huis moet werk

Miskruier ·

Ek kan nie die toiletpapier debakel verstaan nie…as jy sonder papier is, gaan haal n paar blare in die tuin. Net nie Brandnetel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.