Covid-19-samevatting: Skoolhoof toets positief

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn 56-jarige skoolhoof van ʼn skool in Noordwes het positief getoets vir die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die provinsiale departement van onderwys het Woensdag in ʼn verklaring gesê die betrokke skoolhoof het Maandag olik begin voel, waarna hy ʼn dokter gaan sien het. Die skoolhoof is toe vir Covid-19 getoets waarna sy toetsuitslae Dinsdag positief teruggekom het.

Luidens die verklaring is die skoolhoof nou vir 14 dae tuis in kwarantyn.

“As departement is ons geskok oor dié nuus. Ons werk saam met die departement van gesondheid wat ons aangeraai het om die skool onmiddellik te sluit,” het Mmaphefo Matsemela, LUR van onderwys in Noordwes, gesê. Die naam van die skool is nie bekendgemaak nie.

Volgens Matsemela sal die betrokke skool tot verdere kennisgewing gesluit bly hangende ʼn ondersoek.

Wes-Kaap

(Argieffoto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Nog 41 pasiënte in die Wes-Kaap het gesterf weens Covid-19. Dit bring die provinsie se dodetal op 562 te staan.

Die provinsiale regering het intussen weer ʼn oorsig gedoen van al die komorbiditeite (onderliggende en/of voorafbestaande siektetoestande) wat verband hou met Covid-19-verwante sterftes in die provinsie. Daar is bevind dat diabetes en hipertensie die mees algemene komorbiditeite in Covid-19-sterftes in alle ouderdomsgroepe is.

So lyk die drie top-komorbiditeite per ouderdomsgroep in die Wes-Kaap:

OuderdomsgroepDiabetesMIVHipertensie
20 – 39 jaar oud30%25%20%
40 – 49 jaar oud51%33%28%
50 – 59 jaar oud70%27%63%

Maroela Media het vroeër berig altesaam 23 583 bevestigde gevalle van Covid-19 is tot op hede in die Wes-Kaap aangemeld.

Altesaam 35 812 gevalle is reeds regoor die land aangemeld. Volgens syfers wat die nasionale instituut vir oordraagbare siektes Dinsdagaand bekendgemaak het, het nóg 50 mense sedert Maandag landswyd weens Covid-19 gesterf. Dit bring die totaal op 755 te staan.

Dit is nou sowat ses maande sedert die nuwe koronavirus die eerste keer in Wuhan in China kop uitgesteek het. Altesaam 6 452 761 bevestigde gevalle van Covid-19 is sedertdien in 213 lande regoor die wêreld aangemeld.

Volgens Worldometer se statistieke het die virus reeds 382 485 lewens geëis hoewel 3 067 697 mense reeds van Covid-19 herstel het. Sowat 98% van alle pasiënte het slegs matige simptome van die virus getoon. Dit sluit in koors en asemhalingsprobleme.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Flip ·

Ons kan ook byvoeg dat 90 % het bruin oe en 99% dra skoene ens, m.a.w. nikseggende statistiek.

Luister ·

As jy nie belang stel nie, sê dit vir jou niks. Vir my sê dit as jy ‘n diabeet is en kry die virus en jy is tussen 40 en 49, dan is jy een uit 2 mense wat kan sterf.

Mariana ·

Verstaan nou nie hoekom die departement so vreeslik geskok is nie. Ek dog die heeltyd ons almal sal die virus een of ander tyd kry. Wat maak die skoolhoof nou meer belangrik as enige ander persoon wat dit kry. Die departement moet net sorg dat skool goed ontsmet is en dat leerders kan verder skoolgaan.

J ·

Waarom NOU dat die skole moet oopmaak skielik die PUBLISITEIT oor die skoolhoof wat besmet is met die virus?

Iemand wil hê die kinders en onderwysers moet NIE skool toe gaan nie?

ANC? ????

marius ·

Hy is gelukkig om tuis in kwarantyn te wees . In limpopo is dit ‘n heel ander storie .Hoop hy herstel spoedig .

Marisa W ·

Gaan ons nou alles was diabetes en hipertensie veroorsaak ook verban?

Marisa W ·

Hoekom plaas hulle nie sommer nou ook die syfers oor hoeveel rokers gesterf het nie – dit sal mos nou die staat se saak baie help – of plaas hulle dit nie omdat die nie die staat se saak sal versterk nie…

Nico ·

Dit blyk dat die baie persone aan meer as een siektetoestand ly. bv miv EN diabetes ens.
Dit blyk ook dat die MIV insidensie by persone wat sterf minstens DUBBEL is as wat in die bree samelewing voorkom.

Francois ·

Dis so snaaks. Skoolhoof toets positief. Dit het niks met die skool te doen. Skole was nie oop deur covic maande. Hy moes dit iewers anders opdoen. Hou op om die skole skuld te gee vir als

Francois ·

Almal is so gekant om hulle kinders terug te stuur skool toe maar gaan kyk hoeveel kinders speel saam in die strate. Gaan ons nou vra dat die speelplekke ook verwyder word by Spur restaurante as die eetplekke oopmaak. Mense kla net omdat hulle belangrik wil voel

Jaco ·

Dit wil vir my lyk sigarette is dalk nie so groot probleem nie. Maar die regering moet onmiddellik al die suiker produkte van die rakke verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.