Covid-19: SA’ners in kwarantyn eindelik getoets

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Die groep Suid-Afrikaners wat verlede naweek uit Mosambiek teruggekeer het en in kwarantyn by ʼn kwarantynfasiliteit in Nelspruit in Mpumalanga geplaas is, is eindelik vir Covid-19 getoets. Dít nadat hulle aanvanklik nié by die fasiliteit getoets of toegelaat is om hulself privaat te laat toets nie.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, het in ʼn verklaring gesê ʼn private laboratorium het die groep Donderdag vir die nuwe koronavirus getoets nadat die VF Plus die nasionale departement van gesondheid genader het wat met die provinsiale departement in verbinding getree het. Die groep is tans in kwarantyn by die Mercure-hotel.

“Die VF Plus het daarop aangedring dat die mense wat bereid is om self vir die Covid-19-toets te betaal toegelaat word om deur ’n private laboratorium getoets te word. Hierdie toetsing is om onduidelike redes geweier,” sê Van Staden.

Volgens Van Staden gaan die VF Plus nie die saak hier laat nie. “Daar moet op hoë vlak verduidelik word waarom die provinsiale departement hierdie houding ingeneem het. Om mense te ontneem van hul reg om getoets te word terwyl hulle in ʼn kwarantyngerief is, is ʼn growwe skending van hul menseregte.”

Van Staden voer aan dat diegene wat uit die buiteland gerepatrieer word en in kwarantyn geplaas word, binne 48 uur behoort getoets te word.

Die VF Plus het intussen ook stem dik gemaak oor die regulasies wat bepaal dat mense vir 14 dae in kwarantyn geplaas moet word. Volgens die party behoort die regulasies gewysig te word dat mense die keuse het om, indien hulle dit kan doen en bewys daarvan kan lewer, selfkwarantyn toe te pas.

Maroela Media het vroeër berig daar is aan die groep Suid-Afrikaners vertel dat hulle die volle 14 dae in kwarantyn sal bly nadat hulle meer as drie maande in Mosambiek gestrand was weens die algehele landwye afsondering.

“Ons grootste bekommernis is dat daar geweier word dat ons privaat getoets word. Ons wil getoets word sodat ons kan huis toe gaan, maar daar word heeltyd vir ons gesê ons sál 14 dae bly,” het Marlene van der Nest vroeër aan Maroela Media gesê. Van der Nest is saam met haar twee jong kinders in kwarantyn geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PieterP ·

Rassisme is die verduideliking dit is al. Ons is in beheer, ons sal julle wys. Dit is hoekom die toetse geweier is. Daar behoort nou eise teen die departement en teen die individuele persone ingestel te word. Laat die blikskottels betaal vir dke onnodige stres en pyn en lyding ens. Die trok drywers wat daagliks heen en weer tussen Mosambiek, Swaziland, Botswana en Zim byvoorbeeld die grens oorsteek word toegelaat en geen kwatantyn… Maak sin nê!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.