SA’ners eindelik terug uit Mosambiek, nou in ‘tronk’

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Sowat 120 Suid-Afrikaners wat sedert Maart in Mosambiek gestrand was, kon die afgelope naweek eindelik terugkeer na Suid-Afrika. Hulle is desperaat om ná drie maande eindelik huiswaarts te keer, maar moet nou noodgedwonge 14 dae lank in ’n kwarantynfasiliteit aanbly.

“Ons is steeds nie getoets nie, maar daar word aan ons gesê dat ons 14 dae lank in kwarantyn sál bly. Ons word soos gevangenes behandel,” vertel een van die Suid-Afrikaners Woensdag aan Maroela Media.

Roy Mcrae vertel dat hy in Februarie aanvanklik drie weke lank in Mosambiek sou werk waarna hy sou terugkeer na sy woonplek in Johannesburg. Die algehele landwye afsondering is egter in dié tyd ingestel en Mcrae is saam met talle ander in Mosambiek gestrand gelaat.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrikaners in Mosambiek sonder geld of medikasie moes klaarkom en dat daar groot onsekerheid geheers het oor die rede waarom hulle nie kon terugkeer nie.

Mcrae kon Vrydag eindelik na Suid-Afrika terugkeer, waarna hy in ’n kwarantynfasiliteit in Nelspruit in Mpumalanga geplaas is. Nie hy of enige van die ander Suid-Afrikaners is sedertdien al vir Covid-19 getoets nie. Die groep word ook verbied om hulself privaat te laat toets, sê hy.

Volgens Mcrae is ’n private laboratorium bereid om die groep Suid-Afrikaners by die fasiliteit te toets vir Covid-19, maar die personeel by die fasiliteit weier dat enigeen van buite die fasiliteit binnekom.

“Ek het nie geld by my nie omdat ek aanvanklik net genoeg saamgevat het om vir drie weke in Mosambiek aan te bly. My vrou het nou vir my geld oorgeplaas om kos te koop aangesien die fasiliteit se kos oneetbaar is. Die personeel wil ook nie toelaat dat iemand vir my geld gaan trek nie,” sê hy.

“Ek is nou langer as 100 dae weg van die huis en sit soos ’n gevangene hier,” vertel Mcrae.

Marlene van der Nest en haar twee jong kinders is ook die afgelope naweek by die betrokke fasiliteit in kwarantyn geplaas. Haar kinders, onderskeidelik sewe en 11 jaar oud, het voor die afsondering vir die skoolvakansie by hul grootouers in Mosambiek gaan kuier.

Van der Nest kon Vrydag ná 83 dae eindelik haar kinders by die grens van Suid-Afrika en Mosambiek gaan haal, waarna sy saam met haar kinders in die fasiliteit in kwarantyn geplaas is. Sy woon in Witrivier, sowat 19 km van Nelspruit.

“Ons is so naby aan die huis. Die kinders huil. Ons voel soos tronkvoëls. Hul pa kom kuier darem vir ons deur die hek. Dit is vrek koud en hy kon darem vir hulle warm klere saambring.”

Volgens Van der Nest kan sy en haar kinders nie kla oor die kos of die toestand by die fasiliteit nie. “Ons grootste bekommernis is dat daar geweier word dat ons privaat getoets word. Ons wil getoets word sodat ons kan huis toe gaan, maar daar word heeltyd vir ons gesê ons sál 14 dae bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Teenstrydigheid?? Mcrae se die kos is oneetbaar en word hulle soos gevangenis behandel, Van der Nest se sy en haar kinders kan nie kla oor die toestand of kos by die fasiliteit nie. Al twee is by dieselfde fasiliteit in kwarantyn. Wat en wie moet ons nou glo??

Oom Hennie Pennie ·

Vriende van my vanaf Malawi is in Midrand in kwarantyn en het ook geen klagtes nie??

Bernard ·

As dit vir hulle Lekker is, kan hulle gerus daar bly. Nie almal kruip noodwendig voor die ANC se planne nie

Bernard ·

Is hulle totaal onbewus daarvan dat hulle, na ‘n hofuitspraak, by die huis mag self isoleer?
Waarom steur mense hulle aan hierdie skurke?

Anoniem ·

Bernard, jy is heeltemal reg, dit wil vir my voorkom asof mense nie bewus is wat die hof beslis het nie. Die regering mag nie mense meer dwing om in hulle kwarantyn fasiliteite te bly nie.

Sarel ·

1. DiexRegering oortree, wat my betref ‘n Hofbevel oor die hantering van Kwarentyn geriewe en menswaardigheid van burgers.
2. Hou tog op.met kla, julle is ten minste al terug in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.