Covid-19-statistieke: Meer as 130 000 ingeënt

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is tans 192 726 aktiewe Covid-19-gevalle in Suid-Afrika nadat nog 12 535 nuwe gevalle aangemeld is. Dit bring die totale laboratoriumbevestigde gevalle op 2 219 316 te staan.

Dít verteenwoordig ’n positiwiteitskoers van 24,2%.

Hoewel die getal nuwe gevalle hoër as die vorige dag is (11 182), blyk dit steeds minder as die gemiddelde getal nuwe gevalle oor die voorafgaande sewe dae te wees (18 344).

Luidens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se jongste bywerking is 51 798 mense sedert die vorige verslag vir die koronavirus getoets terwyl altesame 137 421 mense oor die afgelope 24 uur teen Covid-19 ingeënt is. Dit is heelwat minder as die aantal mense wat die vorige dag ingeënt is (146 577).

Maroela Media het vroeër berig dat sommige inentingsentrums in Gauteng en KwaZulu-Natal egter tydelik moes sluit weens voortslepende gewelddadige onluste in dié provinsies.

Die departement van gesondheid het inwoners in Gauteng en KwaZulu-Natal Dinsdag afgeraai om afsprake vir inentings na te kom in gebiede wat deur gewelddadige betogings en plundery geteister word.

Die departement sê dat pasiënte wat reeds op die regering se aanlyn stelsel vir inentings geregistreer het, ’n nuwe afspraak sal ontvang aangesien afsprake wat misgeloop word tot twee keer herskeduleer kan word.

Gauteng het steeds die grootste toename aangedui met 6 316 nuwe gevalle wat in dié provinsie aangemeld is. Die tweede meeste gevalle is in die Wes-Kaap (1 713) aangemeld gevolg deur Limpopo (903), Noordwes (911) en KwaZulu-Natal (873).

In Mpumalanga is 638 nuwe gevalle aangemeld terwyl 611 nuwe gevalle in die Oos-Kaap en 446 in die Vrystaat aangeteken is. Altesame 126 nuwe gevalle is in die Noord-Kaap aangeteken.

Die Nios sê verder in sy verslag dat hospitaalopnames met 619 toegeneem het en dat 633 Covid-19-verwante sterftes sedert die vorige verslag aangemeld is. Dít bring die algehele sterftesyfer op 65 142 te staan.

Altesame 1 961 448 mense in die land het reeds van die virus herstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SwartBees ·

Offcourse gaan die totale skerp daal want wie is mal genoeg om in die chaos in n ry te gaan staan om getoets te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.