Oproer ontwrig inentings, gesondheidsdienste

Onluste in Durban, KwaZulu-Natal (Foto: AFP)

Hoewel die nasionale inentingsprogram teen Covid-19 in die meeste provinsies voortgaan, het die gewelddadige onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng dié program en verskeie gesondheidsdienste in dié provinsies ontwrig.

Die departement van gesondheid het Dinsdag gesê dat die voortslepende geweld ’n groot impak op die uitrol van die inentingsprogram in verskeie gebiede het en ook talle mense verhinder om chroniese medikasie vir onder meer diabetes, MIV en tuberkulose te bekom.

“Die regering en private sektor se prioriteit is om lewens te beskerm en leed aan personeel en pasiënte te voorkom. Mediese voorraad en eiendom wat deel van die inentingsprogram vorm, moet ook beskerm word.

“Om dié rede sal sommige inentingsentrums wat reeds beskadig is of die risiko loop om beskadig te word, as ’n voorkomingsmaatreël tydelik gesluit word,” sê Popo Maja, woordvoerder vir die gesondheidsdepartement.

Inwoners in Gauteng en KwaZulu-Natal word afgeraai om afsprake vir inentings na te kom in gebiede wat deur gewelddadige betogings en plundery geteister word.

Die departement sê dat pasiënte wat reeds op die regering se aanlyn stelsel vir inentings geregistreer het, ’n nuwe afspraak sal ontvang aangesien afsprake wat misgeloop word tot twee keer herskeduleer word.

“Ons maan inwoners om nie na inentingsentrums in gebiede wat deur die geweld geraak word, te gaan nie.

“Indien jy onseker is of ’n spesifieke inentingsentrum geraak word, bel vooruit alvorens jy jou afspraak nakom.”

Die departement sê voorts dat hulle eersdaags ’n lys sal publiseer met al die inentingsentrums wat weens die geweld tydelik gesluit is.

“Die departement neem ook kennis van mediese voorraad en medikasie wat tydens die plundering by apteke en mediese sentrums gesteel is.

“Die publiek word gewaarsku om nie enige medisyne te koop wat nie deur geregistreerde mediese praktisyns, hospitale of apteke verkoop word nie en om sodanige aktiwiteite by die polisie aan te meld.

“Gesteelde medikasie of medikasie wat verkeerdelik uitgereik of toegedien word, is uiters gevaarlik.”

Die departement sê hy werk onverpoos saam met departemente in die veiligheidsektor om te verseker dat dienste by inentingsentrums binnekort voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.