Covid-19-statistieke: Positiwiteitskoers daal steeds

(Argieffoto: Unsplash)

Die positiwiteitskoers vir Covid-19-toetse daal steeds en het teen Dinsdagaand op 12,3% gestaan.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê in sy daaglikse verslag meer gevalle is egter Dinsdag aangemeld as ʼn dag tevore. Altesame 5 372 nuwe gevalle is bevestig, in vergelyking met die 4 118 wat ʼn dag tevore aangemeld is. Dit is wel laer as die gemiddelde getal nuwe gevalle oor die vorige sewe dae (7 397).

Daar is tans 135 236 aktiewe gevalle van die virus en altesame 2 829 435 positiewe gevalle sedert die uitbreking van die pandemie. Tot dusver het 2 610 300 mense reeds herstel.

Nog 282 sterftes is bevestig wat die algehele sterftesyfer op 83 899 te staan bring.

In die 24 uur voor die jongste verslag is 43 632 toetse vir Covid-19 gedoen. Hiervan was 19 424 (45%) in die private sektor en 24 208 (55%) in die openbare sektor. Meer as 16,2 miljoen Covid-19-toetse is tot dusver gedoen.

Nog 302 mense is in die vorige 24 uur in hospitale opgeneem. Tans word 5 211 mense in private hospitale en 6 218 mense in staatshospitale vir Covid-19 behandel, wat die algehele syfer op 11 429 te staan bring.

Gister is 202 637 mense teen Covid-19 ingeënt, terwyl die regering steeds mik om 300 000 mense per dag in te ent. Meer as 13,8 miljoen mense is tot dusver teen die koronavirus ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.