Covid-19: Universiteite, kolleges ook nou gesluit

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Ntswe Mokoena

Alle universiteite en instellings van hoër onderwys sal nou ook van Woensdag gesluit wees om die verspreiding van Covid-19 te verhoed. Só het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Dinsdag aangekondig.

“Hierdie aankondiging beïnvloed ongeveer 2,5 miljoen studente in die private en openbare sektor,” het Nzimande gesê.

Instellings sal tot ongeveer 15 April gesluit wees. Dié datum kan egter aangeskuif word sou die regering meen dat die risiko vir infeksie van Covid-19 nog nie na wense afgeneem het nie.

“Dié besluit het meestal ʼn effek op die akademiese aktiwiteite van voorgraadse studente. Nagraadse aktiwiteite en navorsing gaan grotendeels voort soos gewoonlik,” sê Nzimande. Hy sê instansies sal hierdie tyd gebruik om nuwe maniere te ondersoek waarop tegnologie aangewend kan word om afstandsonderrig te vergemaklik. Hy sê ook universiteite sal afsonderlike reëlings met betrekking tot studente se verblyf en personeel se verlof tref.

“Alle instansies sal ook verdere maatreëls aankondig om die verspreiding van die virus te bekamp. Dit sluit in dat alle internasionale reise vir studente en dosente afgeskaf is. Dié wat onlangs teruggekeer het ná internasionale reise word aangeraai om hulself vir twee weke in kwarantyn te plaas,” sê Nzimande. Alle groot byeenkomste soos gradeplegtighede is ook uitgestel.

Hy het ook verwys na Suid-Afrikaanse studente wat in ander lande studeer. “Ons is tans besig met ʼn opname van studente in ander lande en weet dat sowat 1 500 Suid-Afrikaners in China studeer. Ons is egter nie bewus van enige studente wat in nood verkeer of met die virus gediagnoseer is nie, maar vra dat studente met ons sal kommunikeer,” sê Nzimande.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.