Covid-subvariant: Bevelsraad vergader; minister gaan praat

(Argieffoto: Unsplash)

Die nasionale Covid-19-bevelsraad sal Dinsdag oor die nuwe Covid-19-subvariant, bekend as XBB.1.5, vergader.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag gesê daar sal tydens die vergadering ʼn verslag van die departement van gesondheid ontvang word met meer inligting oor die nuwe subvariant wat einde Desember vir die eerste keer in Suid-Afrika deur navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig is.

Daar is egter geen rede tot kommer nie, het Ramaphosa gesê. “Sommige mense vra of ons weer beperkings of inperkings gaan hê – verre daarvandaan. Ons moet net ingelig word oor wat met hierdie variant gebeur.”

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, en sy adjunk sal intussen om 12:30 vandag ʼn mediakonferensie oor die Covid-situasie in die land toespreek.

Die departement van gesondheid het vroeër gesê hy is nog besig om inligting oor ʼn pasiënt by wie die nuwe Covid-19-subvariant geïdentifiseer is, in te samel. Die departement het wel ʼn beroep op mense gedoen om ingeënt te word, opvolginentings te ontvang, maskers te dra, veilige afstand van ander te handhaaf, besige plekke te vermy en gereeld hande te was.

Prof. Tulio de Oliveira, ʼn professor in bio-informatika aan die US, het vandeesweek gesê daar was tot dusver egter nog geen toename in gevalle, hospitaalopnames of sterftes weens die nuwe variant nie.

Die variant is tans die oorheersende een in die VSA en is reeds in 28 lande aangemeld. XBB.1.5 is ʼn afstammeling van die XBB-subvariant, wat ʼn kruising tussen twee vroeëre stamme van die koronavirus is.

Die variant het onder sommige wetenskaplikes die bynaam “kraken-variant” gekry weens sy vermoë om te versprei, maar tot dusver was daar geen beduidende verskille in die erns van gevalle wat veroorsaak is deur XBB.1.5 en ander variante nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Bernard ·

Gaan ons weer val vir Tulio se stories? Nog ‘n plundergeleentheid.

Truman Burbank ·

Hmm. Nou wonder ek hoeveel mense sal val vir die grap. Ons sal maar kyk hoe gaan dit met die toilet papier verkope

annie ·

Het Cyril gesë: “verre daarvandaan…” Maar die man kort ‘n akademie-prys vir sy boere-afrikaans. Hy het seker van die woord onthou toe hy verduidelik het dat hy verre weg was van sy wildplaas toe die geld na iewers verre weggeraak het nadat ‘n skatryk uitlander onverwags op Kersdag uit ‘n verre land opgedaag het om met groot geld van sy groot wild verre weg uit te voer. En Cyril kry toe ‘n verre kyk in sy oë toe hy dink aan die verre ou dae toe hy nie skuldig hoef te gevoel het nie; verreweg die beste tyd van sy loopbaan as prez…

Strandloper ·

“kraken-variant” nes die anc, almal n kraak of tien weg…

Henri ·

The boy WHO cried wolf… Of in Afrikaans, die Wrede Gemene Opportunis skree wolf…

Truman Burbank ·

Kraken. DIe onoorwinbare. Voor hom was omicron, die parasiet wat mense oorneem. Daar was n fliek daaroor in 1963.

Ilze ·

Ek word sommer yskoud toe ek die berig lees. Nooit ooit weer asb moet ons onderwerp word aan die absurde reels wat gegeld het met die vorige inperking. Geen warm kos, mag nie oop skoene dra nie. Ek dog die Corona Council is ontbind?

Jacobus ·

Voordat sekere mense weer hartkrampe ontwikkel- die belangrikste statistiek wat gehou móét word is die voorkoms van hierdie variant onder gevaksineerde en nie-gevaksineerde persone – dis al! Wees vir ‘n verandering eerlik(snaakse verskeinsel) en rapporteer daarop! Wag en kyk!

Robert ·

“Bog, Twak en onsin!” om ‘n bekende radio reeks se een karakter se gunsteling frase aan te haal.

Truman Burbank ·

Twee kerns en een bepaler. Soos my hoërskool afrikaanse onnie gesê het.

Miskruier ·

Ek hoor van heelwat siekes en positief getoetsde in ons dorpie, snaaks genoeg is dit diegene wat die voorkomende spuite gehad het.

Truman Burbank ·

En hoe meer daar getoets word, hoe sieker word mense. hmmmm

Agie@toeka ·

Af met krag en aan met die plundery!! Hulle kan gaan doppies blaas!

Mieke ·

Wanneer CR sê daar is niks om oor te bekommer nie, Kan jy maar vir seker weet dat jy juis bekommerd moet wees!!!

Riana ·

Ja ne…. almal probeer so hard om hierdie ou dooie perd weer lewendig te kry

Nommer 7 ·

JvR, ek merk dieselfse verskynsel onder meer motoriste wat veiligheidsgordels dra.

Kattebol ·

Een goeie ding wat uit die hele covid debakel gekom het, is die handhaaf van sosiale afstand. Sommige mense het geen benul van persoonlike ruimte nie .

honeybee ·

En ou kopdoek lek haar lippe af, weer lekker geld maak vir haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.