Curro vier kwarteeu met groei in wins, leerders

Curro Hermanus. (Foto: Verskaf)

Curro, een van die grootste private onderwysinstellings in Suid-Afrika, toon ná 25 jaar in die bedryf steeds ʼn wesenlike groei in inkomste, wins én leerdergetalle.

Die groep vier vanjaar ʼn kwarteeu in die bedryf en het Maandag sy finansiële verslae vir die eerste helfte van 2023 bekendgemaak. Hiervolgens het die groep in die eerste helfte van die jaar ʼn wesenlike wins van R203 miljoen teen Junie 2023 getoon. Dit is 34% meer as die R152 miljoen in Junie verlede jaar.

Inkomste het met 16% toegeneem, van R2,1 miljard in 2022 tot R2,4 miljard in 2023. Hierdie styging kan grotendeels toegeskryf word aan ʼn 3% groei in leerdergetalle, sowel as die jaarlikse styging in skoolfonds.

“Dit is ʼn noemenswaardige prestasie om ʼn kwarteeu te bereik. Hierdie positiewe syfers is ʼn bewys van Curro se toewyding daaraan om gehalte-onderwys oor die jare te voorsien,” het Cobus Loubser, uitvoerende hoof van Curro gesê. “Die maatskappy is veerkragtig en in ʼn sterk finansiële posisie.”

Curro het sedert Desember nog ʼn skool bygekry en amper 200 nuwe onderwysers aangestel. Volgens Loubser is die groep se primêre doelwit binne die afsienbare toekoms om die gebruik van sy huidige fasiliteite uit te bou en te verbeter. Die groep het die afgelope ses maande R312 miljoen belê, onder meer in die verkryging van die Courtney House International School. Die groep wil in totaal R800 miljoen in kapitaalprojekte tydens 2023 bestee.

Leerdergetalle in al die groep se skole het in ses maande met amper 1 700 leerders toegeneem, van 70 724 in Desember 2022 tot 72 385 in Junie vanjaar. Die getal leerders in Curro se Meridian-skole het egter met 14% afgeneem, van 9 831 in Junie 2022 na 9 445 in Junie vanjaar. Dié skole word deur Curro bestuur as ʼn gesamentlike onderneming tussen Curro, Old Mutual en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), in ʼn poging om gehalte privaat onderwys aan lae inkomstegroepe teen ʼn billike prys te verskaf.

Curro is nietemin optimisties oor die pad vorentoe. “Ons doelwit was nog altyd om gehalte-onderwys aan soveel moontlik leerders in Suidelike Afrika te verskaf en ek is vol vertroue in die koers wat Curro inslaan. Ons vier nie net die afgelope 25 jaar nie, maar kyk vorentoe met dieselfde ywer en toewyding,” het Loubser gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gawie ·

Miskien moet ek my Matriekwiskunde by Curro gaan oordoen.
16% groei in wins, ‘groetendeels’ as gevolg van 3% groei in leerlingetalle. Waar kom die ander 13% groei vandaan? Verhoogde skoolfonds miskien?

Anel ·

Kyk bietjie wie is die meerderheid in daardie skole. En dan word daar gesê hulle is voorheen benadeeldes. Gewone mense kan nie daardie skole bekostig nie. Sê ook maar net.

otter ·

Nee jong jy is nogal verkeerd oor albei jou punte hier bo. Ek is n gewone mens en maak n punt daarvan om my kinders daar te sit .

Delia ·

Wees miskien tevrede met julle wins, maar is julle skole nie maar onbekostigbaar duur nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.