Meer as 494 000 mense het reeds die video gekyk nadat dit op 8 April op sosiale media beskikbaar gestel is. Ayisafani beteken “dit is nie dieselfde nie.” Die advertensie wys Mmusi Maimane, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, waar hy voor ʼn spieël staan en praat oor die stand van sake in die land.
Die DA versoek kiesers om die party te help om korrupsie, e-tol en Nkandla te beveg. “Suid-Afrika het goeie leiers gehad wat die land bevorder het, maar sedert 2008 sien ons Jacob Zuma se ANC, en ʼn ANC wat korrup is en die land agteruit neem,” sê Maimane onder andere in die advertensie. Die advertensie sluit af met: “Stem vir die DA. Saam vir verandering. Saam vir werk.”
Die SAUK het vroeër geweier om die advertensie uit te saai en gesê dit hits geweld aan. Die DA het die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (Okosa) genader en die saak is na Okosa se klagte- en nakomingskomitee verwys. Die saak is egter onbepaald uitgestel nadat die SAUK ʼn nuwe regspan aangestel het. Die SAUK het ingestem om die DA se advertensie uit te saai terwyl sy nuwe regspan oorweeg of die saak moet voortgaan.