DA eerste keer aan bewind in Sentraal-Karoo

Linda Jacquet is tydens die vergadering as uitvoerende burgemeester verkies (Foto: DA, Twitter)

Met dié dat die DA ná die tussenverkiesing in September die leisels in die Prins Albert-munisipaliteit oorgeneem het, is dit die eerste keer dat dié party met ʼn volstrekte meerderheid en sonder koalisievennote aan bewind is in ’n munisipaliteit in die Sentraal-Karoo.

Die DA spog nou met ’n 50%-meerderheid in dié munisipaliteit.

Volgens Tertius Simmers, DA-leier in die Wes-Kaap, het die party Dinsdag die eerste DA-geleide raadsvergadering in die Sentraal-Karoo sedert 1994 belê.

Linda Jacquet is tydens die vergadering as uitvoerende burgemeester verkies, terwyl Stoffel Botes as adjunk- uitvoerende burgemeester en Margy Jaftha as speaker aangewys is.

“Die DA se oorwinning is ’n duidelike aanduiding van die vertroue wat landelike kiesers in die party het. Dit is ʼn keerpunt, nie net vir die Prins Albert-munisipaliteit nie, maar ook vir die res van die Sentraal-Karoo,” sê Simmers.

Margy Jaftha is as speaker aangewys (Foto: DA, Twitter)

Die DA het met die wyk 4-tussenverkiesing op 14 September vingeralleen stof in die ANC, PA en die Karoo Gemeenskapsparty (KGP) se oë geskop. Hierdie partye het tot nou as drieparty-alliansie die munisipaliteit beheer, met die DA wat verlede jaar naelskraap die vierde setel in die munisipaliteit gemis het.

Die DA-kandidaat, Margy Jaftha, het wyk 4 in Prins Albert met 44 stemme van die KGP weggeraap.

Die DA het met altesaam 1 053 stemme (50,6%) gewen, gevolg deur die KGP met 1 009 stemme (48,49%), EFF met 13 stemme (0,62%) en die African Restoration Alliance (ARA) met ses stemme (0,29%).

Die KGP het die wyk verlede jaar met 31,18% stemme gewen en die DA was tweede met 29,52%.

Jaftha was aanvanklik ʼn wyksraadslid van die KGP, maar het in April vanjaar besluit om van die party weg te breek en het toe later by die DA aangesluit.

“Onder die leierskap van burgemeester Jacquet en die volle raad sal inwoners van Prins Albert die verskil ervaar, met dienste wat gelewer word en korrupsie nie geduld sal word nie. Die Sentraal-Karoo is in ’n proses van verandering,” sê Sharna Fernandez, DA-kiesafdelingshoof van Prins Albert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Manie ·

Vir hoe lank, van julle kiesers spring rond en bont soos dit hulle pas. Hou maar dop, dit gaan nie lank duur nie.

Althes ·

Kom ons spreek eerder lewe en positiwiteit. Die realiteit is daar, maar nie ñ gegewe nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Prins Albert bly steeds arm. Ek gee haar tot Krismis.

PieterJ ·

Nou moet DA net baie baie beter werk doen as anc, beste advertensie vir 2024 verkiesing as hul dit wel doen.

Eden ·

Mooi dorpie. Jammer party politiek neuk al die stadsrade so op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.