DA gaan appelleer teen beslissing oor kaderontplooiing

Regter Aubrey Ledwaba het Woensdag die party se aansoek, dat die ANC se beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik verklaar word, met koste in die Pretoriase hooggeregshof van die hand gewys. (Foto: DA/X)

“Die ANC se kaderontplooiingskomitee het regdeur die staat ingemeng by aanstellings en selfs sy tentakels in die regbank geslaan. Daar kan geen dringender grondwetlike saak wees as om ʼn regerende party uit te daag wat self erken het dat hy die onderskeid tussen party en staat uitgewis het om instellings vir sy eie voordeel te kaap nie.”

Só het die DA se Leon Schreiber reageer nadat regter Aubrey Ledwaba die party se aansoek, dat die ANC se beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik verklaar word, met koste in die Pretoriase hooggeregshof van die hand gewys het.

Die DA het reeds sy regspan opdrag gegee om as ʼn saak van dringendheid teen die uitspraak te appelleer.

Die ANC het Maandag, ingevolge ʼn ander hofbevel, die rekords van sy kaderontplooiingskomitee ná ʼn jare lange regstryd aan die DA oorhandig. Die DA glo dié dokumente gaan wys watter rol pres. Cyril Ramaphosa in die aanstelling van amptenare gespeel het, veral dié wat by staatskaping betrek word. Die dokumente dateer van 1 Januarie 2013, toe Ramaphosa voorsitter van dié komitee geword het.

Schreiber sê die notules onthul dat die ANC onregmatig met aanstellings in die staat ingemeng het en dat dié inmenging “al die pad tot in die hoogste hof in die land strek”.

“Die DA gaan die stryd opneem tot ons die beginsel vestig van ʼn onafhanklike, professionele staat wat al die mense dien – nie net die ANC nie,” sê Schreiber.

Die DA het die naweek, by die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes, gesê dit gaan een van die party se grootste prioriteite wees om weg te doen met kaderontplooiing.

Die verkiesing op 29 Mei het nou ʼn “referendum oor kaderontplooiing” geword, sê Schreiber.

DA-leier John Steenhuisen het ná die hofverrigtinge gesê kaderontplooiing is nie ʼn “slagofferlose misdaad nie” en sou die praktyk toegelaat word om voort te duur, gaan dit die land selfs verdere skade berokken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Daai regter/s wat uitspraak gegee het is dan een van die kader aanstellings, het da iets anders verwag?

Adriana ·

Julle mors jul asems en geld, jul kan daardie geld wat jul so op hof bevele uitgee beter aanwend in die Kaapprovinsie.

Deon ·

Die “baantjie vir boetie” aanstellings is nie net n ANC ding nie. Dit word ooral en in al die politieke partye toegepas. So was dit ook in die ou regering. Die probleem lê by die aanstelling van totaal onbekwame mense in poste. Wanneer onbekwame mense nog boonop die onbekwames aanstel dan is dit n baie groter gemors, en presies hoe die ANC hierdie land verwoes het.

Frederik C ·

Jip, die DA is ook nie te slim nie. Hol met alles hof toe , terwyl Cirril die regter vertel wat die uitspraak moet wees. Op ‘n stadium het Solidariteit ook daai kwaal gehad. Ek het toe maar my lidmaatskap gestaak, want het gevoel dit is my geld wat hulle mors

Kroo ·

Kader ontplooiing: Dit wil voorkom of die DA die verkeerde perd probeer ry.
Terloops — of Trump regters aanstel as bewys van kader ontplooing is onvanpas — niks met SA te doen nie.

Dalk moet gekyk word na die onwettige aanstelling van kaders:

1. Staatsposte is gekoppel aan salarisse daarom is daar so baie Direkteure/Ministers/Generaals ens
2. Daarom kry ons ook n direkteur of generaal — as voorbeeld — wat skroefies agter in n stoor sit en tel teen n reuse salaris vir die pos
3. Sekerlik is daar n posbeskrywing vir elke pos op aarde — maak dit wet — om onbevoedheid te verhoed
4. Voorbeeld:
a. Spesifieke ouderdom vir n pos– bewys
b.Gesondheidsvlak — formeel
c. Skolastiese/akademiese kwalifikasie — bewys
d. Pligstaat beskrywing van elke pos of aanstelling — hoe laag/hoog ook al– spesifieke take– teen doelstellings en doelwitte en — teen tydskale
e. Bewys van vorige toepaslike ervaring
f. Tydsduur van aanstelling geteken met prosedure as pligstaat nie nagekom word nie
ens ens
Kaders wat nou aangestel is sonder vereistes en buite voorskrifte is dan onwettig

Ongelukkig sal forensiese ondersoeke nodig wees om die huidige onwettighede/vervalsings/ skelmstreke – van kader aanstellings te kan bepaal

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy klink soos ‘n werkstudiebeampte, Kroo. Die NP het destyds ook kaders as direkteurs-generaal aangestel om regeringsbeleid te bevorder. Af en toe ook in ander kritieke senior poste. Maar hulle was wel toepaslik gekwalifiseerd en meestal bekwaam. Hulle kon ook steun op bekwame en apolitiese middelbestuurders wat beleid op grondvlak uitvoer. Vandag se kaders is uit en uit opportuniste wat onbeskaamd werk vir ANC en eie belang. Van hulle is ook nie toepaslik gekwalifiseer nie. Dis wel kommerwekkend dat amptenare in belangrike middelbestuursposte ook kaders is. ‘n Adjunkdirekteur in beheer van tenders en aankope is ‘n wegholtrein. ‘n Kader in die pos van direkteur: finansies is net so gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.