DA hou virtuele samekoms landswyd

John Steenhuisen (22 Mei 2021) (Foto: Our_DA/Twitter)

Die Demokratiese Alliansie het Saterdag sy virtuele Time4Change-samekoms aangebied.

Die party het ook “kykpartytjies” gehou in Bloemfontein, Rustenburg, Upington, Lusikisiki, Richardsbaai, Polokwane, Saldanhabaai en Soweto.

John Steenhuisen, leier van die DA, het tydens die byeenkoms gesê sy party is vol vertroue in die aanloop tot die landswye munisipale verkiesings op 27 Oktober. “Ons is gereed vir die uitdaging en die kompetisie. Ons het al lankal voorbereidings getref, toe die ander nog geslaap het. Ons is gereed om ons boodskap na Suid-Afrikaners te neem in elke gemeenskap reg oor die land,” het hy gesê.

Volgens hom is die DA die enigste hoop om Suid-Afrika om te keer. “Ons is die enigste party met die grootte, die reikwydte, die visie, die beleide en die mense wat in staat is om ernstig en realisties oor verandering te praat. Ons moet eenvoudig suksesvol wees, en ons moet dit vinnig doen.”

Hy sê elke munisipaliteit, elke wyk, elke stemdistrik “wat in Oktober blou word”, is ʼn stappie nader aan die doelwit.

“Suid-Afrika het die verkiesing hierdie jaar nodig, want verandering kan nie wag nie.”

Hy sê dit is geen geheim nie dat dorpe en stede letterlik uitmekaar val. “Die lys van munisipaliteite in ʼn kritieke toestand is nou langer as dié wat nog behoorlik funksioneer. Dienslewering het in honderde dorpe ineengestort. Krane het in die Oos-Kaap opgedroog. Begrotings word oral gesny – van behuising tot instandhouding van paaie en skooltoilette.

“Munisipaliteite skuld Eskom miljarde en is op die randjie om afgeskakel te word. Die massiewe plaaslikeregerings-ineenstorting die afgelope paar jaar het gemeenskappe byna onleefbaar gemaak. Mense het nou genoeg gehad.”

Hy sê voor verkiesings lei betogings soms tot resultate. “Wanneer die regerende party sien hul versuim kan gestraf word, dan spring hulle vinnig met ʼn paar sigbare projekte of beloftes. Vir die res van die tyd – vir die ander vier en ʼn half jaar tussen verkiesings – sien of hoor hierdie gemeenskappe egter niks van hul regering nie. Hul pleidooie en betogings word eenvoudig geïgnoreer.”

Volgens Steenhuisen is daar ʼn ander tipe protes wat beter resultate waarborg, en dit is om te stem. “Daardie eenvoudige aksie om ʼn kruisie in ʼn blok te trek op jou stembrief, dra meer gewig en bring meer verandering as duisende bande wat aan die brand gesteek word of duisende klippe wat gegooi word.”

Steenhuisen sê 30 miljoen Suid-Afrikaners leef nou onder die broodlyn. “Dit is die helfte van ons bevolking. Ongeveer 42% van Suid-Afrikaners van werkende ouderdom het nie werk nie. Dit is byna die helfte van ons volwasse bevolking. Ons ekonomiese landskap moet verander. Dit moet hervorm word, maar nie op die manier wat die regering dit wil doen nie.”

Hy sê dit hoef nie ʼn geval te wees waar een persoon verloor sodat ʼn ander kan wen nie. “Daardie tipe denke sal nooit die lewens van 30 miljoen arm Suid-Afrikaners verander nie. Dit sal slegs ʼn paar welgestelde mense vervang met ʼn paar ander welgestelde mense.”

Hy sê die enigste betekenisvolle wyse om die ekonomie te hervorm is om miljoene Suid-Afrikaners uit armoede te lig en hulle in poste te kry en geleenthede te skep. “Om vir hulle ʼn aandeel te gee in hul eie toekoms en die vermoë om vir hulleself ʼn lewe van waardigheid en onafhanklikheid te bou. As ʼn oplossing nie dít ten doel het nie, is dit nie ʼn oplossing nie. Wel, nie ʼn oplossing vir die krisis wat ons veronderstel is om op te los nie.

“Hierdie krisis kan nie opgelos word deur wie wat sê by die Zondo-kommissie nie. Dit kan nie opgelos word deur wie by die ANC opsy staan of wie nie. Dit kan nie opgelos word deur sterwende staatsbeheerde ondernemings aan die gang te hou met miljarde rand wat eintlik op belangriker goed spandeer moet word nie. En dit sal beslis nie opgelos word deur dieselfde ou goed te doen wat ons in die eerste plek in dié situasie laat beland het nie.

“Moenie ʼn verandering verwag as jy nie een maak nie. My mede-demokrate, ons party is die een wat hierdie verandering moet maak. Slegs die DA verstaan dat ekonomiese groei en werkskepping belangriker moet wees as enige ander prioriteit en ideologie as ons armoede wil hokslaan.

“Slegs die DA staan vir waardes wat die regte van alle mense in Suid-Afrika beskerm en bevorder – nie net ʼn sekere groep nie. Slegs die DA respekteer die waarde van staatsgeld en duld nie korrupsie en wanbestuur van fondse nie. Slegs die DA is daartoe verbind om ʼn bekwame, doelbewuste staat te bou. Slegs die DA het ʼn nasionale voetspoor wat groot genoeg is om elke persoon in elke gemeenskap te verteenwoordig en om die dominansie van die ANC te daag.

“En nog meer belangrik – slegs die DA het reeds ʼn mandaat, deur kiesers, in metro’s en munisipaliteite om te wys hoe ons anders as die ANC sal regeer. En dit het vir ons ʼn bewese rekord verseker van uitnemendheid wat geen ander party hom kan toeëien nie.”

Die topvyf munisipaliteite in Suid-Afrika wat die beste bestuur word, word almal deur die DA bestuur. “Die beste metro word deur die DA bestuur. Die beste provinsie word deur die DA bestuur. Dis nie my mening nie – dis volgens onafhanklike oudits en ranglyste.

“Dit beteken nie hierdie plekke is perfek nie. Ons weet daar is nog baie uitdagings wat opgelos moet word en gebiede waarop ons moet verbeter. Maar dit is ʼn onbetwiste feit dat daar waar die DA regeer, is die burgers baie beter daaraan toe en het hulle ʼn beter kans om ʼn lewe te leef van geleentheid en waardigheid.

“Dis waarop ons nou moet bou: om hierdie DA-verskil na selfs nog meer gemeenskappe en mense te bring.”

Hy sê elke Suid-Afrikaner het ʼn rol om te speel om verandering mee te bring. “Ek moedig elkeen aan wat daarvan deel wil wees, om time4change.org.za te besoek. Onderteken ons belofte wat sê: ‘Ek is verbind daartoe om Suid-Afrika weer te laat werk.’ Kom ons word almal aktiewe burgers en neem eienaarskap van ons toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariana ·

DA sal moet uithaal en wys want volgens berigte het dieANC reeds van hul plekke afgevat. Hoe hulle dit reggekry het weet nugter want iemand wat nog vir hulle stem is iets mee fout. Grootste korrupspul ter wêreld.

annie ·

Riethuisen is nie die regte man vir die job nie. Alan Winde is meer ervare en minder windmakerig. Johnny gaan die pad volg van sy voorganger en gou…

Cheryl ·

Dieselde ou stories oor en oor. Dis soos om ‘n splinter nuwe baadjie oor vuil klere aan te trek. Bo blink, onder stink.

Johan ·

Ek stem saam Cheryl Nou wil die DA vir die laaste 27 jaar Hulle het vir niemand gesorg maar vir hulle self nie en nog boonop ‘n koalisie met die ANC aangaan SIES

Ovelia ·

Hoera vir di DA!! AL MY vertroue is in julle. Die anc is so slim op di stadium dat ons in Parys ni ksn registreer ni. Ons ht onlangs hier ingetrek. Maak asb n plan. Ek glo en vertrou dat jul die man met di hoed sal regsien oor di nuwe wspenwet Dis nie om dowe rede dat hul dt wil doen nie. Net di Da en solidariteit en afriforum ksn ons help

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.