DA klou vas in Tshwane

(Foto: Demokratiese Alliansie/da.org.za)

Die DA en sy koalisievennote, onder wie die VF Plus, klou tans net-net aan die mag in die Tshwane-metro in Pretoria, maar dit lyk na ʼn kwessie van tyd voor hulle dit verloor.

Die ANC in Tshwane is self in die moeilikheid nadat die DA onthul het hulle gaan met regsoptrede teen die party begin. Dit omdat soveel ANC-stadsraadslede se handtekeninge vervals is op die aansoek om ʼn stemmery oor ʼn mosie van wantroue in die burgemeester, Stevens Mokgalapa, die speaker Katlego Mathebe, en die voorsitter van komitees Gert Pretorius, in te stel.

Volgens die DA-adjunk-hoofsweep in Tshwane, Mpho Mehlape-Zimu, is dit niks anders as doodgewone bedrog nie en sal die DA toesien dat die skuldiges aan die pen ry.

Mokgalapa is deur die DA op verpligte verlof geplaas weens bewerings dat hy kollegas ondermyn het en ʼn al te hegte fisieke verhouding met een van die lede van sy burgemeesterskomitee gehandhaaf het.

Daar was hierdie week twee pogings van die ANC om die mosie van wantroue in die DA-amptenare te laat dien, maar albei is afgekeur – die eerste een weens die beweerde vervalsing en bedrog, en die tweede omdat dit te laat ingehandig het.

Die DA het ook vroeër geslaag in ʼn hofaksie om die aanstel van ʼn ANC-burgemeester en ʼn EFF-speaker op 6 Desember ongeldig te laat verklaar, omdat die korrekte prosedures nie gevolg is nie.

Dit lyk egter of die huidige bekleërs van bogenoemde posisies min dae oor het, want die ANC en die EFF steun albei die mosies van wantroue en saam het die twee partye ʼn meerderheid in die stadsraad. In ʼn demokrasie kan ʼn verkiesing nie vir altyd deur jakkalsdraaie en tegniese detail gekeer word nie.

ʼn Goeie vraag is wat gaan gebeur indien die mosie van wantroue slaag, want die ANC en EFF het selde in die verlede mekaar se kandidate vir magsposisies gesteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willie ·

Die DA is besig om weer glansparty te word. Daar is geen Ander party wat Alles omsluitend is nie. Enigste party vir die toekoms.

John ·

Waarom word verkiesings gehou as die ANC tussendeur kan maak en breek?

Akademi Buktu ·

Die blote gebruik van die woord “mag” (“power”) in die media en deur die politici bewys hoe totaal verward en oningelig die gemeenskap is oor ddie konsep van demokrasie.

Nico K ·

Ek verstaan nie heeltemal John se kommentaar nie. Die feite is dat die DA nooit ‘n meerderheid gehad het nie. Hulle het regeer met die steun van die EFF. En aangesien die
EFF lankal nie meer die DA steun nie, het almal, wat iets weet van politiek, geweet die DA se dae in Pretoria is verby.

pan ·

Die DA se raadslede veral die in die Pta moot se onvermoë om die gemeenskap te dien was die voorloper van wat sou met die koalisie raad van Pretoria gebeur dit was onvermydelik. Ek gaan my kruis maar by die VF+ voeg en ek hoop baie gaan die voorbeeld volg sodat hulle n sterk mandaat het om te onderhandel vir n onafhanklike tuisland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.