DA looi Gordhan oor eie aanspreeklikheid

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die DA sê terwyl André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom, oor die vingers getik word oor sy uitlatings oor Eskom, ontduik ander sleutelrolspelers – soos Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings – sy eie aanspreeklikheid vir die kragprobleem.

Só meen Benedicta van Minnen, DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), ná Gordhan se verskyning Woensdag voor dié komitee.

“Dit vertroebel kritieke kwessies en sit ʼn kultuur van straffeloosheid voort. Hierdie praktyke dreig om Suid-Afrika se ekonomiese stabiliteit te ondermyn en as dit toegelaat word om onbeheersd voort te duur, sal dit voortgaan om belastingbetalers te belas met die koste om sinkende entiteite in staatsbesit te ondersteun,” meen Van Minnen.

Maroela Media het vroeër berig die minister het verskeie steke ingekry en sarkastiese opmerkings oor De Ruyter gemaak. Hy het ook erken dat hy geskok was deur De Ruyter se onderhoud met eNCA en dat dié onderhoud eindelik ’n vertrouensbreuk veroorsaak het.

André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom. (Argieffoto: Eskom)

Oor De Ruyter se nuwe boek, Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, sê Gordhan dat De Ruyter se uitlatings oor korrupsie by Eskom “niks nuuts is nie”.

Met Gordhan se woorde aan De Ruyter dat “as jy in beheer is, toon ʼn mate van verantwoordelikheid”, meen Van Minnen dat Gordhan fokus verloor.

“Wat hy oor De Ruyter te sê het, is kommerwekkend gegewe sy rol as die primêre belanghebbende by Eskom. Hierdie vertroebeling van sake wat ernstige openbare kommer wek, weerspreek nie net sy etos nie, maar ondermyn ook die bestuur van kritieke ondernemings in staatsbesit.”

Van Minnen sê die waarnemende hoof van Eskom, Calib Cassim, is tans in China is en sy afwesigheid laat ʼn groot leierskapleemte in “hierdie deurslaggewende tydperk”. Die regering en die Eskom-bestuur is blykbaar ook meer begaan daaroor om aanspreeklikheid vry te spring, as om iets aan die krisis te doen.

“Hierdie gedrag, tesame daarmee dat daar geen belangstelling van die owerhede (insluitend die polisie, Valke en Spesiale Ondersoekeenheid) is om die bewerings te ondersoek nie, belemmer vordering en vererger die finansiële druk op belastingbetalers.

“Die kultuur van ontwyking word versterk deur die onmiskenbare verband tussen die sistemiese korrupsie binne die ANC en strukturele korrupsie binne Eskom. Gordhan se pogings om verantwoordelikheid te omseil deur ʼn prentjie te skets van ʼn ‘goeie ANC’ en ʼn slegte ANC’ dien net om die aandag van die sleutelkwessies af te lei.

“Sy erkenning van ʼn onvoldoende skeiding tussen party en staat, tesame met sy onvermoë om bande tussen die ANC se beleggingsarm, Chancellor House, en korrupsie by Eskom te ontken, beklemtoon die erns van hierdie probleem.

“Die implikasies van hierdie onthullings is verreikend. Dit bedreig die integriteit van ons openbare instellings en word op die belastingbetaler se koste gedoen.”

Die regering het oor die jare ’n verbysterende R331 miljard aan staatsondernemings gegee – met altesame R181,55 miljard wat na Eskom gegaan het.

“Hierdie wantoewysing van openbare geld, gedryf deur ʼn gebrek aan aanspreeklikheid, weerspieël ons huidige leierskap se verontagsaming van fiskale verantwoordelikheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Waarnemer ·

En wie sou ooit kon dink gordan is n engeltjie?Die hele spulnis korrup

Watsenaam ·

Raak ontslae van die slegte anc en eff, be-arbei almal om met die volgende verkiesing te stem en veral vir enige ander perty behalwe bogenoemde skurke. Hemel daar is ner raat vir hulle nie

B-Man ·

Ek sê ook vir almal om te stem in 2024 en vir enigiemand behalwe ANC en EFF. Bly daar is nog ander mense wat ook hulle grysstof kan gebruik.

Cherokee ·

En opnuut glimlag ek oor die kommentators in hièrdie groep, wat sò graag wou gehad het dat Gordhan homself beskikbaar stel as SP, en dàn, so het hulle gesê, sou hulle vir hom stem! So, vele van die lokale kommintators sou blykbaar ANC draai, as Gordhan net wou staatspresident word. Julle sal onthou dat ek daartydens daarop gewys het dat hy lid van die ANC was, ook tydens Umkhonto we Sizwe tyd. Winkel- en stasiebomme tyd. Nou is julle tjoepstil, nè! Duimaf my… LOL..

Theunis ·

Die DA slaan die spyker op die kop, PG vat eienaarskap en herken dat jy as die mees senior persoon wat verantwoordelik is vir die openbare ondernemings geen idee het wat werklik by al die SOE’s gebeur nie, wel nuusflits…… jy is die oorsaak vir hulle ondergang, dit help dus nie dat jy vir AdR wil blameer nie, “blame shifting” is die teken van ‘n ruggraatlose verloorder, so as die skoen jou pas, gaan gerus voort maar die skrif is op die muur.

Andries ·

Ek lees PG hou ook van di krag skippe idee… R200 miljard en 20 jaar later (heelwat later met nog komende hofsake) trek skippe ankers en woerts warts weg is hulle… Wie gaan hiervoor hoes? Ek en jy. Krag gaan (agv R200 miljard + Nersa) so duur word dat ons ‘plebs’ elk geval ni dit sal kan bekostig ni

Papsak ·

Gorden moenie hulle agterlosigheid van eskom op apartheid gooi nie dit het niks met apartheid te doen hy is net so korrupt soos al die ander

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Elke kieser wat vir die ANC gestem het is mede verantwoordelik vir die vrotsige toestand waarin Suid-Afrika hom bevind.

Herman L ·

Gordan erken dat sy kaders korrup is, maar deur nie name te noem nie beskerm hy hulle. Hy is dus net so korrup.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.