DA-LP oorlede ná stryd teen Covid-19

Cameron Mackenzie DA-LP (Foto: Verskaf)

DA-parlementslid Cameron Mackenzie is Woensdagaand oorlede nadat hy vir ʼn geruime tyd Covid-19 onder lede gehad het.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Donderdag Mackenzie se afsterwe bevestig en gesê dat dit ʼn groot verlies vir die DA is.

“Suid-Afrika het ʼn goeie staatsamptenaar verloor wat sy land met ywer en passie gedien het. Hy was ʼn waardevolle lid van ons party en ʼn dierbare vriend wat baie gemis sal word.”

Mackenzie dien sedert 2014 as lid van die parlement en het tot sy dood in die portefeuljekomitee vir kommunikasie gedien.

Mackenzie het in Januarie verlede jaar die dood vrygespring toe hy deur twee rowers in Johannesburg geskiet is.

Maroela Media het verlede jaar berig dat Mackenzie buite die ingang van die Dainfern Ridge-landgoed in die noorde van Johannesburg, waar hy woon, deur rowers oorval is. Dié twee het glo probeer om sy polshorlosie te steel.

Die rowers het glo paniekerig geraak en ʼn skoot afgevuur wat hom in die voorarm getref het. Mackenzie was andersins ongedeerd en die rowers het sonder die horlosie gevlug.

“Ná alles wat sy gesin deurgemaak het, dink ons vandag aan hulle. Ons stuur gebede en liefde na sy vrou en drie kinders toe,” het Mazzone gesê.

Medelye vir die oorlede Mackenzie het intussen van vriende en kollegas begin instroom.

Dean Macpherson, DA-LP en skaduminister van handel en nywerheid, het op Twitter gesê hy is platgeslaan deur die nuus van Mackenzie se afsterwe.

“Hy was ʼn ongelooflike storieverteller en saggeaard. Dit is ʼn groot verlies vir ons party.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KhoiKhoi ·

Innige simpatie met sy heengaan
Ek en Cameron het saam in die Johannesburgse Metroraad gedien vanaf 2011 tot 2014.
Hy is toe parlement toe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.