DA oorweeg wantrouemosie in Baai se burgemeester

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier. Foto: DA

Die DA in Nelson Mandelabaai sal na verwagting volgende maand ʼn mosie van wantroue indien in die burgemeester, Mongameli Bobani.

Dit kom ná aantygings wat in die Port Elizabethse dagblad, The Herald, gepubliseer is dat hy duisende rande ontvang het in ʼn beweerde korrupte verhouding met ʼn diensverskaffer van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS).

The Herald het vroeër vandeesmaand berig dat die Valke op Bobani se kantoor toegeslaan het en lêers en rekenaars verwyder het wat met ʼn ondersoek na die IPTS verband hou.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, het gesê in ʼn beëdigde verklaring deur die Valke word verwys na beweerde korrupte optredes waarin miljarde rande verlore gegaan het.

Bhanga het gesê die finansiële stabiliteit van dié metro is in die weegskaal vandat Bobani en ʼn ANC-geleide “koalisie van korrupsie” die bewind oorgeneem het. Hy meen finansiële wanbestuur, onlangse binnegevegte en die ineenstorting van die ANC in Nelson Mandelabaai sal ʼn regstreekse finansiële uitwerking op inwoners en die metro se ekonomie hê.

“Onder die DA-beheerde koalisieregering was die munisipaliteit se invorderingskoers 98,8% vir Julie 2018. Vandat burgemeester Bobani en sy ‘koalisie van korrupsie’, bestaande uit die UDM, ANC en EFF oorgeneem het, het die invorderingskoers in September 2018 tot 78,7% gedaal.

“As dié tendens voortduur, sal die Stad waarskynlik ʼn inkomstetekort van R500 miljoen in die 2018/’19-boekjaar hê.”

Intussen het Bantu Holomisa, UDM-leier, getwiet hy het Bobani gebel, maar dié het die aantygings ontken. Holomisa sê die UDM sal met sy eie ondersoek begin nadat hy “die sogenaamde beëdigde verklaring” bekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris du preez ·

Vinkel en koljander. Die een so korup soos die ander

rippel ·

dis hoekom hulle van Atholl Trollip ontslae moes raak. SIES!

Jan makatan ·

Atem saam
Maar wat het hulle besiel om n sangoma aan te stel. Hy is natuurlik onder die indruk dat hybo wet mens verhewe ia.

Voëltjie ·

Ek het so tydjie gelede op radio Algoa gehoor hoe mooi sê hy dankie vir die voorvaders vir die lekker reën.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.