DA pak kaderontplooiing in die hof

Argieffoto (Foto: No-longer-here/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het Dinsdag aangekondig dat hy sy hofdatums vir albei sy voortgesette sake teen ANC-kaderontplooiing ontvang het.

“Ons verwelkom ook die burgerregteorganisasie AfriForum se aankondiging vandag dat hy as ʼn vriend van die hof in die DA se saak teen kaderontplooiing toetree,” sê Leon Schreiber, die DA se skaduminister vir staatsdiens en administrasie.

Die DA se eerste saak teen die ANC, waar die party die notules en rekords van die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee in 2013 wil onthul, sal op 3 Oktober 2022 in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word. Pres. Cyril Ramaphosa was in daardie stadium voorsitter van die komitee.

Op 23 en 24 Januarie 2023 sal die tweede saak in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word. In dié saak wil die DA kaderontplooiing in sy geheel ongrondwetlik en onwettig laat verklaar. Dit is in dié saak dat AfriForum as ʼn vriend tot die hof toegetree het.

“Die DA voer al lankal ʼn oorlog teen kaderontplooiing en ons het dit die afgelope drie jaar beduidend verskerp. Ons het sedert 2019 verskeie deurbrake gemaak teen kaderontplooiing, insluitend om die notules van die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee te onthul; om die Kommissie van Ondersoek na Staatskaping te ondersteun om kaderontplooiing te ondersoek as die basis van staatskaping; om ʼn wetsontwerp in die parlement voor te lê om kaderontplooiing te beëindig; en om die ANC hof toe te sleep in twee afsonderlike sake. Dit is dus goeie nuus dat al hoe meer burgerlike organisasies, meningsvormers en kommentators van reg oor die politieke spektrum die DA se stryd ondersteun om dié bose praktyk te beëindig.”

Schreiber sê die Instituut vir Rassebetrekkinge en die Instituut vir Wêreldwye Dialoog het onlangs die DA se wetsontwerp in die parlement ondersteun.

Intussen sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, daar is ’n aantal regsgronde waarom kaderontplooiing deur die hof verbied moet word.

“Eerstens, voer AfriForum aan dat die ANC se beleid van kaderontplooiing diskriminasie op grond van politieke affiliasie uitmaak. Werksgeleenthede word met ander woorde op ’n diskriminerende wyse in die openbare administrasie sektor beperk vir diegene wat nie ANC-lede is en vir kaderontplooiing kwalifiseer nie.

“Tweedens, beskou AfriForum kaderontplooiing as teenstrydig met die Grondwet en die oppergesag van die reg. Derdens, wys AfriForum op die misbruik van kaderontplooiing en die katastrofiese gevolge daarvan wat tot die verval van regeringsinstellings regoor die land gelei het. AfriForum se betrokkenheid by hierdie saak teen kaderontplooiing gaan dus oor die beginsel dat politieke partye, wanneer hulle aan bewind kom, verbied moet word om hul staatsmag te gebruik om diskriminerende en vernietigende baantjies-vir-boeties-beleide toe te pas.”

Duvenage sê AfriForum staan vir ’n samelewing vry van enige vorm van diskriminasie en die handhawing van die oppergesag van die reg. “Daarom moes AfriForum streng optree teen die ANC-regering se diskriminerende, vernietigende en onregmatige toepassing van kaderontplooiing. Indien kaderontplooiing deur die hof verbied word, sal dit ’n reuserol speel om die verval van regeringsinstellings te kniehalter en te voorkom dat daar teen lede van die publiek gediskrimineer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman L ·

Sterkte hiermee! Mag julle suksesvol wees. Dit sal vertroue dat die regstelsel nie in geheel gekaap is nie, versterk.

Snowball ·

En wat gebeur met die kaders wat reeds die poste vol sit? Die ANC mafia is oral ontplooi. Hoop ons hulle bedank of gaan iemand hulle afdank?

Jaco ·

Net voordat almal nou te veel beskuldigings van ANC-kaderontplooiing rondgooi, onthou tog net dat dit maar in die ou SA ook gebeur het: topposte in die staatsdiens, Sanlam, ander groot Afrikaner-besighede en selfs die moderature van die 3 Afrikaanse susterkerke is meestal vir lede van die Afrikaner-Broederbond gegee. Vir dié wat nie weet nie; die Broederbond was die geheime “think tank” van die regerende Nasionale Party. Die doel met dié aanstellings was glo om “die volk” te leer en te beïnvloed om vir ewig net vir die Nasionale Party te stem. Toegegee, bekwaamheid en opleiding het toe ‘n groter rol gespeel, MAAR die beginsel van lekker jobs vir politieke pêlle kom toe sowaar al uit die ou SA. En ek weet ook maar van ‘n paar gevalle in “die goeie ou dae” waar party Broeders NIE die die beste bekwaam was vir hulle lekker jobs nie.
So, “hulle” van vandag het kaderontplooiing maar net by “ons” van die vroeëre jare geleer. Al verskil is dat bekwaamheid en ondervinding vandag niks tel nie

annie ·

Dit is tog so aangenaam om altyd te lees hoe Afrikaanssprekendes hul naaste afkraak. Selfs die Duitsers met hul erge Nazi-geskiedenis doen dit nie. En telkens word die Broederbonders as die mees geheimeinnige-vernietigende skiewies nadergesleep deur ‘die wat weet’. Vir soveel agterlikheid en onnoselgeit is daar nogal heelwat in ±40jaar opgebou: ‘n 1e-wêreldekonomie, Sasol, Eskom-stasies, skole, universiteite, hawens, paaie, kerke, staatsgeboue ens wat nou platgery word deur beterweters & kie. Selfs Engelse geskiedskrywers oor SA is meer genaakbaar en eerlik as onse eie naaste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.